Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 12

III

Оглавление

Henry is daarvan oortuig dat sy vir hom wag, want sy loop doelloos rond, en kort-kort blink haar oë in sy rigting. Hy is alreeds binne praatafstand toe ’n vrouehand hom sag en ferm van koers laat verander. ’n Kattekop, wat op groteske wyse strook met ’n slank lyf en bene, glimlag in sy gesig – ’n glimlag wat, soos die geel oë, nooit verander nie.

“Ek wil graag met jou praat, Henry,” grinnik sy. “Kom ons gesels ’n bietjie.”

Sy lei hom na ’n bankie langs die swembad. Terwyl hulle daar sit, kabbel die water teen die kante en klink die uitgelate stemme van die gas­te in die verte.

“Ek wil met jou oor Salome praat,” grinnik sy. “Gee jy om? Sal jy my nie kwalik neem nie?”

“Nee,” sê Henry.

“Salome kla dat jy te min aandag aan haar gee,” grinnik sy. Fyn tandjies gloei spierwit aan weerskante van ’n rooi tongetjie. “Sy sê dat jy, elke keer as sy by jou is, allerhande filosofiese gesprekke met ander voer en jou nie eens die moeite troos om met haar te praat nie.”

Sy plaas ’n slanke arm om sy skouer en grinnik.

“Kyk, Henry, daar is sekere basiese dinge tussen ’n man en ’n vrou wat jy nie moet verontagsaam nie. Alles het sy tyd en plek en ek erken dat die man en die vrou mekaar se belangstellings moet deel, maar … Dink jy nie dat die minsame oomblikkies, die persoonlike gesprekkies, die geringe tekens van belangstelling in mekaar se persoon, ook van belang is nie? Dis tog natuurlik, waar ’n jongman en ’n jongvrou op die punt staan …”

Sy bly stil en grinnik.

“Natuurlik …” sê Henry.

“En dan is daar die allerbelangrikste kant van die man-vrou-verhouding. Die erotiese. Dit moet nie onderskat word nie. Dis ’n basiese dryfveer, anders sou trou belaglik wees, nie waar nie?”

Sy streel sy arm en grinnik.

“’n Vrou hou daarvan om begeer te word deur ’n man, al hou hy hom oppervlakkig onverskillig. Maar sy wil weet, sy wil voel, dat die man bereid sal wees om al sy ander belangstellings te versaak vir daardie oomblikke van intimiteit wat hulle eie is. Kyk, dis nie dat sy verwag dat hy haar heeldag moet bed toe sleep nie. Verskoon die banaliteit.” (Sy grinnik.) “Maar sy wil die sekerheid voel dat, op stuk van sake, daardie oomblikke van man-vrou-intimiteit sterk genoeg moet wees om potensieel alles te oorheers. Dis die persoonlikste kontak wat daar ooit tussen twee mense kan bestaan en alles … alle teorieë en wysgerighede word leë woorde voor hierdie werklikheid.”

Sy grinnik en tik hom onder die ken met ’n slank voorvinger en ’n skerp, rooi nael.

Opeens verskyn ’n eselkop tussen hulle twee.

“En toe, en toe, en toe!” kom J.J. se stem.

Sy maag en bene lyk nog witter in die elektriese lig; sy manshare ooreenkomstig donkerder. Hy skuif aan sy kop.

“Kon julle nie iets anders vir my gekry het nie?”

“Dis Jock. Hy deel die maskers uit.”

Die kat staan op, haak by hom in, vou haarself teen hom aan, kyk op in sy gesig en grinnik.

Die kaperjolle om die swembad word al hoe uitspattiger. Iemand het ’n radiotoestel aangeskakel en die kunstenaars is besig om op die maat van kwelamusiek ’n dans te improviseer. In sy soektog na die ontwykende Salome sluit Henry by ’n groepie aan wat besig is om die gevatheid van kleurlinghumor hoogdrawend te bespreek. Iemand anders dra Gatiepie van die Gabou voor en almal volg die partituur met kennersinsig. Toe hul­le van Henry se teenwoordigheid bewus word, bly hulle stil en rig hulle veelkleurige oë op hom.

“Daar is ’n gentleman in ons midde,” sê een.

