Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 16

III

Оглавление

Die hertogin lyk besonder formidabel daar waar sy in haar stoel sit, op­geryg en gegespe in ’n nousluitende, swart aandrok wat blink van al die perlemoerknopies. Daar is ’n tiara op haar hoof; sy het so pas ’n glasie geledig en is besig om vieserig ’n sosatie te hanteer toe sy Henry gewaar en meteens ophou met eet. Die twee vaal Misses Silberstein, liefies pienk in aandtabberds, vervul die rol van gasvrouens met ’n dartelende uitgelatenheid wat: nog enetjie, tóé, nog enetjie! op die gas­te afdwing totdat die bordjies naderhand oortuimel van boerewors, braaivleis, kastaiings en melktert. En dan is daar die slank Mrs Silberstein in blou, haar hare eenkant oor haar skouer, haar oë (Henry merk dit vir die eerste keer op) violetkleurig. Die donkerogige meisies se getalle is aangevul deur blouoog-boerinnetjies wat lyk asof hulle nog nooit in die son was nie. Die boere en vrouens is aan die robuuste kant, met ’n effense stroefheid in hulle houding, gesteun deur hulle deftige drag, wat geen afwyking van hulle standaard duld nie. Nogtans let Henry op dat die Welgevonden-brandewyn vrylik vloei. Die wyn is haas onaangetas.

Hy voel besonder ongemaklik in sy boeredrag en hy vind telkens hoe oë koud en veroordelend op hom gerig word. ’n Vrou merk in die verbygaan op: “Seker een van daardie kunstenaars,” – en sy keer haar breë rug, verhard deur ’n borsrok, minagtend op hom. Dit is gevolglik met ’n groot mate van verligting, wat selfs sy gevoel van verbasing oorheers, dat hy te staan kom voor regter O’Hara en dr. Johns wat, wiegend op hulle hakke, sigare in die mond, glasies in die hand, hom vrolik welkom heet.

“A, Henry!” sê dr. Johns. “Nog steeds die individualis!”

Oorkant sy skouer kan Henry die strak gesig van ’n boer sien wat hom koelbloedig met grys oë aanstaar, die .303 roerloos op die skyf.

“Is jy verbaas om ons hier te sien?” vra regter O’Hara. Hy blaas ’n ste­wige rookkring die oneindigheid in. “As jy mooi daaraan dink, woon ons in Bishopscourt eintlik op klein plasies in vergelyking met die gewone erwe. Die kweek van ons struike, bome en ander plantsoorte verg dieselfde mate van toegespitste bedrewenheid, alhoewel miskien op ’n kleiner skaal. Af­gesien daarvan, is sommige van ons beste vriende boere.”

“Waar is Salome?” vra dr. Johns.

Henry beduie in die rigting van die donkerogige meisies en dr. Johns wuif meteens vriendelik na die oorkant van die kamer.

Regter O’Hara maak sy keel skoon en kyk betekenisvol na dr. Johns. Dr. Johns neem Henry vertroulik aan die arm en hulle drie beweeg geselsend tussen die gas­te.

“Nou, Henry,” sê dr. Johns, “laat my toe om te erken dat beide regter O’Hara en ek gisteraand ontsteld was toe jy ons so goedsmoeds in die middel van ’n gesprek verlaat het.” Henry maak ’n gebaar, maar dr. Johns keer hom. “Regter O’Hara en ek het dadelik besef dat sommige van ons argumente vir jou miskien naïef voorkom.” Hy kug van verleentheid.

“As jy ons toelaat, sal ons graag sekere aspekte duideliker stel,” sê regter O’Hara. Hy kyk angstig na Henry, en Henry knik.

