Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 14

HOOFSTUK III Ballet van die boere I

Оглавление

Toe Henry wakker word, sing die voëltjies in die bome voor sy venster. Dit is een van daardie Bolandse oggende wanneer die hele omgewing meedoen om ’n herinnering te skep aan ’n sonskyndag wat gedurig in die toekoms sal herlewe as “een sonnige môre …”

Die koffie in die konfoor is vervrolik deur ’n skeutjie Benediktyn, die gordyne is oopgetrek en die volle betowering van die dag het tot binne-in die kamer gedring. In die badkamer maak hy nog ’n ontdekking: hy druk aan een van die leeus se oë en ’n fyn straaltjie dennegeursel kleur die water groen. ’n Kakiebroek, hemp en sombrerohoed is opsigtelik langs sy klere geplaas. Aldus geklee, vind hy Jock wat vir hom in die tuin wag, sy hande agter sy kop saamgeslaan, sy gesig na die lug verhef, besig om met diepe asemhaling die suiwer lug te proe.

“Mooi!” sê hy en kyk goedkeurend na Henry se uitrusting. “En nou kan ons die boerdery verder inspekteer.”

Hulle loop by die vlammende staaltenk verby sonder om twee keer daar­na te kyk. Hulle vermy die groen vragmotors geduldig en beskou dan drieduisend spekvet Duitse merinolammers wat in slenterkampies wag op bemarking. Daarna gaan hulle na die kelders. Maar eers word hulle deur ’n bewaarder voorgekeer wat onverbiddelik aandring op ’n persoonskaart of een of ander alternatiewe vorm van identifikasie. Dit genoodsaak hulle om by sy kantoortjie in te gaan waar ’n ontsaglike foto van ’n kremetartboom teen die muur hang.

Die hele vensterbank is oortrek met potplante wat só weelderig groei dat hulle die meeste van die lig uitsluit en die kamertjie in ’n gedurige half-duister hul. By gebrek aan persoonskaarte moet hulle vorms invul. Daarna bel die bewaarder ’n sekere nommer. Hy behandel hulle met die grootste geringskatting. Terwyl hy op ’n antwoord wag, sit hy op die kant van die lessenaar en knip dooie blomme met ’n snoeiskêr tussen die plante uit. Meteens luister hy aandagtig, lees sekere besonderhede op die ingevulde vorms voor en lê die gehoorbuis terug op die staandertjie. Stadig, omslagtig en versigtig vul hy ’n toegangspermit in, gluur na hulle onder donker wenkbroue en beduie dat hulle maar kan gaan.

“Ken hy jou dan nie?” vra Henry.

“Natuurlik,” sê Jock. “Ek het hom dan self aangestel. Maar die oubaas is baie puntenerig. Hy voer die regulasies stiptelik uit en duld geen uitson­dering nie. Ek het ongelukkig my persoonskaart vergeet.”

“Maar hoekom al die permitte?” vra Henry.

Hulle stap nou deur ’n gang wat soos ’n tonnel lyk en hulle voetstappe klink hol teen die aangeklamde mure waar ’n groenerige mos aan die stene kleef.

“Om ongeoorloofde persone uit te hou, natuurlik,” sê Jock. “Daar is ’n oorspronklike rede vir elke regulasie. Hoe komplekser die sisteem, hoe moeiliker om die presiese rede vir elke regulasie te bepaal. Regulasies word naderhand dogmas, waarhede waaroor daar nie meer te redeneer is nie.

Hulle draai in ’n sygangetjie af en kry gedurig wit geklede mans wat met ingetoë toewyding soos priesters in ’n tempel meedoen aan die ritueel van fermentasie en volbringing, wat met pipette, glasies, barometers en die ander heilige instrumente van hulle amp die siel van die wyn lei tot uiteindelike individuasie.

Hulle bereik ’n kelder waar ’n reeks lêers soos doodkiste in die skemer lê.

“Hier is ’n replika van Spanje,” sê Jock met die toewyding van sy pries­ters. “Hier lê die mosto en gis tot al die suiker verdwyn het en die vino de ánada te voorskyn kom. Dit duur twaalf tot agtien maande en, soos die Calvinistiese siel van die mens, is sommige bestem tot volmaaktheid en ander tot wrange ondergang. Ons het geen beheer oor die resultaat van die gisting nie; ons kan slegs die Yeso byvoeg om te help – en die res is in die hand van die Skepper.”

