Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 8

III

Оглавление

Dis vir Henry asof iets plotseling met die huis gebeur het: die mense praat nog, dans en klets, maar dis asof daar ’n ander kwaliteit in die gedruis gekom het. Dit voel vir hom soos ’n grammofoon wat besig is om af te loop. Hy kan die gevoel nie afskud nie en hy staan met sy kop skuins terwyl hy aandagtig luister. Dan besef hy meteens wat gebeur het. Die diesel-ligte-enjin het gaan staan. Maar spoedig verander die kwaliteit van die geluide weer en, alhoewel daar ’n toonverandering is, is daar weer lewe. Vanuit die tuin het ’n ander enjin begin werk, met ’n vinniger ritme, met meer omwentelinge per minuut – die pompinstallasie wat van die ligtetoestel oorgeneem het en nou stadig besig is om die swembad leeg te pomp, die water te filtreer en die swembad weer vol te pomp.

Die brandewyn begin nou ’n uitwerking op hom hê en Henry vind dat hy geredeliker saam met die rykes hulle dans uitvoer. Hy dans met die slank Mrs Silberstein en pas hom aan by ’n ritme wat sy self op subtiele wyse aandui. Sy vertel hom van Jock wat haar nie altyd begryp nie en haar tot raserny dryf met sy oomblikke van waansinnige jaloesie. Hy verlaat die melaatse Mrs Silberstein en dans met die madonna met die donker oë wat so vars en mooi soos ’n lelie lyk. “Is jy Salome?” vra hy terwyl sy haarself gewillig in sy arms oorgee. Sy begin meteens lag, eers saggies terwyl sy telkens op haar lippies byt, dan harder en musikaler as die emosie haar oorweldig. “O, Henry!” sê sy magteloos in die greep van haar lagbui. Die volgende oomblik dans hy met ’n ander donkerogige maagd wat stiptelik korrek, met ingehouer ritme, hom hooghartig beperk tot die genot van klassieker maat. Hy durf háár nie vra nie en verlaat haar in die stilte van sobere voltooiing. Hy dans opeenvolgend met donkerogige vroulike vorms met velle so wit soos melk en so bruin soos ou hout wat hom deur al die nuanses van die dans voer, hom betower met allerhande sinneprikkelende bewegings, hom terg met oneindige samestellings van persoonlikhede, hom welvoeglik-skaamteloos uitlok tot hul erotiese hemele. Hy kry vir J.J., alleen hierdie keer, terwyl Jock die slank Mrs Silberstein soos ’n beer teen hom aandruk en haar protesterend wegdans.

“Watter een is Salome, J.J.?” vra Henry aan hom.

J.J. hoor die vraag nie mooi nie, want hy is besig om die slank Mrs Silberstein met sy oë te volg.

Henry moet die vraag herhaal.

J.J. kan sy ore nie glo nie. Dan lag hy meteens en tik Henry in die ribbes. “Jy is ’n raar een,” sê hy. Hy beskou Henry asof hy hom vir die eerste keer raaksien. “Hoekom het jy ’n aandpak aangetrek? Dis ’n bietjie opsigtelik. Dis skaars die tyd en plek vir allerhande eksentrisiteite.”

Die slank Mrs Silberstein het op ’n heel besondere wyse daarin geslaag om van Jock ontslae te raak. Sy het meteens haar hoof op sy linkerskouer laat rus, haar lyf ledemaat vir ledemaat teen syne gedruk en hom, op die maat van die musiek wat ongemerk in tempo toegeneem het, gewil om haar al in die rondte te draai, téén die beweging van die klok, totdat hulle naderhand met verblindende snelheid één ge­word het in die kringloop. In die warreling kan mens haar hare sien waai soos ’n swart sprei uit die vortex van hulle bewegings terwyl die twee gesigte, manlik en vroulik, eers kenbaar is en dan onsydig word. Rond en rond, wilder en wilder beweeg hulle totdat die bewegings afneem en verflou en in die middel van die draaikolk die powere manlike bruut meteens materialiseer en tot stilstand kom, terwyl sy self langsaam die maalstroom om hom voltooi, al wyer en wyer, tot voor J.J. wat met regte tydsberekening, en op pas van die veranderde maat, haar in sy arms neem en walsend op die vloer verdwyn.