“Om te begin,” sê regter O’Hara, “ek het gepraat van die mens se kennis en keuse van goed en kwaad sonder om die kwessie van vrye wil in ag te neem. Dr. Johns het my daarop gewys dat jy heel moontlik ’n Calvinis is en die Augustiniaanse leerstelling van predestinasie aanvaar. Dan moet ek om verskoning vra.” Hy buig effens in Henry se rigting. “God het in Sy wysheid bestem dat sommige deur die Verlossingsdaad die ewige lewe sal beërwe, terwyl die ander …” Hy maak ’n gebaar. “Et hoc dicitur reprobare.” Regter O’Hara glimlag. “Jock se obsessie omtrent kennis is dan nie van toepassing nie, is dit?”

Twee van die boere het hulle by die groepie gevoeg en is besig om aan­dagtig te luister.

“Jock is in daardie opsig ’n bietjie van ’n Thomis,” sê dr. Johns. “Maar ons wil nie nou gevoelens seermaak nie, alhoewel regter O’Hara geneig voel om sint Thomas se verklaring van die vrye wil te aanvaar: God as eerste oorsaak wat alles in beweging bring; die wil van die mens as onmiddellike oorsaak van die menslike handeling …”

Nog twee boere het by die ander aangesluit en hulle kyk betekenisvol na mekaar. Dit klink soos bekende terrein.

“Maar,” vervolg dr. Johns, “daar is darem één vraag wat ons aan Henry moet stel.” Hy keer hom tot Henry terwyl die boere geïnteresseerd nader staan. “Indien jy die stelling, praescientia meritorum non est causa vel ratio praedestinationis, aanvaar, as God alles gewil het …”

Regter O’Hara val hom met opgehewe hand in die rede.

“Maar beide groepe aanvaar dit, dr. Johns.”

Dr. Johns is ’n weinigie uit die veld geslaan en een van die boere glimlag breed. ’n Ander een het so pas ’n sigaret aangesteek. Hulle is op die punt om kant te kies sodra hulle ’n woord begryp.

“Nou wel,” sê dr. Johns, “as mens die leerstelling van die oorheersende godswil tot die uiterste logiese konsekwensie van die supra-lapsariërs deur­voer, dan kan mens jouself afvra: het God ’n kwaad beplan en geskep?”

Hy kyk nou direk na Henry en almal volg sy voorbeeld. Bokant die swart pakke en die wit van die hemde blink die gesigte: die strakkes van die boere en die mobieler aansien van die geleerdes van Bishops court.

Daar volg ’n stilte en dan antwoord een van die boere, sy lang gelaat tronend oor ’n strikkie: “Die antwoord is in Job.”

Dr. Johns klop hom op die skouer. Die man glimlag breed en sal vir die res van die aand die dokter verdedig.

“Presies,” sê regter O’Hara. “Wat is die antwoord?”

“Die antwoord is,” sê dr. Johns, “dat God supra-rasioneel is en dat ons met ons beperkte verstand Gods wil nie kan begryp nie.”

Nog boere het by hulle aangesluit, eers in stilte maar noudat die ys deur een van hulle makkers gebreek is, gereed om hulle opinies te lug.

“Dit,” sê regter O’Hara, “is ’n logiese ontwyking.”

Henry word al hoe meer op die buitekring gestoot en hy hoor naderhand slegs die stemme.

“En tog ontken Augustinus dat God se voorafkennis van kwaad kwaad noodsaaklik maak,” gaan dr. Johns voort.

Die boere se gesigte beweeg heen en weer voor hierdie teologiese tennis­wedstryd.

“Daarom glo ek in die misterie van die vrye wil,” sê regter O’Hara. “Deur die vrye wil ontstaan die risiko van kwaad en kwaad is ’n negasie, ’n ne­gatiewe mag. God het slegs die goeie geskep.”

Terug en terug beweeg Henry terwyl die elegante boere hulle liefde vir die twisgesprek toon en met die swart vloed van hulle aandtooisel hom dobberend na die kant toe dryf.

“Maar tog,” sê die onsigbare dr. Johns, “as die vrye wil afhanklik is van die oorspronklike wilsbeweging van God, soos Thomas Aquinas sê, dan is die vrye wil beperk en bestaan dit slegs in skyn.”

