Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 7

II

Оглавление

’n Ligte tikkie op die deur, ’n aankondiging dat die gas­te reeds vergader het en Henry vind sy weg na die getransformeerde voorkamer wat, blind-helder verlig, ’n bewegende mensheid bevat. Hy verskyn in die deur en almal word stil. Hulle kyk na die jongman met die engelgesig in sy swart aandpak, ’n sigaret in sy linkerhand, sy regterhand kalm langs sy sy. Almal is in gewone drag geklee: die slank Mrs Silberstein in Engelse tweed met plathakskoene, die hertogin met ’n doek om haar kop en ’n tjalie om haar skouers. Jock in ’n hacking-baadjie, J.J. sonder baadjie met ’n syserp in sy hemp, die res van die gas­te ontspanne in alledaagse slenterdrag. Dan hervat almal hulle gesprekke.

Die hertogin klou aan Henry se arm.

“Sefer nashim, Hilkot issure biah ve-kaleë behemah.”

Sy kyk betekenisvol na hom en verdwyn in die gedrang.

Hy hoor telkens die naam Salome, maar as hy opkyk, is daar gewoonlik ’n paar meisies bymekaar, almal met donker oë.

Hy beland onder ’n groepie mans wat hom saamneem na die kroegie in die hoek waar hulle elkeen ’n stywe dop brandewyn (Welgevonden Special) ingooi. Iemand het Indian Tonic met soda verwar, maar almal skryf die smaak toe aan ’n bepaalde eienskap eie aan die landgoedbrandewyn – prikkelend, bittersoet, ietsie-ietsie in die nasmaak. Hulle ruik aan die bol­vormige glasies.

Henry word voorgestel aan dr. Johns van Bishops Court, regter O’Hara van Bishops Court, sir Henry Mandrake van Bishops Court. Hulle gesels oor waterskaats, tunavis, krieket en Margaret Armstrong-Jones. Vrouens sluit by hulle aan en word omarm. Iemand bedien olywe en aspersies; iemand anders frikkadelletjies; nog iemand hoender en kalkoen. Henry dans met ’n Italiaanse contessa (ses jaar in die land) wat skaam-skaam aan hom beken dat sy ses kinders het. “Hoe heerlik,” sê Henry. “Ek voel soos ’n konyn,” sê sy. “Bloody shmok,” fluister die hertogin in sy oor en kielie hom met haar moesie teen sy wang. Hulle dryf hom tot ’n gesprek oor kuns: Tretchikoff en ander. Iemand verduidelik vir hom die simboliek van die orgidee op die trap, die vars druppel water, die vergane tooisels en die sigaretstompies. Plesier is selfs korter as die lewe van ’n geplukte blom, die bestaan van ’n druppel water. ’n Dronk, blonde meisie trek Henry terug na die dans, terg hom met bewegende bekken, smeer haar rooisel teen sy boordjie, berei haarself voor (deur hom) vir iemand anders, vra hom uit na Salome en verdwyn in die arms van ’n pukka-snor met sy gesprek die ene vis, sport en seks.

“Nebelah,” sis die hertogin en dryf weg in die gewoel.

Een van die vaal Misses Silberstein wink vir hom om langs haar te kom sit.

“Salome,” sê sy, “hou van blomme en die veld. Vroeg in die oggend, as die dou nog op die gras lê, dan wandel sy in ’n ligte rokkie soos ’n nimf oor die vlei. Sy is lief vir diere en sing soos ’n nagtegaal. Sy is fyn en skugter soos ’n wildsdiertjie. Praat te hard met haar, en sy is weg op die oggendwind.”

Die ander vaal Miss Silberstein kom liefies nader en voeg haar fluisterings in sy ander oor.

“Salome is sag en wondbaar. Behandel haar teer, inisieer haar met liefde …” Sy bly meteens stil en bring haar hand na haar mond. “Inisieer haar met begrip in die land van …”

Hulle begin meteens giggel en giggelend onttrek hulle hulleself tot ’n vaal kokon.

