Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 10

HOOFSTUK II Kaperjolle van die kunstenaars I

Оглавление

Henry word om agtuur wakker en kyk vas in twee brons oë. Op die tafeltjie langs sy bed het iemand ’n konfoor van versierde geelkoper neergesit. Die handvatsels skarnier in die baardpunte van twee sataniese gesigte en die koppie, waarin hy aanstons sy koffie sal tap, is so groot soos ’n bakkie. Na­dat hy dit eers ’n hele rukkie beskou het, draai hy die kraantjie oop en vul die koppie. Dis heerlike Mokka-koffie en hy drink twee koppies vinnig na mekaar.

Die geluide van alle huishoudelike enjins het opgehou en die hele Wel­gevonden is besig om produktief te raas. In die verte dreun vragmotors, swaar masjinerie en allerhande onbepaalbare toestelle wat iets te doen het met die wynbedryf. Orals in die huis en buitekant klink mensestemme. Hy besluit dat dit tyd is om op te staan en gaan na die badkamer waar twee enorme, swart leeukoppe oor ’n geteëlde wel hang. Hy druk die knoppies op die snoete van die leeus en hulle braak twee strome water, warm en koud, uit hulle gapende bekke. Die bad is binne ’n ommesientjie gevul. Terwyl hy in die water ronddryf, beskou hy die wit, swart en bottelgroen kleurskakerings van die vertrek. Toe hy in sy kamer terugkom, vind hy dat iemand intussen sy kos ingebring het. Nadat hy klaar geëet en klaar aangetrek het, gaan hy na buite en ontmoet Jock op die stoep – geklee soos ’n boer in ’n kakiebroek, -hemp en velskoene.

“Kom,” sê Jock. “Ek wil jou ietsie van die boerdery wys,” en hy neem hom aan die arm.

Hulle stap langs die huis verby, onder oorhange deur, óór houtbruggies, langs stroompies water, tussen buitegeboue en dan onverwags weer by ’n vleuel van die huis verby ál met ’n pad op waar, in die verte, teen die heuwel uit, die geraas gelokaliseer is in ’n stel geboue wat die kelders en bedryfsinstallasies huisves. Namate hulle dit nader, kom talle vragmotors verby met kissies wyn en brandewyn piramiedvormig daarop gestapel. Al die vragmotors is groen, van presies dieselfde fabrikaat, en die bestuurders is in eenderse geel uniforms geklee. Die naam “Welgevonden” is op alle beskikbare skryfruimte aangebring. Voor hom gewaar Henry ’n voorwerp wat só helder in die son blink dat hy dit eers nie kan uitken nie: dit lyk soos ’n breë, wit vlam wat die hoogtes inskiet. Ná ’n rukkie sien hy dat dit ’n reuse-staaltenk is. Bo-op die tenk is ’n gegalvaniseerde dak wat met silwer ysterstawe aan die konstruksie vasgesweis is. Langsaan, toe hulle dig teenaan kom en die metaal amper beweeg soos dit blink, gewaar Henry ’n trappie wat tot dóér bo lei waar ’n soort uitkykplatform in die lug sweef.

“Hierdie tenk is sestig voet hoog en vyftig voet in deursnee,” sê Jock terwyl hy begin klim. “Dis die grootste in sy soort in die hele wêreld.” Hy moet hard oor sy skouer skree terwyl die wind teen hulle begin ruk namate hulle hoër en hoër styg. “Ons gebruik dit vir die opberging van stookwyn,” bulder hy. “Hiervandaan word dit outomaties na die deur­lopende verstokingstelsel gepomp.” En nog steeds styg hulle terwyl die wind Jock se hemp laat fladder en hy kort-kort sy hoed stywer op sy kop moet druk. Nadat hulle die uitkykplatform bereik het, leun hulle teen die tralies om eers op asem te kom. Die uitsig is nie alleen asemberowend nie, maar beslis angswekkend.

