Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 21

IV

Оглавление

Henry voel vars en gloeiend ná die slaap. Hy lê eers en kyk na die vergulde dak terwyl sy energie oplaai. Dan gaan hy na die badkamer waar hy ’n interessante ontdekking doen. Die kamer lyk nou twee keer so groot soos in die verlede. Iemand het skuifdeure oopgemaak en die res van die vertrek ontbloot. Die nuwe gedeelte is ’n soort sitkamertjie gemeubileer met ragfyn Chippendale-stoele, ál om ’n ottoman wat met handdoekmateriaal oorgetrek is.

Hy bad eers in ’n stroom warm en koue water, bruisend uit die leeubekke, gegeur deur die parfuum uit hulle oë, en dan lê hy op die ottoman terwyl ’n egalige stroom gereguleerde lug hom afdroog. In ’n sekere stadium gaan hy op een van die stoele sit en hy vind alles doelloos totdat dit hom byval dat hierdie kamer vir intieme geselskap ontwerp is. Daar is ’n kraffie Welgevondenwyn op een van die tafeltjies, heerlik koel en aanloklik. Hy drink daarvan en voel hoe ’n vrolike stemming in hom oplaai terwyl hy die tooisel van die aand bepeins.

Om aan te trek vir die anonieme gaste … Hy besluit ten gunste van die neutraliteit van ’n gewone pak klere, maar volgens die nuutste mode: die krae effens smal, die broekspype sewentien duim, die snit lank, die skouers raglan, die boordjiepunte breed, die das ’n strepie onder ’n Edwardian-knoop, die boonste twee knope van die baadjie vas. Hy drink nog van die wyn en let op hoe die son tussen die bome voor sy venster daal.

Hy kry later dieselfde diensmeisie as die vorige aand in die gang, maar hy herken haar nouliks. Daar is blomme in haar hare en sy is soos ’n Slamse bruid aangetrek. Sy beduie vir hom met ’n vrolike glimlag om haar te volg.

Die huis is leeg en hy dink: die feestelikhede is seker buitekant, maar hy vind die tuin ook leeg en sy lei hom tot by ’n plek waar hy nog nooit tevore was nie. In die middel van ’n sirkelvormige opening tussen die bome sien hy seker die grootste rondawel in die wêreld. Die vensters, soos valstande álom, blink in die lig en ’n geweldige gedruis van stemme en musiek vul die aandlug. Hy gaan by die deur in en maak hom gereed om, soos in die verlede, anders gekleed hulle uit te daag. En hy gewaar die grootste mengelmoes van drag en kleur wat hy hom kan voorstel. Kleur ook ten opsigte van vel. Daar is Indiërs, naturelle, blankes, Chinese, kleurlinge en albino’s. Tussen die onderskeie kleure is daar merkbare patrone van nasionale drag wat die geheelindruk gee van daardie gekleurde koekies wat mens op Slamaaiertroues en tiekie-aande teëkom. En almal is so vrien­delik dat hulle kan bars. Mense met tande: vals en natuurlik; wittes met robyne; wittes en geles; wittes en twee donker gate waar die voorstes met opset makeer. Vriendskap oweral wat gryns ten dode: tande tot die dood toe; gapings van hartstog; grafstene van seks, godsdiens en goeie wil. Mense met dik lippe wat opkrul soos wellustelinge s’n; mense met dun lippe wat oopgaan en hulle koudheid verdubbel; mense met spoeg tussen hulle tande en lippe wat liefde slurp; mense berekend ten goede, kom wat wil; mense met tande skaamteloos ontbloot – ekshibisionisme van die hart; schmaltz met tandvleis en tande triomfantelik oor die kleurskeidslyn. Die goeie God is ons Makker: Sy tande gryns oor die horison soos ’n yslike gebou. Tande van begrip, van liefde, van deernis, van swakheid, van yster, van silwervulsels, van Dada-papier, van verlange. Tande in die rondawel van Welgevonden; van die Republiek Suid-Afrika; van Jesus Christus wat ons almal liefhet. Tande, tande, tande, en tande tot alles saai word en tande, tande, tande tot alles wegsterf in verydeling want ons soek MOED en STAALKRAG en GELOOF en SELFOPOFFERING en dis meer as tande, tande, tande …

“Miskien,” sê dr. Johns, “is u verbaas om ons hier te sien.”

“Ons van Bishops court,” sê regter O’Hara en beduie in die rigting van die veelkleurige mensheid. Hy glimlag vir Henry. “Maar oorweeg dit goed, is ons van Bishops court nie bekend om ons verligte gewete en liberale denke nie? Siedaar die bande van intellek tussen die universiteit en die esoteriese heuwel, spinnedrade van die gees wat span oor die magiese vallei.”

