Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 19
II
ОглавлениеDie gebou is ontwerp deur ’n Kaapse argitek wat hom ten doel gestel het om die gees van die Kaapse styl in die moderne fabrieksontwerp behoue te laat bly. Die groot saal wat hulle nou betree en waarin die verskillende wyne gebottel word, is verlig deur groot ou Hollandse vensters met klein ruitjies; die vloer is van Bataafse stene; die plafon van geelhout met swaar kruisbalke. Jock druk ’n knoppie en al die vensters gaan oop. Hy druk nog ’n knoppie en stadig gly hulle toe.
“In hierdie saal,” sê hy, “word al die rooi en wit wyne gebottel.”
Glaspypies spruit aan weerskante van die mure uit. Hulle word outomaties gekoppel aan bottels wat horisontaal aangeseil kom op ’n band om dan meteens vertikaal gelig te word vir die oomblik van kontak wanneer die gevulde bottels, presies tot die nek in rooi en goud, staande deur ’n tonnel in die muur verdwyn.
Aan die kant van die wit wyn is ’n reeks kleurlingmeisies in wit, en aan die kant van die rooi wyn is ’n reeks blanke meisies in bruin uniforms geklee. Dis nie duidelik wat hulle doen nie. Hulle hande beweeg; hulle betas die bottels; hulle draai aan instrumente en hulle is druk besig met ’n werk waarvan die presiese aard die waarneming van die oningeligte toeskouer ontsnap. Maar daar is ’n ritme in die wyse waarop hulle hande beweeg – ’n sekerheid en ’n behendigheid wat op gewoonte dui.
“Apartheid,” sê Jock Silberstein. “Volkome apartheid. Ten spyte van die wêreldopinie is dit nader aan die gees van die tyd as wat die mens dink. Dis ’n individuele bydrae tot die geheel, ’n bewaring van die onderliggende identiteit ter bereiking van die algemene doel.” Hy glimlag vrolik vir Henry. “Ek vind dit poëties.”
Dis mooi om die glansende leë bottels te sien. Hulle kom soos blink skepe op die horison aangeseil, styg ten hemele, en word gevul met kleur. Die son deur die vensters laat die glas vonkel as die laaste en die laaste bottels deur die monniketonnels verdwyn.
“Hoe kry julle die bottels so skoon?” vra Henry.
“Dit vind in ’n vorige kamer plaas,” sê Jock. “Wil jy dit sien?”
Hulle moet teruggaan na ’n kamer vol stoom en chaos. Naturellemans, in blou uniforms geklee, beweeg ordeloos tussen die stookketels waar vuil bottels op waentjies gestoot en dan in ’n groot aluminiumtenk gedompel word. Sommige van hulle is geel en praat met die klik-klak van Xhosa; ander is donker en dreun met ’n musikaliteit van onbekende Afrika. Selfs in die ordeloosheid is daar iets aantrekliks: die ongedissiplineerde waentjies, die apatiese botsings, die wit tande van genot en die volkome afwesigheid van tydsbesef. Uiterlik geregimenteer deur die eendersheid van uniform, beweeg hulle op die tempo van geringer loon met ’n innerlike sorgeloosheid. In hierdie kamer tel perdekrag.
“Hulle kan aanhou,” sê Jock. “Daarin lê hulle nut. Aanhou ook met die nodelose.”
Toe Jock en Henry verskyn, hou hulle almal op met werk en kyk net. Die tenk word leër en Jock stamp aan Henry.
“Het jy lus om die saal te sien waar die etikette aangebring word?” vra Jock. “Dis besonder kleurryk.”