“Dis die misterie!” bulder regter O’Hara terug, want sy stem is besig om verlore te raak in die byenes wat om hulle uitbrei en twee swerms vorm om die tweesydige prikkelpunte.

“Kennis dryf mens tot raserny,” sê ’n boer kalm en lug onmiddellik sy opinie wat gebaseer is op geloof en nie op kennis nie.

Meteens hoor Henry iemand langs hom proes: dis Jock wat met ’n groot glimlag sy strydende gas­te gadeslaan.

“Hulle moeilikheid is,” fluister hy vir Henry, “dat hulle kwaad as iets negatiefs sien en te bang is om ’n dualisme in die godshoof te erken.” Hy trek sy skouers op en beweeg met ’n vonkeling in sy oë vorentoe om by die relletjie aan te sluit.

Van agter sy rug af om, word twee vrouehande voor Henry se oë gehou. “Raai wie,” sê lady Mandrake. “Het jy gedink dit was Salome?” vra sy toe sy haar hande wegneem. Sy kyk na die versamelde boere en hulle luister na Jock se stem wat bokant almal uitklink. “Die gelowiges!” sê lady Mandrake. “Hulle stry en stry … dit ruik na kloosters en mens voel die harde banke van die Protestantse kerke.” Sy kyk in die kamer rond en haak by Henry in sodra sy die kroegie eenkant in die hoek gewaar. “Vrouens eenkant en mans eenkant,” sê sy terwyl hulle deur die niemandsland na die bron beweeg.

Die rangskikking om die argument het die patroon van die kamer ver­ander, soos lady Mandrake tereg opgemerk het. Aan die een kant is die boere vergader in ’n abstraksie van wit en swart, die verskeidenheid van hulle gesigte ’n surrealistiese kontras van oë, neuse, monde, tande en ore. Aan die ander kant is die boerinne, ’n skakering in volle oormaat, met die vloeiende kleure van die reënboog, met die skittering van ornamente, en die kaleidoskoop van gelaatstrekke wat opdoem met asemberowende skoonheid en wegsink met die gryns van ouderdom.

“Waar is sir Henry?” vra lady Mandrake meteens. Sy het ’n glasie ge­ledig en is angstig besig om in die kamer rond te kyk. In die verste hoek is ’n swart kolletjie, die enigste tussen die krans van boerinnetjies. Lady Man­drake sug van verligting en skink ’n tweede glasie vol. “Sir Henry en ek bekommer ons nie heeldag oor al die saai probleme van vandag se wêreld nie. Ons glo aan die rykdom van alle lewende dinge, die magiese proses van groei, verandering en rypwording, die weemoed van ’n tyd verby en in die proses van verbygaan, die warmte gebore uit liefde vir alles wat lewe.” Sy kyk liefderik na haar swart kolletjie wat nie ’n enkele oomblik stil is nie en soos ’n rubberballetjie tussen die meisies bons. Sy neig meteens oor na Henry en fluister: “Ek wil jou van ’n belofte vertel wat ek aan sir Henry moes doen. Soms huil ek as ek aan sy moed dink, maar dan voel ek weer trots.” Die trane kom geredelik en sy vee hulle met die puntjie van ’n sakdoekie weg. “Sir Henry het my laat beloof dat as hy te sterwe kom die dokters geen verdowingsmiddels mag gebruik nie. Hy wil ten volle bewus wees van elke sensasie, hy wil die lewe tot op die heel laaste oomblik ervaar. Is dit nie prag­tig nie?”

Lady Mandrake sien haar gasvrou en waai vir haar met die sakdoekie. Sy piksoen Henry op die wang en loop in die rigting van sir Henry. Meteens is dit asof die rubberballetjie hernieude energie kry: dit beweeg op en af en heen en weer hoe nader sy kom, vinniger en vinniger met senuweeagtige lewenskrag.