“U skerts, Regter,” sê dr. Johns vir regter O’Hara.

“’n Glimlag,” sê regter O’Hara, “in hierdie tye …” en dr. Johns lag met ’n volmaakte stel tande, kunstig geskep in die stadswerkswinkel van sy kollega dr. Koch van Killarney, Bishops court.

Hulle staan op ’n soort platform van waar hulle ’n volledige prentjie kry van die sirkelvormige saal. ’n Dans is aan die gang waarvolgens elke groep in die patroon van sy nasionale drag begin, die gedifferensieerde patroon behou, oorgaan in ’n chaos van beweging en dan volkome geïntegreerd eindig – wasig vir die bysiende Henry, maar in die kleurvolheid daarvan soos ’n skildery van Jackson Pollock: asemberowend in verblindende toeval.

“Hierdie dak van die rondawel,” sê regter O’Hara terwyl hy ’n leë glasie teen sy kunstande tik, “ek bedoel die houtwerk en die riet, weeg vyf-en-vyftig ton.”

Hulle kyk op na die dak en dan af na die massa wat met die volgende beweging weer die skakering van ras bereik. Teen die mure is reusagtige rangskikkings van proteas. Die musiek raas uit verborge luidsprekers.

“’n Wonderlike ondervinding,” sê dr. Johns. “Luister!” Almal het begin sing. Onder die gesing beweeg hulle weer deur die tussenlandskap van oor­gang en ’n nuwe abstraksie word opgetower. “Luister,” sê dr. Johns. “Hulle sing die lied van Geestelike Herbewapening, maar elkeen sing dit in sy eie taal.”

“Dit herinner my,” sê regter O’Hara, “aan ’n ekumeniese byeenkoms van Protestantse kerke wat ek eenkeer in Leiden bygewoon het. Elkeen sing die gesange in sy eie taal. Soos dr. Johns sê, dis ’n verkwikkende ondervinding. – Één wêreld in gees verenig.”

“Dit laat mens dink aan die Katolieke Middeleeue,” sê dr. Johns, “was dit nie vir die sektariese indeling van die moderne tyd nie. Ek bedoel die,” (terwyl die dansers weer die tablo van integrasie bereik) “ek bedoel die algehele afwesigheid van nasionalisme, die eenheid van kultuur en geloof.”

“A!” sê regter O’Hara. “Maar wat is die basis van eenvormigheid hier presies? Kan u dit vir my sê, dr. Johns?”

“Miskien sal meneer Van Eeden …” sê dr. Johns respekvol.

“Maar eers ’n drankie,” sê regter O’Hara.

Hulle glasies word gevul met landgoedwyn. Hulle kyk verwagtend na Henry.

Die musiek het meteens opgehou en plek gemaak vir minsame applous terwyl wit tande orals in die lig blink.

Henry haal sy skouers op en sê: “Dis moeilik om te verduidelik.”

Regter O’Hara klap hom op die skouer.

“Pragtig! Pragtig! Meneer Van Eeden. U het u vinger op die kernvraag geplaas. Waar en wat is die mite wat hulle verenig? Hoe lyk die aangesig van die nuwe syn?”

Hulle het nou by Henry ingehaak en beweeg geselsend tussen die mense deur. Spoedig word hulle voorgekeer deur iemand wat regter O’Hara voorstel aan ’n gewese leier van die Mau-Mau. Dr. Johns vra uit na sy godsdiens en daarna gesels hulle oor die Nigeriese godsbegrip. Erken hulle ’n dualisme in die godshoof? Miskien kan mnr. Van Eeden, ’n besonder belese jongman, die nodige informasie verskaf – maar Henry het spoorloos tussen die rasse verdwyn.

Hy voel alleen tussen al die uitbundigheid, goeie wil en liefde. Hy ver­lang na Salome en hy wonder of hy bestem is om haar vanaand te sien. Die doelloosheid van sy wandeling trek die aandag van Jock Silberstein wat as gasheer die apokriewe beweging te midde van sy welwillende gas­te onmiddellik gewaar.

“Henry, Henry; broertjie, broertjie,” sê hy terwyl hy sy arm om hom slaan. Hy luister na die stotterende begin van sy ligte-enjin en gaan dan voort as die toon daarvan hom na ’n rukkie bevredig. “Soek jy ooit na iets? Is dit moontlik dat mens só neutraal kan wees?”