Hierdie saal is in die middel van die gebou en dit is sirkelvormig. Al om die mure is tonneltjies waaruit die bottels op hulle onderskeie bande aangeseil kom. Hulle seil in vrolike skakerings van rooi en goud soos met die speke van ’n wiel langs tot by ’n sentrale punt waar hulle skielik swenk en ’n sirkelgang begin, rakelings by mekaar verby, al nouer wordend met die teken van Ubu, beurtelings verenig op dieselfde band, tot by die naaf waar ’n goue bottel en ’n rooi bottel in sy naaktheid vir ’n oomblik skitter en dan deur twee ysterhande omvat word. Dis ’n vaardige beweging wat geen minnaar kan nadoen nie; dit duur slegs ’n sekonde, dan maak die hande oop en is die skaamte bedek deur ’n etiket van Welgevonden, met ál die kleure en ál die ontwerpe om ’n sentrale tema: die Huis van Silberstein. Dan skuif ’n platformpie weg en verdwyn die bottel in ’n tonnel na onder.
“Na die onderskeie kelders,” sê Jock, “waar hulle verpak en verskeep word.”
Behalwe ’n enkele witgeklede man langs ’n groot masjien bo-op ’n platform, is daar niemand in die vertrek nie. Al wat die man doen, is om te kyk en af en toe ’n sekere knoppie te druk.
Jock kyk na Henry.
“Vind jy dit koud en gevoelloos?” vra hy. “Verkies jy die ou metodes van druiwetrap en die persoonlike aanraking?”
“Ek vind dit pragtig,” sê Henry. “Ek kan ure aaneen staan en kyk.”
Jock kyk vanaf sy hoogtes na Henry en tog, ten spyte van hulle verskil in grootte, kom hulle onderskeie persoonlikhede mekaar tegemoet en handhaaf hulself elk met ’n eie krag.
“Daar is ietsie van hierdie Welgevonden in jou,” sê Jock. “Die eggo wat jy teruggee, is suiwer en helder.” Hy begin loop en hou vir Henry die deur oop. “Al wat jy kortkom, is die aanraking met chaos waaruit die orde gebore word.”
Buitekant die gebou is alles stil en hulle beweeg oor ’n grasperk.
“Jy moet kennis hê en vrees ervaar,” sê Jock. “Die een kan nie sonder die ander bestaan nie.”
En nou verlaat hulle die grasperk vir die groter ruimtes waar bome en huisies die landskap kol.
“As jy vrees leer ken,” sê Jock, “dan sal Welgevonden jou ware innerlike sekerheid verstewig met roetine. Dan is die priesterskap van Welgevonden joune.”
Op pad na een van die groep huisies gaan hulle weer by die kantoortjie van die tuinier verby. Hulle kan hom binne voor sy lessenaar sien sit waarop ’n kolossale roomkleurige rekenmasjien met handvatsels, knoppies en slingers die hele oppervlakte beslaan. Die tuinier sit roerloos, vierkantig voor die toestel en hy kyk stip voor hom uit. Dis asof hy en die masjien mekaar in stilte aanskou.
“Ek sien hulle het hom alreeds die masjien gegee,” sê Jock. ’n Entjie verder: “Dis nie dat die masjien hom sal suiwer nie; dit sal slegs die onsekerheid en die angs bedek. Dis hierdie stilte waarna die hele wêreld beweeg: die beskerming van spesialisasie en orde. Dis natuurlik tydelik en die uitbarsting sal kom.” Jock gooi sy hande omhoog om die apokalips aan te dui.
Hulle nader nou die groep huisies en draai regs na ’n prettige cottage, begroei met klimop, prentjieagtig tussen die bome. Jock gaan meteens staan.
“Kyk, Henry. Hoe kan ek dit stel?” Hy aarsel. “Jy moet die katarsis van die geheel ondergaan, die versoening van chaos en orde begryp, met vrees en kennis hergebore word.” Hy begin weer loop, tot by die huisie, en klop aan die deur. Hulle wag ’n rukkie en niks gebeur nie. Jock klop weer, harder hierdie keer.