Henry gewaar dat die donkerogige meisie wat langs hom aan die eet­tafel gesit het, besig is om vir haarself ’n glasie wyn in te gooi. Hy haas hom soontoe om haar te help. Hy bied ’n sigaret aan en hou ’n brandende vuurhoutjie gereed. Sy steek die sigaret aan terwyl sy haar oë vernou, dan hou sy haar hoof agteroor en stuur die rook die kamer in.

“Dankie,” sê sy.

Hulle kyk skuins by mekaar verby en soms in mekaar se oë.

“Dis ’n heerlike aand,” sê Henry, gereed om ’n gesprek te begin, soos ’n beskaafde mens, oor alles wat onpersoonlik en onkontensieus is.

Sy glimlag en suig aan die sigaret.

Henry kyk by haar linkerskouer verby en sien die hertogin in die middel van die vloer. Sy is besig om met groot konsentrasie in haar styf-deftige rok oor die vloer te beweeg. Haar voete skuifel skaars ses duim op ’n slag, haar een hand hang langs haar sy, die ander een is op haar bors oor ’n pêrelhalssnoer. Af en toe glimlag sy met goue tande vir die gas­te, hierdie kant toe en daardie kant toe, met metronomiese onpartydigheid. Sy het so pas haar stoel verlaat en is op pad na ’n ander deel van die vertrek. Haar hele houding getuig van beslistheid. Sy baan deftig haar weg tussen almal deur en dan bereik sy haar bestemming: ’n ander stoel wat wys in die rigting van waar sy gekom het. Sy trek haar rok saam, draai in die rondte en gaan dan stadig sit sonder om om te kyk. Sy sien vir Henry en haar gesig verstrak. Haar oë bly permanent roerloos op hom gevestig.

Henry glimlag vir die meisie en sy glimlag meganies terug. Hulle het intussen ’n treetjie van mekaar af beweeg en albei rook nog steeds.

Hy kyk oor haar regterskouer en sien die twee vaal Misses Silberstein in hewige argument gewikkel. Hulle het elkeen ’n skinkbord waarop talle roomkoekies met allerhande patroontjies gerangskik is. Eers sit hulle die skinkborde neer en beduie vir mekaar met die hande. Dan tel hulle die skinkborde op en die argument word voortgesit met allerhande bewegings van die hoofde. Meteens hou die argumente op en hulle beweeg na die geskeide gas­te in teenoorgestelde rigtings in.

Henry en die meisie is nou ver genoeg van mekaar om alle kontak te verbreek. Hy sien dat J.J. en die slank Mrs Silberstein na ’n oop deur beweeg. Mrs Silberstein lyk vars, maar J.J. kom moeg voor en daar is kringe om sy oë. Toe Henry terugkyk na die meisie, vind hy dat sy verdwyn het.

Die ligte-enjin het nou gaan staan en die swembad word weer leeg- en volgepomp.

Twee van die boerinnetjies sluit by Henry aan, vlegsels oor die skouers, hand om die lyf, voetjies in balletposisie sur la demi-pointe.

“Ons hoor,” sê die een, “jy en Salome gaan vir Brutus kry.”

Daar is afguns in hulle oë.

“Is dit waar?” vra die ander een.

Henry haal sy skouers op en kyk by die venster uit. Hy verstaan nie ’n woord van wat hulle sê nie.

Die tuin van Welgevonden, verlig soos altyd, strek die nag in en daar­agter sien hy nou vir die eerste keer die neonligte. In die heel verte, met letters so groot soos op die doek van ’n inryteater, vloei die stroom in rooi, groen en blou: WELGEVONDEN … QUALITY … WINES. Eers in ’n boog; dan in ’n reguit lyn: WELGEVONDEN … Q A TY . . . WI ES.