Henry het ’n manier om sy ore te trek; hy trek eers die een oor, dan die ander een. Maar hy doen dit net as hy baie ingedagte is, soos nou. Hy is op die punt om ’n doodsbesef te kry – nie heeltemal nie, maar slegs by wyse van vae aanduiding. Dit wek nie ’n gevoel van vrees by hom op nie; hy begin bloot wonder hoe dit sal voel om nie meer daar te wees nie. Hy probeer hard, maar hy self is altyd teenwoordig: hy sien sy eie lyk, die graf, die verdwaasde familie en hy kry ’n besef van tyd wat verbygaan. Hy probeer hom voorstel hoe dit sal wees om in die hemel te kom. ’n Genadevolle staat van perfekte harmonie. Dan dink hy daaraan hoe bedroë mens moet voel as jy in extremis jou oë toemaak, wag en niks gebeur nie. Beide begrippe is moeilik, té veel vir hom op hierdie oomblik, en hy keer terug tot die lewende wat heelwat luidrugtiger ge­word het.

“Hoekom beweeg jy nie tussen die mense nie?” vra Jock wat langs hom kom sit het, sy skouers bergbreed in sy Harris tweed­baadjie. “Hoekom drink jy nie?” Hy gee vir hom ’n glasie brandewyn. “Ken jy die mense?” Hy wys na ’n man wat sothede amusant aan ’n waarderende gehoor verkondig. “Regter O’Hara is ’n groot vriend van my. Hy is ’n uitstekende juris, maar, helaas, ’n filistyn. So is hulle almal, my vriende hier, goed in hulle vak en ryk daarby. Dink jy dis ’n skande om ryk te wees? Betwyfel jy hulle integriteit? Het ryk mense geen integriteit nie? Die lewe is nie so eenvoudig nie. Ek sien jy moet ontslae raak van sekere gevestigde idees.” Hy is effens aggressief. “Kom, sê vir my – tel goeie familie meer as rykdom? Wat bedoel jy met goeie familie? Mense wat oor geslagte heen iets vir die gemeenskap tot stand gebring het? Mense wat sekere kodes van wellewendheid en smaak jaloers binne hulle kring bewaar?” Sy aggressiwiteit het nou bedaar. “Dink jy ons is vulgêr? Ek is ryk en ek is net so trots op my prestasie van rykdom as jy op jou geslagsregister. Dis jou eerste les. Jy moet gewoond raak aan rykdom en die rykes.”

“Ek het aan die dood gedink,” sê Henry. “Ek het niks teen u en u gas­te nie.” Hy het meteens die hitte begin voel en hy wens dat hy van sy aandpak ontslae kan raak.

Hulle stap saam tussen die malende tweedstukke.

“Jy lyk effens onvanpas met jou aandpak,” sê Jock, “maar dit sonder jou uit, maak jou interessanter. Ek veronderstel jy is ’n individualis.”

“Nee,” sê Henry. “Dit was bloot ’n misverstand.”

“Met wie wil jy gesels en waaroor?” vra Jock. “Oor bloedlyne, kastra­sie, reinheid en onreinheid, skade, egskeidings, feeste, eersgeborenes, erfporsies, ondertroue van groepe behorende tot verskillende stamme, melaatsheid, die huwelik, moord, kos, die armes, prostitusie, die kweek van baarde, slawe-arbeid, diefstal, trustees, godsdiens …? Jy hoef maar net die onderwerp te noem en ek kan iemand hier uithaal wat jou die nodige informasie sal gee tot die beste van sy vermoë, wat nie gering is nie as mens die feit in aanmerking neem dat soveel persone hier teenwoordig is wat sukses in hulle onderskeie beroepe behaal het. En, let wel, gepaard daarmee, ook materiële vergoeding vir hulle bekwaamheid gekry het. Of verkies jy ’n arm ekspert? In daardie geval, miskien later in die week.” Iemand pluk Jock aan die arm. “Dit was ’n aangename gesprek. Ons moet weer gesels,” en hy laat Henry gestrand in die middel van die vloer waar ’n dronk maar welriekende vrou van gevorderde ouderdom die jongman hartstogtelik omhels.

Jock kom terug en fluister iets in haar oor. Sy keer haar weer tot Henry, haak by hom in en wandel met hom tot by die venster van waar hulle in die beligte tuin kyk.