“Daar is ’n vriend van my in die Kaap,” sê hy terwyl hy sy das regtrek, “Julius Johnson, die groot fabrikant. Hy word agtervolg deur ’n mal vrou wat sy fabrieke probeer opblaas. Sy wil die orde vernietig om die mense bewus te laat word van die chaos en aldus die hergeboorte verhaas.” Hy haal ’n kam uit sy sak, kyk in die glas bokant die deur en begin sy hare kam. “Die arme siel het alles aan die stert beet. Die orde is noodsaaklik vir die hergeboorte. Die orde sal altyd deel van ons wees; dis onafskeidbaar van die nuwe wese van dinge. Dit lê selfs ten grondslag van die abstrakte kuns en al die eksperimente van die avant-garde op alle gebiede. Die verandering kom gewis en sekerlik nie in vernietiging nie. Dis Welgevonden, filosowe, priesters, kunstenaars, skrywers …” Hy het nou die kam in sy mond en mompel terwyl hy sy wenkbroue plat vryf. “Al hierdie produkte van die Westerse beskawing.” Sy kam is weer terug in sy binnesak en hy klop vir die derde keer aan die deur. “Nie die manewales van die bosbabatjies bokant ons grense nie. Die Nuwe Orde is subtieler as die onsubtiliteit van blote chaos en blote orde.” Hy staan regop: ses voet vier, sy hare rooi, sy skouers vierkantig, bliksem in sy oë. “Ons het kennis, geloof, vrees, vertroue, trots en moed nodig. Ons sal hulle nog wys in hierdie Republiek van ons …”
Die deur gaan oop, ’n mollige klein blouoog-swarthaar-vroutjie verskyn en transformeer hom tot ’n groot stout seun wat haar aan die arm gryp, ’n skewe soen op die slape druk en opgewek tot binne ’n plesierige sitkamertjie lei.
“Mevrou Dreyer,” sê Jock, sy arm om haar decolleté-skouer, sy self skuins teen hom aangedruk, hul gesigte stralend van twee hoogtestande op Henry gerig. En agter hulle, deur die valletjies van roosgordyne, speel die son op ’n beestespel van glas, op ’n toneel van middestandse meubels, op die warmte van alledaagse lief en leed.
Mev. Dreyer woel haar los en beduie (tussendeur pratend van die weer, die blomme, die huis en elke dag se lewende dinge) dat sy vir hulle gaan tee maak. Sy verdwyn in die gangetjie deur die kraletjiesgordyne op pad na die kombuis, gevolg deur Jock. Henry kan die porseleingeluide van die breekgoed hoor en ook die sagter geskuifel van mensebeweging onderbreek deur betekenisvolle stiltes. Alleen in die kamertjie, half aan die slaap gestreel deur die sonskyn, toegevou in die arms van ’n ornate leuningstoel, word hy telkens in sy sluimering onderbreek deur mev. Dreyer wat eers die skinkbord met die koppies inbring, dan die koekbordjie met Mariebeskuit, dan die kleinbordjies met lepeltjies en vurkies. Elke keer is haar tooisel ’n bietjie gehawender: die bloes losser en haastig vasgeknoop, die romp met patrone van nuwe kreukels, die strik in haar hare fladderend met elke beweging, en oplaas totaal verdwene. Sy lyk altyd vroliker namate sy loswikkel: ’n bondeltjie wat soos ’n katoendoppie losrol in die vreugdevolle wind.
En dan verskyn Jock, sy baadjie uitgetrek, sy hare bevroetel en sy wange bevlek met strepies warm oranje. Hy dra die teepotjie met die rooi, gebreide teemussie.
Hulle drink gesellig saam tee in die sitkamertjie terwyl die voëltjies in die bome fluit. Hulle gesprekke is rustig leeg en is slegs ’n tydverdrywende vóórspel tot wat moet volg.
Henry besluit om te vertrek en hy bedank mev. Dreyer vir “die aangename koppie tee en die gasvryheid”.
“Salome was so pas hier,” sê sy by die deur. “As jy gou maak, kry jy haar nog buite.” Sy is haastig dat hy moet gaan; sy gloei pienk in ’n romantiese aura; haar oë is sag van begeerte en sy projekteer haar eie soet verwagtings op die twee jongmense.
Hy keer sy rug op die prentjie: die cottage, die groen voordeur, die klimop, die stokrose, die plesierige vroutjie, die rooikopreus agter haar – op die huislike toneeltjie wat die prelude is tot vrolike owerspel aanstons, in die kamertjie agter die venster met die roosgordyne.