Hiervandaan loop hulle deur nog ’n gangetjie, groener van mos, egalig van temperatuur, vry van geluid behalwe hulle voetstappe wat die regte stilte verstoor, tot in ’n ander kelder.

“En hier is die Criadera,” sê Jock. “Die fermentasie is voltooi. Dis die kinderkamer waar elke soort volgens sy natuur verouder.”

Op sommige vaatjies is daar die tekens van die Palma, op ander die een streep van Raya, die twee strepe van Dos Rayas en die kruis van Palo Cortado.

“Mens kan dit so stel,” sê Jock, “dis die hemel. Die wrang vrug is nou uitgeskakel. Hier lê elke siel volgens die aard van sy perfektheid.”

Nou lei die gangetjie tot heel onder in een van die grootste kelders. Hier lê die vaatjies ry bo-op ry in drie verdiepings, elkeen, van bo tot onder, met die ander verbind.

“Dit is die volkome geïntegreerde wyn,” sê Jock. “Elke ry stel ’n sekere jaar voor, volgens die solera-sisteem, naby die aarde. Hier lê die oneindige kombinasies van Palma, Raya, Dos Rayas en Cortado’s. Van die heel onderste soleras word die kombinasies getap, en dan word elke laag outomaties hervul deur die jonger laag van bo. Dit is die uiteindelike bereiking, die versoening van al die bestanddele, die middelpunt van balans, die ware Self in elk geval.”

Jock lyk in die kelderlig, ten spyte van sy boeredrag, soos die hiërophant wat sy volgelinge in die geheimenisse van die misterie lei.

“In hierdie kelders,” deklameer hy, sy stem donderend teen die mure, “vind miskien iets soortgelyks plaas as wat met die misteries van Eleusis in die grotte plaasgevind het, óf in die Attis-Kubeliese misteries, óf in die ware gelowige met die volkome belewing van sy simbole, óf in die kunstenaar met sy oomblikke van visie, óf in die siel van die mens wanneer hy in volmaaktheid van insig die versoeningspunt bereik, die complexio oppositorum begryp in die conjunctio oppositorum, die lewe in God ervaar.”

Hulle verlaat die kelder, en namate hulle na bowe terugkeer, maak die mistieke lig in Jock se oë plek vir die komplekse alledaagse wat van oomblik tot oomblik en prikkeling tot prikkeling wissel.

Hulle stap by ’n groot gebou verby waar ’n hele reeks kleurlinge besig is. Almal is vrolik en uitgelate en die atmosfeer het nou gewissel van die bonatuurlike tot die alledaagse. Hulle kyk astrant na Jock en Henry met die superieure besef van menslike swakheid wat alle stand uitwis en almal herlei tot alledaagse menswees: die bekwaamheid ten opsigte van seks, liefde, bevrediging van materiële behoeftes en die vermoë tot oorlewing in die rottejag wat die lewe is. ’n Jong Slamaaiermeisie kyk direk in Henry se oë en lag meteens as hy wegkyk.

Maar Jock lei Henry by hulle verby. Langsaan is ’n kleiner gebou, ver­dwerg deur twee voorwerpe wat soos reusagtige lokomotiewe lyk. Groot hope steenkool is aan weerskante van die gebou gestapel. Die oonde is oop, en naturelle, hulle gesigte blink van die sweet, is besig om vyandig die smeulende mae van die kolosse te vul.

Jock loop voor tot in ’n kamertjie wat van kant tot kant met koperpype bevleg is. Hy trek ’n deurtjie agter hom toe en ’n kliniese stilte heers in die vertrekkie. Hy kyk na Henry, beduie vir hom iets met sy vinger, en draai meteens ’n kraan oop. ’n Helse stoomgesuis vul die vertrek sodat alle ander geluide uitgewis word. Eenkant in die hoek staan ’n ysterhamer. Jock tel dit op en slaan met kragtige hale teen ’n stuk staal sodat die hamer met blitsvinnige protes terugspring terwyl die spiere in sy arms swel om die yster te tem. Maar daar is geen geluid behalwe die gesuis nie. In uitbundige vervoering spring Jock op en af, smyt die hamer weg, skop teen die mure, slaan met sy vuiste teen die pype – en daar is steeds geen geluid nie be­halwe die oorheersende stoom wat op eie manier, namate hulle daaraan gewoond raak, ’n stilte van sy eie skep.