Die twee boerinnetjies het verdwyn, maar ander het hulle plek by die kroegie ingeneem. In die agtergrond is die mans nog steeds besig om te argumenteer. Henry word omring deur meisietjies wat vir hom glimlag, nader staan en skaam-skaam sê: “Geluk met Brutus.”

Die gerug het nou deur die kamer gegaan. Brutus. Brutus. En dit het tot by die mans deurgedring, wat die naam herhaal. Brutus. Brutus. Een na die ander onttrek hulle hulle van die tweede liefde en sluit by hulle vrouens aan sodat die saal weer egalig vol word en Brutus, Brutus van alle oorde kom. Die meisies se rokkies styg in fouetté as hulle van die een na die ander draai en Brutus, Brutus fluister. Is dit Brutus? Kan dit wees? Is dit waar? Vra vir Giepie Ollenwaar.

Daar staan hy, Giepie Ollenwaar, in die middel van die saal, met sy goue kettinkie om sy magie, sy oumansbeentjies in die swart pype, sy skouertjies krom in die baadjie, sy borsie kropduif agter die gestyfde borshemp, sy tandelose mond gapend van pure genot, die kraai te midde van die aanvallige boerinnetjies wat hom betas, beklou, betrek, bevroetel en beneul om met die waarheid voor die dag te kom.

Dis nog net dr. Johns en regter O’Hara wat, salig onbewus, die vrye wil bestry en goed en kwaad beskou.

Opeens, as Jock sy hande klap, word almal stil en luister na die

“Liewe vriende, ons is hier …

“Da-da-dum verbond te vier …

“Salome … Henry … Silberstein …

“Geskenk geskik vir Oppenheim …”

En dan breek die oomblik aan as hy op die sestienpotige agterhuistafel tik, en die deure oopswaai, dat die fraaie Misses Silberstein skamerig aan weerskante van die tamaaie kop, bedeesd gebind met twee koorde aan die neusring, horingomraamd met die bul verskyn. Liefies loop hulle onder dawerende toejuiging, gefluit en voetegestamp terwyl die bul al hoe groter en groter word as die buffelnek eers na vore kom, dan die geweldige spiere wat swel met elke lui trap van die kolossale hoewe, dan die ronde sterk pens wat aan weerskante van die deure skuur, dan die bultende dye en die glansende, spekvet boude onder die tafelgelyk rug totdat die kamer en die mense verdwerg word met die volle verskyning van die koninklike dier.

BRUTUS! BRUTUS! BRUTUS! gil die meisies en die boere trap met stampgeluide op die vloer terwyl hulle handegeklap doem-doem die ritme van tamboer­slag vind.

So hou dit vyf minute lank aan en dan daal die stilte traag en volkome vir almal om die dier in swygsame vervoering te aanskou.

En Henry merk dit die eerste keer op dat die voorste gedeelte van die bul rooi is en die agterste gedeelte pikswart.

Jock doen ’n beroep op Dries van Schalkwyk, sekretaris van die Rooi-Swart-Ollenwaar-stoettelersvereniging, om ’n paar woorde te sê en daar verskyn hy met borselkop, onder uitroepe van haai, Dries! laggend met perdetande (haai, Dries!), rooi gebrand, ontuis in strikkie, sykraag en serp, om Geagte oom Giepie (applous fortissimo), mnr. Silberstein (forte), Salome (piano), Henry (pianissimo), en BRUTUS (kakofonie!) aan die gas­te voor te stel.

“Is daar iemand vanaand teenwoordig wat nog nie van Brutus gehoor het nie?”

Groot gelag, rumoer en “Ek nie!” skreeu ’n jong kalant wat speel-speel deur die mans neergetrek en deur die meisies gekarnuffel word.

