Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 13

IV

Оглавление

Tussen almal het Henry nog steeds na Salome gesoek, en tussen die half­naakte figure haar gevind, verloor en by nabetragting gewonder of hy haar ooit gesien, gevind en verloor het.

In die verte het Jock begin praat langs ’n sestienpotige agterhuistafel. Henry kon nie alles hoor nie, maar die woorde “gelukkige paartjie” het oor die gedruis tot hom gekom. Twee duikertjies in swart bikini’s het blomme gebring. Almal het hande geklap. Iets het deur die lug getrek en op die water verskyn: patrone van blou en pienk, blomme wat die twee letters S en H gevorm en, wiegend op die stygende water, vir die res van die chaotiese nag gedobber het.

Die partytjie is patroonloos uiteen.

Toe Henry in sy kamer kom, vind hy ’n enorme olifant in sy bed, geklee in ’n katoennagrok met ’n kragie om die nek, die slurp wiegend heen en weer soos ’n pendule ’n paar duim van die vloer. ’n Rukkie later het Jock verskyn en het hulle saam die weerbarstige figuur opgehelp, slingerend tot in die kamer langsaan gebring, op die bed neergelê en die gewigtige masker met veel moeite afgetrek. Die swart ogies het oopgegaan, Henry gewaar en ’n Semitiese vloek uitgespreek.

Henry het langs die falliese kandelaar gelê en wag vir die voetstappe in die gang, die fluistering van ’n rok, die gekraak van ’n deur, die ritueel van die gevange oomblik – maar niks het gebeur nie.

Net die waterenjin het gaan staan, die hartklop van Welgevonden onder­breek en toe hervat met die lewegewende gesuis van skroewe wat die sat lug vir die res van die nag na buite gedryf het.

Die Silberstein-trilogie

Подняться наверх