“Kom,” sê Jock, terwyl hy sy hoed afhaal en Henry na ’n bankie lei. Langsaan is ’n teleskoop gemonteer en hy begin aan die skroefies draai. “Ek gebruik hierdie toestel in die nag om na die sterre te kyk. Bedags is dit handig om alles te sien wat aangaan. Ek kan selfs tot in die kamers van die huis sien.” Hy glimlag en die wind waai sy hare deurmekaar. “Ek wil eers hê dat jy na die gewels van die huis en buitegeboue moet oplet. Daar is agt soorte: vroeg-skuins, concavo-convex, laat-skuins, barok, laat-skuins met visstert-kappie, Vlaams, laat-skuins met barok-kappie en trapvormig.” Hy het die teleskoop klaar ingestel en sit nou in die bankie terug. “Het jy lus om na die gewels te kyk, of sal ons liewers vasstel wat in die kamers aangaan? Liewers die kamers, nè? Ek eerste? Miskien is dit beter, want dan kan ek sien of alles behoorlik ingestel is. Die instrument is baie sensitief.” Hy bring sy een oog teen die kyker en hou die ander oog oop soos dit iemand betaam wat ondervinding het. Hy draai die kyker heen en weer en fikseer dan op ’n punt. Hy staar lank en aandagtig na iets en dan leun hy weer terug, ken in die hand, terwyl die wind van voor af aan sy hare vroetel.

Henry loer ook deur die teleskoop, maar dit duur ’n geruime tyd voordat hy iets kan uitken en dan gewaar hy meteens J.J. se gesig vlak voor hom. Die R.A.F.-moestas se punte staan soos bewegende vleuels aan weerskante uit terwyl hy die oggendlug met diep asemhalings intrek en uitblaas. Sy wange is bolvormig, sy oë uitgepeul, sy hare oor sy voorkop, sy bors onder sy geblomde japon nou blootgestel as twee vrouearms van agter af om sy lyf beweeg. Die slank Mrs Silberstein se gesig verskyn bokant sy skouer, kantel skuins en nestel teen sy nek.

“Het jy enige kennis van heksery?” vra Jock.

“Nee,” sê Henry en kyk op terwyl die teleskoop nog steeds op die toneeltjie gerig is, wat meteens uit die gesigsveld van die blote oog verdwyn.

“Daar is so baie wat jy in ’n kort tydjie moet leer,” sug Jock. “Of, stel dit liewer só: daar is so baie dinge wat jy sal moet leer en verleer. Al daardie dinge wat jou nou beskerm. Jou onkunde, jou onskuld, byvoorbeeld. Maar só kan jy nie deur die lewe gaan nie. Só eenvoudig is die lewe nie.” Hy steek sy pyp met moeite op en is op die punt om die vuurhoutjie in die rigting van die oop tenk te gooi voordat hy hom bedink en dit terug in die dosie sit. “Daardie staat van valse genade hou in die een of ander stadium vir ons almal op. Dis die tragedie van ons menswees, dat jy verplig is om eendag meteens bewus te word van die donkerte in die hart van die mens, en, teen jou sin, let wel, kennis te neem van goed en kwaad.”

Henry oorweeg dit terwyl hy agteroor op die bank lê en kyk na die drywende wolke wat soos bootjies lyk wat reg op hom afgeseil kom.

“Ek dink ek kan tussen goed en kwaad onderskei,” sê hy.

“Dan moet jy ’n engel wees.” Jock vou sy hande agter sy kop saam en kyk self na die wolke wat nou soos ’n armada saamdrom. “Kwaad, volgens jou geloof, is die verbreking van die goddelike wet; die wet is die bepalings wat steun op goddelike gesag. Vir die engel is alles saamgevat in die woordjie, ‘serviam’ – die volkome, allesomvattende besef van afhanklikheid van die Skepper. Vir die mens, volgens die beperktheid van sy natuur, is die wette saamgevat in die Tien Gebooie.”

“Ek ken die Tien Gebooie,” sê Henry. Die gesprek verveel hom alreeds.

“Al die uitdruklike bepalings … Verveel die gesprek jou?” Jock beskou Henry bo-oor sy pyp.

“Nee,” sê Henry.

“Ek het so gedink,” sê Jock. Hy buk meteens vooroor. “Die moeilikheid is net … Hoe kan ek dit stel? Die moeilikheid is net dat die mens in sy hoogmoed nie altyd kan onderskei tussen eiebelang en die goddelike plan nie. Jy kan nie jou hande in onskuld was nie; kwaad is ’n mag wat toeneem, nie alleen in omvang nie, maar ook in vorm. Daarom is onkunde so gevaarlik. Nie ten opsigte van ’n gebrek aan kennis van die goeie nie, maar die ewe groot sonde van ’n gebrek aan kennis van die kwaad.”