In alle erns; alle hulde aan oom Giepie Ollenwaar wat (sy hande op die sy-skof van Brutus) hierdie ras geteel het tot heil van geheel Suid-Afrika. Hierdie dier, Brutus, tweekleurig manjifiek – hierdie teelbul, rasgetrou met nageslag van bottervet … astronomies! Vleiseienskap … super prima! Kleurvastheid … van neuspunt tot midderif, van midderif tot stert – meet dit, presies om ’t ewe! Hierdie vader van die rooiswartes, geskenk – let wel – geskenk aan die gelukkige paartjie Henry en Salome Silberstein.

Applous. Applous. Applous.

Ek was teenwoordig, oom Giepie, toe Brutus … Hoeveel was dit? Agtduisend? Tienduisend rand gegaan het op die veeverkopingsvendusie van die firma Veenstra en u het geweier.

Appl. Appl. Appl.

Erns, erns, erns vir Dries met die wit lig in sy oë en die liefde in sy hart, en die malheid en die totale kranksinnigheid wat uitbundig lewe in elke skeppingsvorm. Erns vir die dinamiek, erns vir die gebrokenheid, erns vir die geduld, die wilde drome, die geluk en die ekstase. Erns vir die toeval waaroor daar nie te redeneer is nie – vir die onsekerheid, die twyfel, die ontnugtering, die frustrasie, die vlindervlug van die skeppingsdroom.

“Maar, laat ons Brutus van nader beskou, hierdie dier, hierdie …”

– met ’n handgebaar, waar die gemoed volskiet en die woorde ontbreek om die pronkstuk van teling te beskryf.

Stilte. Gedeelde stilte. En moedige herstel.

Soos u sal merk, liewe vriende, is die oppervlakte van die swart en die oppervlakte van die rooi presies dieselfde, en word die twee kleure met ’n regaf lyn presies, let wel, presies in die middel van die lyf geskei. Die swart is onbevlek swart; die rooi is onbevlek rooi. Enige kolletjie is ’n diskwalifikasie. Nie waar nie, oom Giepie?

Hy rig hom tot oom Giepie wat, arms gevou, op ’n kierie sit en hoof­skuddend, ogies vernou, versigtig beaam.

En nou, vriende, wil ek u ’n geheimpie vertel!

Hy onderdruk sy plesierigheid met moeite, knipoog vir die boerinnetjies, plaas sy arm om Brutus se skof, slaan sy hand op sy mond, frons sy wenk­broue en hou sy borselkoppie skuins.

Ek weet nie of oom Giepie my sal skiet nie, maar …

Wag daarvoor … Wag daarvoor terwyl proeslaggies oplaai en rokkies oogverblindend ritsel.

Maar … Brutus het ’n foutjie. Hier (die hand beweeg van die skof tot op ’n plekkie tussen die ore) hier, as u goed oplet, sal u ’n klein wit kolletjie sien so groot soos ’n tiekie.

Nou is die geheim verklap; die bekende geheim van Brutus; die tikkie afwyking wat perfektheid verydel, en almal, losgelate nou, laat skaterlag met ligte stampies aan oom Giepie onderwyl.

Maar vriende …

Nou, met erns, met blitssnel erns, met die lig en die liefde …

Maar in hierdie dier, ondanks die één klein onperfektheid, daarteenoor die positiewe eienskappe. Die vel van Brutus, van die Ollenwaarras, ken­merkend van die rooiswart, die teelgeheim van oom Giepie – die vel onder die haar is komplementêr rooi en swart; swart by die rooi, rooi by die swart. By wyse van illustrasie, aanpassend by hierdie geleentheid, ’n mooi ge­baar …

’n Lig word nader gebring, ’n sterk vloedlig verbind met ’n snoer van ’n staanlamp, en daar skyn die letter S in rooi op die swart, en, die lig word verskuif, die letter H in swart op die rooi.