Nou draai Jock die stoomkraan toe en opeens kom sy stem duidelik en helder tot Henry.

“Dit is my kamer van afsondering,” sê hy. “In hierdie gedruis is die vol­kome stilte.” Hy vat dringend aan Henry se arm en trek hom nader, sy een hand op die kraan, sy stem in vervoering onder die aanslag van sy besondere verdowingsmiddel. “Gee jy om om mee te doen? Sodra ek die kraan aan­draai, wil ek hê dat jy so hard moet skree as wat jy kan. Vloek, laster en huil soos jy wil – protesteer hardop soos jy alleen ander tye in jou gedagtes kan protesteer, beskerm soos Job jou onverdiende menslike lot, want hier praat jy direk tot jou Skepper; niemand anders kan jou hoor nie.” Sy oë is spierwit met die blink lig van fanatisme. “Hier is jy alleen soos jy nog nooit alleen was nie, maar dis nie die impotente stem van jou gedagtes nie, dis die volle, liggaamlike stem wat skreeu teenoor die Heelal; dis jy self in volle beheer van jou sintuie; dis jy, Job, wat van voor af die vraag teen die Almag uitbulder. Dis jou reg, as mens, om met alles in jou vermoë jou protes aan te teken in die tussenwêreld van stilte wat nie stilte is nie.”

Hy draai die kraan meteens oop, die stoomgesuis oorweldig alles, verdoof alle ander geluide en gaan oor tot die nuwe stilte wat uit die eenklank gebore word. Dis net Jock se mond wat oop- en toegaan. Henry kan die are in sy nek sien swel sy magtige bors wat dein met die krag van sy onhoorbare krete. Sy oë is na die dak gehef, sy arms gekrom in die lug, sy hele liggaam sidderend in die geluidlose ontboeseming. Vir die eerste ruk is Henry verslae voor hierdie sonderlinge bieg, dan begin iets in homself ontwaak, in hierdie oorverdowende stilte – ’n gevoel van ganse alleenheid, asof hy in ’n verlate landskap staan, in die eensaamheid van die wildernis, en in die afsondering van diep binne hom die oerkreet opwel, die verlange, die ontketende protes teen die magteloosheid, die weeklag van sy verlatenheid, die vrye, gans ander formulering van sy diepste begeertes, die ontlediging van sy hart self. Hy voel ’n klammigheid op sy wange en besef dat dit trane is. Hy vee hulle met sy hand af en ontdek in die proses dat sy mond wawyd oop is. Daar is iets wat in sy keel prikkel, iets in sy bors, iets in sy longe, en hy besef dat hy homself ook oorgegee het. Nou eers begin hy dink en die aard van sy versugtings en protes formuleer, maar spoedig besef hy dat die gewone formulering nie nodig is nie. Sekere woorde, sekere begrippe, sekere geluide, waarvan hy self nie seker is nie, skreeu hy ten hemele; slegs die kern van gevoel du op, die halfgebore gedagtes kom en gaan en niemand weet wat te voorskyn kom nie. Dis meer as die stilswyende wens, verlange of weeklag, want dit is geartikuleer sonder die beperktheid van gewone artikulasie. Dis ’n volkome vrye uiting sonder die bande van selfoordeel, want hy weet nie wat hy sê nie. Dis die grootste, die alleromvattendste kommunikasie met die Almagtige wat hy nog ooit ervaar het.

Uitgeput, intens gereinig, snak hy na asem en sien hoe Jock meteens sy vinger na sy lippe bring. Dan word die kraan toegedraai en neem die ander stilte oor wat slegs deur hulle asemhalings onderbreek word. Hulle kyk na mekaar maar met die gevoel van mense wat ’n ervaring gedeel het, en tog geïsoleer was van mekaar; met die kameraderie wat spruit uit die volkome deelname, en tog met ’n kern van geheimhouding wat onaantasbaar is. Dis die volmaakte broederskap, en hulle verlaat die heiligdom in volkome swye.

Die Silberstein-trilogie

Подняться наверх