Henry toon geen teken van sy aangroeiende ongeduld nie; hy steek dit goedgemanierd weg. Hy maak egter gebruik van ’n tussenpose om opeens weer deur die teleskoop te kyk. Daar is geen teken van J.J. en die slank Mrs Silberstein nie. Hy beweeg die instrument met ’n minimale beweging regs en plaas homself binne ’n ander kamer. ’n Naakte meisie is besig om haarself in ’n spieël te bewonder. Sy strek eers haar arms sywaarts uit en loer oor haar skouer, dan laat sy haar arms sak en staan roerloos. Eenkeer kyk sy reg in Henry se rigting en hy sien haar donker oë en swart hare. Sy is so slank soos ’n nimf. Hy wil vir Jock vra of dit nie dalk Salome is nie, maar hy durf nie om welvoeglikheidsredes en ook omdat Jock besig is om ’n sin te voltooi.

“. …n dis die tragedie van volwassenheid dat jy jou onskuld moet verloor, en eerder ten gronde moet gaan in die kwaad as om in onskuld te leef, dat jy die duiwel eers moet leer ken voor jy die poorte van die hemele kan ingaan.”

Die wind waai nou so hard dat hulle besluit om te loop. Voordat hulle die trappies afklim, kyk hulle eers in die kolossale tenk af waar ’n meer van stookwyn op en af dein.

Jock spoeg meteens daarin.

“Dit maak nie saak nie,” sê hy vir Henry. “Alkohol is die beste ont­smettingsmiddel wat daar is. Maar dink net daaraan …” Hy spoeg weer. “Iemand hier en oorsee, miskien in China, Japan, Engeland of Amerika, sal ’n infinitesimale gedeeltetjie van Jock Silberstein se spoeg drink.” Hy kyk verwagtend na Henry. Henry spoeg ook. Jock slaan hom op die skouer. Hy lag hardop en sy lag verdwyn in die wind. “Dink net daaraan: die spoeg van Jock Silberstein en Henry van Eeden oor die wêreld heen versprei! Dis ’n band tussen ons, is dit nie?” En hulle begin versigtig afklim, want die wind het nou baie sterk ge­word.

Hierdie keer loop hulle met ’n ander paadjie langs terug. Jock het meteens alle belangstelling verloor. “Ek sal vir jou môre die stokery en die kelders wys,” sê hy vir Henry. “Nou het ek lus om te gaan swem.”

Hulle moet deur ’n denneplantasie gaan waar ’n koel pad die bos in twee verdeel. Ná ’n rukkie draai hulle af en volg ’n paadjie deur die dennenaalde na die huis. Die son is volkome verberg en die blou lug is in skrefies gekerf deur die takke wat stadig in die wind beweeg. Die mat van naalde wieg op en af as hulle loop, en ’n heerlike dennegeur styg van die verstoorde bodem op.

“Hoe heerlik afgesonderd is dit nie,” sê Jock. Hy het sy gesig opgehef en stap met veerkragtige tred sodat Henry moeite vind om by te bly. “En hoe skaars is afsondering nie! Dis net jou badkamer, ’n enkele bos, ’n moeilik bekombare plek wat jou ’n uitvlug bied. Mens word vandag gedwing om saam met jou medemens te lewe.”

Meteens bevind hulle hulle op die rand van die plantasie en van daar gaan hulle deur ’n graskamp waarin ’n paar Switserse stoetkoeie wei. Molshope laat hulle af en toe struikel en bemoeilik die weg. By die houtheining hoor hulle die geklap van perdepote. Henry kyk op en is net betyds om die silhoeët van ruiter en perd teen die lug te sien: die gekromde pote, die maanhare, die syagtige sweetvosvel, die slank meisietjie in ’n rybroekie, wit hemp en hoedjie waarin haar donker hare saamgevat is, haar gesiggie styf teenaan die nek van die perd. Dis asof hulle ’n oomblik in die lug huiwer, asof hulle daar geteken is – en dan land die perd op die sagte gras, struikel effens terwyl die elegante ruiter weer orent kom, en die volgende oomblik verdwyn hulle in die rigting van die bos.

“Was dit Salome?” vra Henry.

Jock kyk na die plek waar hulle laas ’n bewegende stippeltjie gesien het.

“Dis moeilik om te sê. Dis moontlik Salome; dis moontlik nie sy nie. Ek het nie so goed opgelet nie.”

Hierdie keer is hulle weer in ’n pad, digby die huis. ’n Vragmotor jaag verby en gooi hulle toe onder die stof.

“Het jy opgelet,” sê Jock, “hulle weet nie eens wie ek is nie. Hulle ken nie die baas nie, want die baas is onsigbaar. Dink jy ek behoort ’n uniform te dra?” Hy glimlag vir Henry. “Welgevonden is ’n super-masjien en niemand is onontbeerlik nie. Ons is ’n groot organisme, ’n super-demokrasie wat tegnies perfek werk. Die enkele menslike geval het ’n kliniese begrip ge­word; die menswees is ’n abstraksie; ons werk almal as span saam in die laboratorium.” Hy plaas sy hand op Henry se skouer. “Welkom in die organisme, Henry.”