Dit val Henry by dat hy die enigste andersoortige voorwerp is en hy besef meteens die belaglikheid van die aangesig van normaliteit.

Almal het hulle eie wyn saamgebring, ’n claret-tipe wat spotgoedkoop per gelling verkoop word in groot glashouers – die handelsmerk van hulle partytjies. Henry kyk orals rond maar sien alles behalwe ’n takbokkie. ’n Emosie, wat ’n samestelling is van angs en jaloesie, het in hom posgevat. Dis ’n vreemde kombinasie van gevoel vir hom, en hy skep selfs ’n mate van behae daarin. Hy ken sy emosies aan die smaak wat hulle verwek; hierdie een is bittersoet en proe soos suurvygies. Die feit dat hy bysiende is, dra ook by: alles lyk ontwykend; soms is dit asof hy Salome sien, een oomblik gewaar hy haar saam met iemand, dan ontdek hy dat dit ’n ander voorwerp is. Twee paar bene op die gras langs ’n struik, die bewegende bene van ’n meisie en die stugge bene van ’n man, wek by hom ’n verterende suspisie, maar die vraag bly onopgelos as hy in sy nagblindheid die plek verloor en langs kanferfoelie slegs gras en gekleurde ligte vind. Te midde van die toenemende uitbundigheid word hy al meer en meer uitgeslote. Dit voel naderhand vir hom asof daar iets met sy voorkoms verkeerd is: die belaglike klein mensekoppie, die bewegende mense-ogies, die doelloos-bedekte ledemate.

“A, doodsgedagtes! Doodsgedagtes! Doodsgedagtes!” kekkel iemand op­gewek in sy oor, en daar staan sy, die tierwyfie, met die swart bikini en die lang bene waarop blou aartjies van ouderdom hulle eerste patrone begin, met die groot slagtande en oopgerekte bek waaruit die stem soos uit ’n luidspreker kom. “Nog steeds die melancholie! A, hoe wens ek dat jy saam met sir Henry en my die ware vrug van lewensvreug kan pluk!” Sy swaai haar hande op na die donker hemel. “Die blou oseane, die verre strande, die eksotiese palms, die tropiese blomme, die wyn, die Mediterreense lug, die heidense gode, die albaste-standbeelde, die wingerde, die musiek, die warm liefde, die donker oë, die sinnelike genot van elke beswymende oomblik …”

Sy wieg heen en weer op die vlug van haar gedagtes en dan laat sy haar hande sak.

“Sir Henry en ek glo in geen god nie; ons vind julle wêreld saai. Maar ons pluk wat daar te pluk is … Kan jy nie voel nie, kan jy nie begryp nie?” En sy omhels hom meteens van pure uitbundigheid, maar haar masker is in die pad en Henry doen ’n ligte wondjie langs sy oor op.

Sy is meteens die ene bedagsaamheid. Sy haal ’n sakdoekie van êrens te voorskyn en druk-druk aan die plekkie sonder om enigiets prakties uit te rig. Dan slaan sy haar arms om sy nek en haar stem verander.

“Die meeste van ons vriende is dood. Daar is nou net oumense oor wat wag om te sterf. Maar hier en daar, soos ligkolletjies deur die wêreld versprei, is daar nog ’n paar van ons – in villas in Capri, op klein eilandjies, op ’n skip na die Ooste, in ’n gondel op die Groot Kanaal met fiëstatyd.”

Sy rus meteens haar tierkop teen sy voorhoof en wond hom weer ter­wyl haar fluisterstem soos uit ’n grot by sy oor verbykom.

“Weet jy dat sir Henry en ek ’n doodsooreenkoms het? As siekte of ’n gebrek van die ouderdom een van ons oorval, sodat die een nie meer kan byhou nie, dan sal die ander een ’n einde daaraan maak. Daar is so baie maniere om uit hierdie wêreld te kom. Dis nie eintlik ’n probleem nie, is dit?”

Die tierkop kom weer orent en draai in die rigting van die gas­te waar haar ewe-tier met ’n ligte syslangetjie in sy arms, desondanks waggelend, ’n marmerbank moeilik bereik.

“Sir Henry voel tuis vanaand,” sê sy. “Kunstenaars is tydloos.”