Klop-klop-klop op die vloer, die donderweer van entoesiasme wat groei en groei,

Maar vriende …

en groei en groei en groei

Maar vriende, asseblief, vriende!

en groei

Vriende! Nie alleen dubbeldoel, melk en vleis nie. Asseblief, vriende! Maar dubbeldoel-vleis! Fyner bedraad by die rooi, growwer bedraad by die swart.

entoesiasme, entoesiasme

Waarlik, vriende, is daar nog twyfel … hierdie ras … bottervet vier punt ses … vrugbaarheid fenomenaal … eetgewoontes ondiskriminerend … gewigstoename konstant …!

entoesiasme vir oom Giepie op sy sitkierie, hoof gebuig, entoesiasme vir Brutus, statig in die lig, onverstoord herkouend, natura sui generis, kalmte …

Die arm gekrom, die polshorlosie, die vinger op die wyserplaat – en die stilte daal met besef van die naderende einde.

Dan is daar die laaste eienskap, die misterie, waaroor selfs oom Giepie geen verklaring kan gee nie. Lengte van stembande? Vasgelegde afwyking in struktuur? Wie weet? Maar Brutus, die Ollenwaarras, ons geliefde rooi-swartes, die bees wat nie bulk nie. Bulk, ja, maar in toonhoogte bokant die drempel van ons menslike oor. Is dit ’n fout?

NEE!

Is dit ’n afwyking wat te versmaai is?

NEE!

Is dit ’n smet op die ras?

NEE!

Verdien oom Giepie die hoon van jaloerse telers?

NEE en rumoer. Nogmaals NEE en rumoer as haai, Dries! haai, Dries! sy plek terugbaan (haai Dries!) tussen rokkies, armpies en sysagte lokke wat hom volkome onsigbaar maak.

Doem-doem, die tamboerslag, en tok-tok, die voeteslag, en spiets! spiets! vir oom Giepie wat stadig orent kom en gestut word deur twee fris jong boere totdat die ledemate die stramheid van die ou posisie verloor en die stramheid van die nuwe posisie vind en die hoëpriester van teling, styf van welverdiende geld, ruk-ruk die ligkol voor sy fantastiese bees betree. Die oë van Brutus, die sagte, diep oë van Brutus gerig op die klein ogies van sy skepper, die band tussen mens en dier, die wederkerige en tog eensydige kennis, die stille kommunikasie, en oplaas die geliefde beeld van die ge­liefde teler teen die agtergrond van sy geliefde bul.

Boerinnetjie bras croisés, boerinnetjies en l’air, boerinnetjies in ara-besque, boerinnetjies dansend la grâce sautée, boerinnetjies in pirouette, boerinnetjies sur les pointes, boerinnetjies aanbiddend demi-bras.

En dan tableau.

Die boodskap van oom Giepie:

Liewe vriende. Weer eens het ons hier ’n bewys van onoortreflike eer­likheid wat nie aangevoel kan word deur vooruitbeplande afwykende po­gings wat ons beleid deur bewyse gevestig in hierdie skeppingswerk van teling in die vorm van voorsienbare vooruitsigte en uitgebou in beraamde vooruitsigte sistematies afgebreek kan word deur die uitwerking van onfeilbare erkende magte tot ons beskikking nie.

Hy neem ’n slukkie water.

’n Gabalanseerde, tasbare, lewendige, onoortreflike dier as geringe ge­tuienis in hierdie bepalings aangehaal op grond van beskikbare vermoëns as positiewe en negatiewe samekoppeling en geleidelike ontwikkeling uit die bron dien as verdere bewys van bronne uit die skepping geput.

Hy bly ’n oomblikkie stil.

Dan hervat hy.

Hierdie bepalings aangehaal, balanseer ons verstand en beskikbare ver­moëns tot gawes op ’n rotsvaste agtergrond. En ek beroep my veral op die jeug. Deur bewyse gevestig in die skeppingswerk dien dit ons as voorbeeld van sienbare gevolge uit positiewe en negatiewe samekoppelings. En ten slotte wil ek my gasheer en gasvrou die lof toeswaai, en, ek dink ek praat namens almal, groete oorbring, rooiswart groete van die telersvereniging. Ek dank u.