Henry kyk op na die gesig bokant hom.

“Maar ek voel alreeds tuis, meneer Silberstein.”

Jock gaan ’n oomblik staan en beskou die jongman aandagtig.

“Ek dink werklik jy is alreeds deel van die opset. Dis eienaardig hoe gou die jongmense hulle individualiteit prysgee.” Hy begin weer loop. “Jy moet net van jou onskuld ontslae raak. Jy moet eers die ware aard van die duiwel en die erfsonde behoorlik besef. In hierdie tyd moet die kennis van goed en kwaad deeglik wees. Dis nie meer so eenvoudig soos eers nie; jy moet leer om van konkrete beelde te vergeet en gewoond te raak aan die abstrakte vorm.” Hulle nader nou die tuin en baan hul weg met moeite tussen die oorhange deur. “Onthou,” sê Jock en hou ’n tak opsy sodat Henry eerste kan deurgaan, “ons belangstelling is nie meer in die enkeling en die gesig wat hy vir almal voorhou nie; dis die anonieme mensheid as geheel.” Jock sukkel om sy groot lyf deur die ruigtes te kry. Soms kan Henry hom glad nie sien nie, hy hoor net die gekraak agter hom. “Ewige waarhede word nie van tydperk tot tydperk outomaties oorgedra nie – in elke epog moet hulle van nuuts af gevind word. Daar is elke keer ’n nuwe Self en ons s’n is gesigloos.” ’n Tak breek en Jock verskyn, sy gesig rooi van vermoeienis. Maar sy stem dreun onverpoosd voort. “Daar word nie tyd verspil op die persona wat jy vir jou familie, vriende en kennisse voorhou nie. Nee, Boeta. Daar is geen illusies meer nie. Ons het van die vrug van kennis geëet die laaste dekade. Jy, ek, Salome en ons almal aanvaar die enkele persoon etiketsonthalwe, maar ons soek agter die gemeenskaplike masker. Ons vra op ’n ander manier: wie is ons?” Hy loop nou voor tot op die grasperk van waar hulle een kant van die huis kan sien. “Die nuwe era het begin. Die manjifieke enkeling lê dood op die ashoop. Die karnaval is verby!” Hy wys na die huis. “Die ou Welgevonden bestaan nie meer nie – die Welgevonden waarmee die monumentekommissie so dweep. Daar is ’n nuwe waarheid, ’n geringe deurskemering waarvan ons nou eers ’n aanduiding kry. Dis net jammer dat ek soms …” Hy bly meteens stil en skud sy hoof. “Het jy jou swemklere saamgebring? Toe, gaan trek jou aan. Ek kry jou binne vyf minute hier.”

Toe Henry ná ’n soektog sy kamer vind, klaar sy swemklere aangetrek het en na buite gaan, kon hy Jock nie weer kry nie. Ná ’n verdere soektog ontdek hy die swembad. Dis volgens Olimpiese standaarde gebou en die water is helder blou. ’n Hele aantal meisies, effens bedek deur bikini’s, lê eenkant in die son en verkeer in verskeie stadia van oksidasie – van lig brons tot donker koper. Hy is verbaas om die twee Misses Silberstein daar te vind, skreeulelik maar, kom wat wil, ook in bikini’s.

Hy staan ’n oomblik besluiteloos en hy voel hoe almal se oë op hom gerig is. Een van daardie groepie met die bruin hare en donker oë moet Salome wees. Hy voel dat dit tyd is dat hy een of ander toenadering tot sy beminde moet maak. Hy besluit op die enigste uitweg. Hy kyk in die rigting van die groep meisies en roep meteens: “SALOME!” Dis asof sy stem vasslaan teen die gesigte wat roerloos na hom gekeer is, asof hy teen ’n muur vasskree sodat daar nie eens ’n eggo terugkom nie, asof hy selfs nooit geskree het nie. Dis afgryslik, die stilte, en hy staan alleen terwyl ’n onbekende emosie binne-in hom huiwer op die punt van geboorte. Dan, meteens, herhaal een van die meisietjies: “S-a-1-o-m-e” en “Salome, Salome, Salome!” kom dit van mondjie tot mondjie soos lieflike klein eggo’s.

“Waar was jy al die tyd gewees?” vra J.J.

Onbeskaamd met sy ronde magie, met sy bikini wat in die naeltjie verdwyn, lê hy langs die slank Mrs Silberstein wat net so mooi en ver­houdelik reg gebou is as die jongste en mooiste van die meisies.