Sir Henry het die slangetjie gelos en sy rol van sy skoot af terwyl sy hande magteloos langs sy sye hang. ’n Groepie kom bekommerd nader, vergader om hom, maar ná ’n rukkie gaan hulle weer uiteen. Sir Henry het intussen opgestaan en is besig om teen die bank te leun. Dan los hy die bank, kom stadig orent, en die tierkop, alhoewel bewerig, is fier omhoog gehef.

Langs Henry is die oë van die tierwyfie op haar maat gerig. Agter die masker heel moontlik met deernis en weemoed, maar in die lig met die gevoelloosheid van ’n dier wat sy prooi gewaar. Sy wuif vir sir Henry wat haar nou vir die eerste keer gewaar. Dis asof daar nuwe, desperate lewe in hom kom, en hy sukkel met huppelsprongetjies weg in die rigting van ’n verbygaande groep waar ’n Amasone-tipe luiperdmeisie as ’n voorwerp en ’n stut vir sy omhelsing dien.

Dan is Henry weer alleen en sit hy sy soektog voort. Soms sluit hy by groepe aan, deels uit nuuskierigheid en deels om ruspunte te vind voordat hy netnou weer tussen die gekleurde ligte in die waas van sy halfblinde wêreld die skim van sy vlugtende takbokkie sal agtervolg. Hy hoor slegs één tema in die gesprekke (tussen gevatte skinderstories aangespoor deur professionele jaloesie) – ’n bykans patologiese aanbidding van wat gekleurd of swart is, ’n obsessie omtrent die suiwerende effek van armoede, ’n afsku in die orde, ’n oorgawe aan die lewenskragtige anargie soos gesimboliseer in die rou ontwaking van die swartman in die gestileerde Weste, ’n verlange na die durf van chaos, die intensiteit van geweld, die prikkeling van die primitiewe teen die verniste huid van die beskawing. Hulle dra in hulleself die skuldgevoel ten opsigte van hulle eie versadigde kultuur; die nihilisme voor die ruïnes van hulle verkrummelde gode; die goddeloosheid in die stilte van die Groot Swye; die vormloosheid by die graf van die heengegane Nuwe Tyd; die onsekerheid voor die aard van die Syn. Tussen die verwaarloosde meisies met hulle armoedige bikini’s en die seningtaai bene van die mans, tussen almal met die groteske dierekoppe wat hulle gesamentlike masker is, beweeg Henry volkome uitgeslote op soek na Salome.

Meteens, op voorstel van ’n onbekende iemand, word besluit op ’n mid­dernagtelike swemparty, sonder klere soos dit hoort by hierdie universele verlange na die begin. Hulle trek in die skaduwees uit, en sonder die biki­ni’s lyk hulle bykans dieselfde. Dis asof die wit, waar die bikini’s was, die gemeenskaplike kleur van die nuwe bikini’s ge­word het. Hulle stroom na die swembad en spring uitspattig in die water wat meteens rumoerig word onder die plotselinge aanslag. Dit spat teen die kante en maal in blou golwe bokant die strale van die weggesinkte gloeilampies. Die hele swembad is gevul met dierekoppe sodat dit lyk asof ’n vloedgolf die oerwoud oorval het. Dis ’n tweede sondvloed, belig deur spreiligte.

Dan hou die ligte-enjin op met werk. En van die bosse, hoesend, proesend, begin die nuwe een. Dit dreun vinniger en vinniger en stadig begin die water sak. Eers vertoon die bolywe van die mans, dan die borste van die meisies, dan hulle bene met waterdruppels soos diamantjies daaraan vasgekleef, en uiteindelik staan hulle droogvoets in die leë swembad soos in ’n openbare graf. Almal het opgehou om te skree en te lag en hulle kyk verslae na mekaar. Een-een sukkel hulle teen die leertjies uit na die kant waar hulle in die agterste skaduwees die handjievol bikini’s aantrek. En dan, met ’n sissende geluid, heel bó, begin ’n dun straaltjie, soos in ’n spuitfonteintjie, uit die bek van ’n dolfyn, die swembad langsaam, tydsaam vul.

Die Silberstein-trilogie

Подняться наверх