Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 15
II
ОглавлениеHulle wandel in die sonskyn terug na die huis. Kort-kort loer Henry na die groot man langs hom wat opgewek voortstap en sigbaar sy behae in die heerlikheid van die natuur openbaar. Sy hemp is oopgeknoop en sy bors is ontbloot. Hy het sy hoed in sy hand en beduie met ’n wye swaai van die arm alles wat hy mooi vind. Sy gedagtes borrel uit; dis asof sy genot direk tot woorde herlei word. Toe hulle in die middel van ’n klawerland kom, in hulle kortpad na die huis, vlei hy hom meteens neer.
“Kom ons rus ’n bietjie,” sê hy vir Henry, “voor ons mekaar netnou in die gedrang verloor.”
Nou kan Henry hom goed beskou. Hy merk op dat Jock se oë nie altyd dieselfde kleur het nie. Hierdie keer is die blou donkerder. Al sy ledemate, tesame met sy gelaatstrekke, is ’n bietjie groter as die normale. Dit strook met sy emosies wat ook die normale grense oorskry. Hy lê op die gras, kouende aan ’n sprietjie, en Henry voel dat hierdie oomblik van rus en langsame gesprek die voorteken is van ’n ewe groot swye wat spoedig weer oor Jock sal kom.
“Onthou jy wat ek gister gesê het?” vra Jock. “Omtrent die gesigloosheid van die Syn?” Hy draai hom op sy rug en kyk na die lug. “Dis omdat die enkeling sy dramatiese beeld verloor het. Daar is te veel mense in die wêreld. Daar is ’n wesentlike onverskilligheid oor die lot van die enkeling, daar is slegs ’n deernis vir die groep, die groter eenheid.” Nou lê hy plat op sy rug, onrustig in sy gedagtes. “Daar is nie meer enkele karakters nie; ons is almal bloot geleibuise. Ken jy byvoorbeeld vir Salome?”
“Dis wat ek al lankal probeer uivind,” sê Henry. “Ek weet nie wie Salome is nie. Niemand het nog vir my gesê wie sy is nie. Ek soek nou al twee dae na haar.”
“Presies,” sê Jock. “Niemand stel werklik belang in die enigheid van die ander se karakter nie. Ons is ’n samestelling van gesigte en ons besef die futiliteit om iets wys te word van die veelsydige patrone. Die ware self is totaal, is deel van die naamlose menigte. Elkeen van ons is bloot ’n geleibuis van die stroom van opgegaarde kennis. Dis ’n benouende gedagte. Ons het geen enkele beeld meer van enige aard nie.” Hy sit meteens regop. “Henry! Henry! Dink daaraan! Dink aan die ontsettende ramp van die verdwyning van die enkele mens hoe nader ons aan die wesenswaarheid kom!” Hy bring sy enorme hande saam en pers sy gedagtes uit. “Voel jy die eensaamheid, die alleenheid?” Hy kyk angstig in die gesig van die jongman langs hom, bevrees dat wat hy probeer oorbring, verlore sal gaan. “Weet jy wat hierdie alleenheid en eensaamheid is?” Hy vat aan albei Henry se skouers. Sy woorde kom sag en nadruklik. “Dis net die presiese teenoorgestelde. Ons is nie alleen nie. Ons besef aldag meer en meer ons gesamentlike aandeel in die lot van die mensheid. Die eensaamheid is die verlange, die pyn by aanskouing van die valse beeld van die enkeling wat stuksgewys met ons nuwe insig verdwyn. So verlang ons altyd na die vorige tyd wanneer ons in die nuwe tyd gebore word. Jou soektog na Salome is gedoem tot mislukking.”
Hy staan meteens op en begin loop, gedryf deur daardie iets in hom wat hom steeds aanjaag. Hy beweeg nou so vinnig dat Henry moeite vind om by te bly.
Die komplekse stel geboue wat Welgevonden is, doem voor hulle op.
“Welgevonden is alreeds ’n bespotting van die afgelope beskawing. Die werklikheid is ons hier saam: die dreunende masjinerie, ons gesamentlike pogings, ons partytjies en die chaos van ons gedagtes.”
Hy loop steeds vinniger en Henry begin geleidelik agterbly.
“Onthou, Henry, ons het ons beelde verloor. Daar is geen enkelinge nie. Daar is net die karikatuur van Jock, Salome, al die ander en jouself!” Nou hoor Henry net sekere woorde. “Salome … Henry … Jock … Daar is geen …” En Henry bly alleen oor as Jock tussen die bome om sy kolossale huis verdwyn.
Henry is nou alleen en drentel tussen die mure en deur die tuin op soek na die inwoners van Welgevonden. Hy is vervul met ’n warboel van standpunte en belas met soveel teorieë oor die essensie van menswees dat alles ineenvloei tot ’n menigvuldigheid van patrone waarin hy, en almal wat hy ken, soos lewende selle onder ’n mikroskoop telkens van beeld verander en met elastiese vormloosheid in- en uitdy tot oneindige samestellings. Selfs die omgewing is ’n spieëlbeeld van hierdie onstandvastigheid: één oomblik lyk die aangesig van die gebou só, die volgende oomblik word dit ’n totaal ander plek. Hy raak naderhand heeltemal sy rigting kwyt. Hy loop hom vas teen mure wat bots teen ander mure en in die hoogte uitskiet na geweldige gewels van wisselende patrone; dan, weer, blink vensters in sy gesig wat sonlig inlaat in onbekende kamers, leeg van onbekende mense. Orals is daar skoorstene van besondere ontwerp wat elke keer die komplekse huis anders laat lyk: vanaf die reghoekige, blokvormige soort met vier pilaartjies bo-op, bedek deur ’n plat steen, tot ander met verwikkelde, spiraalvormige draaiings – almal wisselend met iets van die een en iets van die ander tot losgelate, dronkmanskombinasies in steen en kalk gedroom.