Henry oorweeg die vraag vir ’n oomblik, maar kan nie aan ’n gepaste antwoord dink nie.

“Dis deel van die mens se natuur om te soek,” sê Jock terwyl hulle voortwandel. “Tensy, natuurlik, tensy jy die essensie gevind en begryp het. Maar kan ons in hierdie stadium al so iets sê?” Hy lag terug vir sy laggende gas­te. “Ken jy al die aard van die bonum en die malum? Het jy al die dualisme aanvaar?” Hy skud sy kop. Die vertrek is warm en sweetdruppels het tussen sy rooi hare en op sy slape gevorm. “Het jy al ’n begrip van die vormloosheid? Is dit moontlik dat jy nie die minste belang stel en na niks soek nie?”

Met die herhaling van die vraag moet Henry nou antwoord, want Jock het gaan staan en Henry voor sy blou oë vasgepen.

“Ek soek,” sê Henry. “Ek soek na Salome, maar ek het haar nog nie gesien nie.”

“Dis waar,” sê Jock en knik instemmend. “Dis waar, jy soek Salome.”

Dan gewaar hy mev. Dreyer en professor Dreyer. Hy buig soos dit ’n gasheer betaam, met ietsie van die grand seigneur.

Professor Dreyer, asvaal selfs in sy swart aandpak, as geheelonthouer bloot werknemer sonder sy wyn, as mens onbeduidend in sy alledaagse saaiheid, buig lomp terug vir sy heer terwyl sy vrou, banaal in groen crêpe de chine, haar geheimpie giggel.

“Maak dit my ’n toonbeeld van die bose, my owerspel?” vra Jock met ’n ligte siddering as sy vet beminde haar laaste wiegel waggel voordat sy met haar asvaal mannetjie ook sosiaal verdwyn. “Word die bose geheilig deur gewoonte?” Hy bepeins die selfgestelde vraag en vergeet van Henry wat in elk geval aangestap en in die proses sy gasheer verloor het.

Hy vind die hertogin se tande soos tronktralies voor hom. Vanaand, noblesse oblige, lag sy. Haar hare is in ’n stywe bolla agter haar kop gebind, ’n syserp is om haar nek met diamante vasgegespe, haar hoof is agteroor gewerp, haar ogies op ’n skrefie, en sy gryns haar welwillendheid vir die goy, getrou aan die gees van geestelike herbewapening.

“O, lieflike aand, kleurvolle aand, dansende, ekstatiese aand!” besweer sy, lady Mandrake, uitdagend haar mistifikasie in hierdie wêreld wat vir haar vreemd is. “O, Henry!” weeklaag sy haar alleenheid en rus haar hoof op sy skouer. “O, Henry!” sug sy op die barre eiland in die see van gas­te wat met liefde teen hulle aanklots.

Aan die ander kant van die rondawel sien hulle sir Henry, maar vanaand lyk hy moeg, oud en verwaarloos. Hy sit eensaam op ’n bank langs ’n In­diërvrou, haar sari glinsterend, haar belangstelling bloot intellektueel en beperk tot menseregte. Liefdeloos sit hy daar in die steriele wêreld van groepsliefde.

“O, Henry!” sug lady Mandrake en lei hom na die kroegie waar landgoed­wyn vir hulle ingeskink word.

’n Naturelleman van Kenia, uitgevat in ’n vlekkelose aandpak, ’n dassie-vel om sy hoof, dans by hulle verby. (Die dans het al weer begin.) Hy sien lady Mandrake, voer ’n paar ingewikkelde passies uit, en sing die refrein: “Don’t point your finger at your neighbour because your thumb is pointing at you!”

Hy kyk vas in die koue aangesig van ’n desintegrerende beskawing, in ’n museumstuk wat gevoelloos die blik van toeriste ervaar, in ’n geskiedenisboek met snaakse prentjies, in ’n meubelstuk op ’n stowwerige solder, in die stof wat tot stof terugkeer.

Hy dans verder en whoop! erkenning van ’n jongmeisie wat whoop-whoop! die nuwe ritme verstaan.

“O, Henry,” sê lady Mandrake. Maar haar stem het meteens ferm ge­word. “Lyk sir Henry nie vir jou afgemat nie? Lyk hy nie siek nie?”

Hulle kyk saam na sir Henry wat hulle oë op hom voel, moedeloos na die Indiërvrou kyk, en met moeë fatalisme sy ken op sy bors laat sak.

Lady Mandrake lig haar glasie.

“Hasta la muerte!” sê sy, en haar stem, woorde en houding is meteens onheilspellend.

Die Silberstein-trilogie

Подняться наверх