Rokkies wat styg, rokkies wat swaai. Beentjies melkwit in die lig, vlegsels wat soos lintjies waai. Tande, ogies en lippies blinkend van ekstase. Op en op en op die rokkies totdat mens die broekies met ’n skimp sien en dan, hemel! woeps! handeklappend na benede.

Fotograwe, kromrug soos wolwe in donker aandtooisel, borrel orals uit en boggel kruipend laag met die spervuur van hulle flitse.

Een van oom Giepie en Brutus verby ’n spierwit dy vir Landbounuus.

’n Beroep op oom Nicolaas van Linden, voorsitter van die Landbou-unie. Hy word langs oom Giepie geplaas. Beroep op die vader van die toekomstige bruid, Jock Silberstein. Die posisie regs. Beroep op Salome Silberstein. Salome! Salome! Daar is ’n roering onder die donkerogige meisies maar Salome kom nie, sy is bang vir die bul. Beroep op Henry, tog sekerlik nie bang nie! en hy verskyn, verkeerd getooi en daarom heel agter kopalleen langs Brutus. Beroep op haai, Dries! haai, Dries! en hy word plesierig gestamp, wildlaggend, knielend in die tweede ry. Beroep op mev. Gertruida van der Riet van die Vroue-Landbou-unie in die tweede ry. Beroep op mev. Fransina van Staden, konvenor van die skoukomitee, in die tweede ry. Beroep op Abraham Al­bertse, voorligtingsbeampte, sywaartsliggend in die derde ry. Beroep op Barend Gouws van die Grondbewaringskomitee, liggend sywaarts in die derde ry. Beroep op Wynand Harmse van die waaksaamheidskomitee in die derde ry, sywaarts liggend. En die boerinnetjies? A! Wolwegefluit vir die boerinnetjies! Uitgesprei soos ’n oumaskombers héél voor en terug en terug die fotograwe. Stilte nou! Vriendelik, tóé! Een groot grynslag, ’n detonasie, en met bonatuurlike lig word gebore die voorbladfoto vir Boerenuus.

Stilte, asseblief, vriende! Behou u posisies! ’n Tweede vir die amptelike orgaan van georganiseerde landbou. Erns, asseblief.

En in ’n groep, met die swart van hulle pakke, en die wit van hulle hemde, met die deftige eenvoud van hulle formele drag, afgewissel deur die swier van elaborate vrouetooisel, vervrolik deur die reënboog van bedeesde boerinnetjies, oortroon deur die kolossale bul, sy oë diepblinkend in die lig, behaal hulle almal die vereiste patroon van erns. Wagtend op die tweede flits van die reusekamera, daal daar ’n stilte oor die kamer. En meteens, as die lense die beelde na mekaar toe bring, en die sluiter op ’n soveelste van ’n sekonde gestel is, en die figure in lewe alreeds die strakheid van die fotobeeld aanneem, begin die enorme lieste in beroering kom, swel die borskas uit onder die druk van die rysende longe, ritsel die tweekleurige vel as duisende spiertjies in beweging kom, tuimel die horings agteroor, styg die blink neus op na die dak, en teken Brutus met sidderende oorgawe supersonies, onhoorbaar, sy swygsame protes na bowe aan.

Van agter uit die saal, onbewus van die stilte en die skeppingsoomblik van die kamera, kom die stem van regter O’Hara: “Kwaad het gekom met die val van die engele. Daar is ’n wil teenoor die wil van God verhef. Dit was ’n morele kwaad. ’n Skok het deur die heelal gegaan en die hele wêreld betrek. Die perfektheid het aan duisende skerwe gespat. Lucifer het soos ’n ster deur die firmament geskiet …”

En die lig flits deur die hele vertrek. Die afsluiter rits met ’n vyftigste van ’n sekonde en bokant die bereik van die menslike oor bulder en bulder en bulder die stem van die bees.

Die Silberstein-trilogie

Подняться наверх