“Jy en Jock,” herhaal Mrs Silberstein. “Waar was julle die hele tyd gewees?” Sy lag meteens. “Het hy vir jou sy teleskoop gewys?” Sy beduie vir Henry. “Kom sit hier.” En, toe hy langs haar gaan sit … “Het jy vir Salome geloer?”

Jock het ’n rukkie later verskyn: ’n indrukwekkende gestalte, atleties gebou, ’n netwerk van spiere wat met elke beweging vermenigvuldig, en hy het van die boonste duikplank eers in die lug opgestyg, dubbel gevou, roerloos gehang en toe afwaarts geskiet tot in die water waarin hy sonder ’n geluid verdwyn het.

Die middagete is deur ’n slaweklok aangekondig.

’n Regte klein blackamoor het die klepel met ’n toutjie teen die bel aan­geruk en op metronomiese maat sewe klanke die middaglug ingestuur.

Die gas­te het as ’n groep die huis genader en enkelvoudig en paar-paar in die kamers versprei. Toe dieselfde klein mannetjie (’n Blantyre sonder permit en met skerpgevylde tande) die twee ronde metaalskywe van ’n bekken teen mekaar slaan en ’n dreunende geluid van ondefinieerbare toonhoogte voortbring, vergader hulle en masse in die eetkamer by ’n volgelaaide tafel waar die slank Mrs Silberstein almal se plekke aanwys en in die proses sorg dat J.J., geurig en vars gekruie, vlak langs haar plaasneem.

Daar is nie hardop gebid nie, maar daar was ’n oomblik, nadat die kos bedien is en die borde tot uitspattige hoogtes gevul is, dat ’n verposing ingetree het waarin elkeen tot sy en haar gode, god en niks, momenteel gekniebuig het.

Die slank Mrs Silberstein het Jock aan die een kant van Henry geplaas, en aan die ander kant ’n lieflike brunet wat Henry die hele tyd suspisieus dopgehou het.

“Om terug te keer tot ons gesprek van vanmôre,” sê Jock, terwyl hy kouend na Henry toe leun en sy woorde met ’n silwermes beklemtoon, “kwaad, die gevreesde malum, is net so subtiel en ingewikkeld as die goed, bonum.” Hy maal sy kos met sterk, wit tande. Hy is die enigste een wat nie vir die geleentheid verklee het nie en volgehou het met sy boeredrag. “Volgens ons Joodse geloof is alle kwaad ’n negasie, maar ek sien dit as een van twee positiewe magte wat lynreg teenoor mekaar staan. En ek sien alle ellende as die produk van onkunde: meer as onkunde ten opsigte van negatiewe en positiewe eienskappe, maar onkunde ten opsigte van ewewig, die twee teenoorgestelde pole wat mekaar balanseer.” Hierdie keer wys hy na Henry met sy silwervurk (die merk van die vorige eienaars van Welgevonden stigtelik daarop bewaar). “Pasop vir jou jaloers-bewaakte onskuld; jou geestelike maagdelikheid wat jy soos ’n stuitige jongmeisie bewaar. ’n Blinde man struikel aanhoudend en veroorsaak leed, teenoor homself en teenoor ander. Onkunde bring kwaad; onskuld is blindheid van die gees.”

Hy sit sy mes en vurk neer en begin sy tande met ’n ivoorkrapper skoon­maak.

“Met kennis sal die leeu en die lam bymekaar slaap.”

Ten spyte van die oorvloed op sy bord, het hy matigheid toegepas en die res gelaat vir bediendes, katte en honde.

“Moenie my as Jood beskou nie,” sê Jock. “Ek is die afvallige. Met jou en Salome sal dit die finale oorgawe wees: die mensheid sonder tooisel van ras, die volkome anonimiteit. Dit grief ou Mrs Silberstein. Het jy al opgelet dat sy nie oorloop van entoesiasme nie?”

“Ja,” sê Henry.

“Jy moet jou nie aan haar steur nie.”

Hy steek ’n sigaar aan.

“Van Salome gepraat, hoekom is jy so afsydig teenoor haar? Ek het julle nog selde bymekaar gesien. Of is dit die hedendaagse vorm van hofmakery? Ek moet erken dit kom vir my ’n bietjie steriel voor. En Salome so shegal as wat jy maar kan wens.”

Voor almal opstaan om koffie op die stoep te drink, maan Jock hulle om goed van die middagslapie gebruik te maak aangesien die partytjie die aand heelwat energie sal vereis.

Die Silberstein-trilogie

Подняться наверх