“Mens woon in die land van die lewende, mens moet nie heeldag aan die dood dink nie,” sê sy. “Die lewe is so interessant. Neem my man as voorbeeld – daardie een oorkant in die hoek, die een met die wit baard, sir Henry Mandrake. Sir Henry en ek was die hele wêreld deur: Hongkong, Hawaii, Griekeland, Majorka, Venesië en Capri. Ons het al die mooiste kunswerke gesien en sir Henry is ’n ywerige versamelaar alhoewel hy die jongere abstraksies nie kan waardeer nie. Sir Henry se lewe was vol en hy ly aan sy hart. Dr. Johns is ons huisarts en hy het my vertroulik meegedeel dat sir Henry versigtig moet wees. Die dood is om die draai, maar dink jy sir Henry gaan eenkant in ’n hoekie sit, soos iemand wat ons ken, vol doods­gedagtes? Kyk na hom.” Sir Henry het ’n slank meisie omarm. Haar oë is donker; haar vel is roomwit; sy lyk soos ’n madonna. (Is dit Salome?) Sir Henry se gesig is bloedrooi; die are op sy slape is pers en geswolle; hy hyg na asem; sy oë is verwilderd; sy bewegings rukkerig. “Lewe en nogmaals lewe is sir Henry se benadering. Dood, waar is jou angel?” Sy kyk met groot solemniteit na die jongman. Haar beenstruktuur is indrukwekkend; die skoonheidsvernis op haar gesig is deur ’n deskundige gevorm tot ’n pragtige masker wat stadig begin ontbind as die trane begin loop: eers die blou onder die oë, dan die rooisel op haar wange, dan die poeier wat orals verkrummel. “O, die neerslagtigheid van die jeug!” Sy gryp hom aan die arm. “Leef! Leef! Dans en wees vrolik; die hele wêreld wag. Lewe, lewe, lewe!” En sy verberg haar gesig op sy bors terwyl haar Juno-haarkapsel stadig begin lostrek en kammetjies, haarnaalde en gespetjies een ná die ander met die geluid van waterdruppels op die vloer val.

Henry sit sy arm om haar en kyk op in die stralende gesigte van die slank Mrs Silberstein, J.J. en Jock wat van oorkant die kamer, langs ’n kaggel met geelhoutvuurskerms, hom vrolik en goedkeurend toewuif.

’n Rukkie later, toe hy weer alleen in die middel van die kamer is, nog ’n glasie brandewyn in sy hand gestop deur ’n verbygaande gas, trek iemand sy aandag. Dis regter O’Hara met dr. Johns.

“Jock vertel my dat jy baie belang stel in melaatsheid,” sê dr. Johns. “Is dit nie ’n bietjie morbied nie?”

“En owerspel, moord, onreinheid, prostitusie en diefstal,” voeg regter O’Hara by. “Ek moet erken dis ’n ongewone belangstelling vir iemand van jou leeftyd.”

“Om met melaatsheid te begin,” sê dokter Johns, “ek sal jou nie ver­veel met die mediese aspek daarvan nie. Die kanse is baie gering dat jy dit in hierdie gedeelte van Afrika ooit sal kry, of ooit sal teëkom. Dis die psigologies-morele aspek daarvan wat jou klaarblyklik interesseer.” Hy maak sy keel skoon en rook en drink eers ’n bietjie voordat hy hervat. “Volgens Moses Maimonides is dit duidelik gestel deur die ou wysgere dat melaatsheid straf vir skinderpraatjies is. Die siekte begin in die mure van die huis. Hou die oortreder op met sy lasterpraatjies, is die doel bereik. Hou hy vol, versprei die siekte tot sy bed en huismeubels; skrik dit hom nog nie af nie, dan val die siekte sy kleding en sy liggaam aan. Aangesien melaatsheid aansteeklik is, vermy almal die persoon en is die doel bereik, die lasteraar onskadelik gemaak. Ek dink daar is ’n geweldige wysheid agter hierdie ratio verskuil.”

“Baie interessant,” sê regter O’Hara en hulle kyk na die mure van die voorkamer, na die onreines in hulle groepies, na hulle bewegende monde wat die siekte van die mure trek tot die meubels. Hulle betas hulle klere en meteens is dit asof die hele vertrek met melaatses gevul is. “Die hele wêreld,” sê regter O’Hara, “die hele wêreld is met die onreinheid aangetas.”

“Die purifikasie is teweeggebring deur sederhout, hisop, skarlaken gare en twee voëls. Die rede hiervoor, soos aangegee in die Midrashic-gesegdes, is obskuur en nie heeltemal aanneemlik nie.”

Dr. Johns en regter O’Hara het van Henry vergeet en beweeg al geselsend oor die onderwerp in die rigting van die kroegie.

Die Silberstein-trilogie

Подняться наверх