Читать книгу Al is die maan 'n misverstand - Danie Marais - Страница 17

Groot was my verbasing

Оглавление

Ek het baie lank vergeefs

probeer gesels met God

en die vrou in my lewe.

God het sy krieke harder gesit,

hoog- en laagdrukgebiede gestuur,

bedags onverstaanbaar gefluister met ’n stem soos reën

en my snags met die maan gepla.

Die vrou in my lewe wou liewer hê

ek moes nou en dan die man in haar lewe wees –

sy het gesê ek moet op die maan gaan speel.

Sy was besig.

Sy sou roep as sy my wou eet.

Groot was my verbasing, dus,

toe ek jóú soen,

en God vir my soggens die son begin stuur.

Ek kon my ore nie glo nie

toe my vrou voor getuies

haar pers liefde bely.

Snaakse dinge het begin gebeur.

Ek het oor jou vel gestreel

en die bang nag het katsag in my skoot opgekrul.

Jy het gehuil en die son het my alles vergewe.

Elke keer dat jy geglimlag het,

het ’n volstruis leer vlieg;

elke keer dat jy gelag het,

het ek “I do” genies.

Jy het my in die bosveld in jou behoeftigheid laat inkruip

soos in skoon beddegoed in diep in in

en ek het ontsnap met ’n sug

toe my leë lyf teen jou tot ruste kom –

’n nuwe munt onder in ’n wensfontein.

Al is die maan 'n misverstand

Подняться наверх