Meteens lui die klok. Êrens agter die nagmerriemure is die klein black-amoor besig om die inwoners van Welgevonden tot die tafel te roep. Henry gaan by deure in en by deure uit, déúr kamers wat nog warm is van pas uiteengegane mensheid, waar die naklank van hulle geselligheid nog in die lug hang en halfvoltooide bewegings lewe in verstoorde voorwerpe. Maar die klank is misleidend. Dit lok hom van een rigtingverandering na die ander en lei hom in totale moedeloosheid tot voor ’n groot deur wat hy halfhartig oopmaak en waaragter hy meteens die vergaderde gaste vind.
In die skemerdonker van die vertrek sit hulle daar, al die vriende en die steeds wisselende onbekendes wat as ’n patroon nie onbekend is nie, aan weerskante van die ellelang stinkhouttafel waarop ’n wit tafeldoek ’n glansende grondvlak vorm vir die silwergerei. Die Silbersteins en hulle vriende aan weerskante van die silwer: ligsilwer vleisdeksels in ’n pylreguit ry, donkersilwer sout- en peperpotjies, swaar Welgevonden-Hugenotesilwervurke en -lepels en horinghefmesse met verslete silwerlemme, en bonkig, swartgevlekte antiek-silweruitskeplepels langs komme groente, slaai, rys, kerrie, kaboemielies en iets wat rokend warm wag in bolvormige silwerskottels. Hulle sit daar, regop en strak, gereed vir die groot aanslag op die middagmaal, jonk en oud, met fatalistiese hedonisme, in hulle epikuriese uitdaging van die son en die humiditeit, bereid om die gastronomiese foltering te ondergaan in hierdie klimaat wat liggies betower terwyl dit die liggame kasty en siele dwing tot die een, enkele, onverstaanbare God.
“Henry, jy’s laat,” vermaan J.J. sy nefie uit pligsbesef. Hy fluister iets grappigs vir die slank Mrs Silberstein wat met ’n bleekwit hand die toekomstige seun van die huis na ’n oop plek langs haar wys.
Henry kyk na die meisie langs hom. – Sy is seker die mooiste van hulle almal, en hy het haar al vantevore opgemerk, hierdie een, so geraffineerd en goed versorg, so ’n toonbeeld van verfyndheid en berekende afsydigheid, met haar hoogmoedige selfvertroue, en die volmaaktheid van haar figuur, gelaatstrekke en toilet, dat ’n mens tevergeefs soek na die geringste tekens van onreëlmatigheid, swakheid of onsekerheid om jou selfvertroue te behou.
Buitekant het die heerlike sonnetjie van die oggend ’n bose vuurbal geword wat die lug in ’n bakoond verander.
Jock verwys na die partytjie wat voorlê, en die middagslapie. Hierdie keer verduidelik hy die aard van die onthaal: hulle boerevriende, en hy glimlag vir Henry.
Net soos die vorige middag het Henry in ’n doodslaap verval en wakker geword toe die ligte-enjin alreeds begin werk het. Na die avontuur van die bad en die ontdekking dat die ander oog van die leeu ’n heidegeur verskaf, bekommer hy hom van voor af aan oor die aand se kleding.
Daar is geen vreemde voorwerp in die kamer nie, en hy kom dus tot die slotsom dat dit nie ’n gekostumeerde bal sal wees nie. Hy probeer die probleem oplos terwyl hy in sy onderklere op die bed sit en rook. Met die eerste ingewing sou mens sê dat hulle kleding onvoorspelbaar is en bepaal word deur die willekeurigheid van plaaslike gewoontes; maar aan die ander kant kan mens tog rasionaliseer en ’n aanduiding vind ooreenkomstig die aard van hulle beroep. Die rykes, byvoorbeeld, is bekend vir hulle argelose kleredrag; die kunstenaars vir die ongewone. Maar wat van die boere? Die konserwatisme van ’n gewone pak klere sal miskien die aanneemlikste oplossing wees, maar hy is dadelik op sy hoede omdat hy in die laaste tyd geleer het dat die lewe ’n logika van sy eie het wat oppervlakkig onlogies voorkom. En tog, by nadere beskouing, is daar ’n eenvoudige en aanneemlike verklaring vir alles. Nee, ’n pak klere sal té veel in ’n alledaagse patroon pas; slenterdrag is té onversoenbaar met hulle lewensuitkyk; enigiets eksoties soos maskers en fantasie-kostuums is té uitspattig vir hulle lewenspatroon. Maar wat van gewone boeredrag soos dié wat hy en Jock die môre aangehad het? Uit ’n praktiese oogpunt is dit die skaflikste vir geval van ’n vleisbraai; uit ’n subtieler motief is dit pikant genoeg met daardie tikkie van selfbespotting wat elkeen teenoor sy beroep nahou; in die algemeen beskou is dit betekenisvol dat juis daardie klere in sy kamer geplaas is.
Henry trek dus die kakiehemp en -broek aan, rol sy moue op en begeef hom na die partytjie. Hy beweeg in die rigting van die stemme, maak die deur van die voorhuis oop en vind die gaste in die helder verligte saal, onberispelik geklee in aandpakke en aandrokke. Terwyl die stemme met sy verskyning wegsterf en almal in stomme verbasing na die eiesoortige voorwerp kyk, word dit meteens vir hom duidelik: Natuurlik! Die boere is die aristokrasie van die land.