Jock loop houterig tot by Henry en plaas sy hand op die jongman se skouer. “Sy het ’n obsessie om dinge te tel,” sê hy. “Sy kan nie huil nie. Sy kan op vyftig maniere die aiguillette knoop.” Hy soek angstig in Henry se gesig na begrip en draai dan sy rug mismoedig op hom.

Maar Henry het die vrees in sy oë gesien en oorweeg dit nou ernstig, soos sy gewoonte is, om aan alle verskynsels sy onverdeelde aandag te gee. Hoe raar dit ook al klink, vrees is, naas liefde, een van die emosies wat hy die minste ken. Angs wel: daardie gevoel wat jou soms beetpak sonder rede, wat diep uit ’n onbewuste wêreld voortkom, wat geen sin maak nie – dit, maar nie vrees nie, want vrees het ’n gevaarvoorwerp nodig en, as jy beskermd grootgemaak is, vry is van ambisie, omring is deur die sekuriteit van aardse besittings, gerugsteun deur jou verstand, beskerm deur jou God, dan kan jy al die gevaarvoorwerpe vermy. Daar moet bygevoeg word dat Henry geen kennis dra van oorlog en ander vorms van geweldpleging nie, nog nooit bedreig is deur enige ramp nie, geen besef het van die subtiele bedreiging van die moderne staat nie, geen geloof het in die duiwel nie. Geloof en liefde is byna sinoniem; om iets te loof beteken ook om iets lief te hê. Henry glo in sy God en dit beteken vir hom slegs: God is daar om hom te beskerm. In daardie mate is hy dan so onskuldig soos ’n kind en deel hy met ’n kind die onkunde van liefde en die inkorting van geloof tot die beperkte glo. Henry gaan in die huwelik gepaar word met Salome en, soos die slank Mrs Silberstein tereg opgemerk het: “Sy onskuld moet vernietig word. Hoe anders durf hy trou?” En hoe anders kan jy bedorwe word as om soveel mense as moontlik te ontmoet?

Iemand versper sy weg. Dis die hertogin. Hy probeer eers ’n gesprek met haar aanknoop en gesels oor die aangename partytjie, die sjarmante gas­te, die interessante leefwyse van die Silbersteins, maar sy staan rotsvas, vierkantig voor hom, haar ogies met onbeweegbare haat op hom gerig. Te midde van al die onvoorspelbare mense is sy die enigste konstante voor­werp met haar voete wyd uit mekaar in velskoene, haar boerse gesig tuis onder die melkvroudoek, haar veragting wesenlik en konsekwent. Hy bly meteens stil en voel eienaardig gerusgestel deur die eenvoud van haar enkele obsessie. Hier is ten minste iets wat ongekompliseerd en begryplik is. Hy let op dat sy effens sukkel om ’n gepaste woord te vind, en dan kom dit: “Schlemiel!”

Die meeste het nou opgehou met dans en beweeg van groepie tot groepie om die verrassende ingewings van die oomblik aan mekaar mee te deel. Lady Joan verskyn langs Henry en haak by hom in. Sy is effens onvas op haar voete en gebruik hom as stut terwyl sy die gesprek met simpatieke bewegings vergesel. Haar masker is intussen gerepareer sodat net haar oë en haar lippe roer.

“Ek het met sir Henry gepraat oor jou en dit sal vir ons ’n plesier wees as jy by ons op Shangri-la kom kuier.” Sy glimlag vir die hertogin. Die masker kreukel en herstel. “Sir Henry stel in jongmense belang. Jongmense is sy lewe. Hy verjong homself in die geselskap van die jeug.”

“A!” sê sir Henry wat sonder ’n masker langs hulle verskyn, sy gesig belynd en verfrommel. Hy buig in die rigting van die hertogin. “Mrs Silberstein.” Die skoenlapperstrikkie om sy nek strook kleurryk met die kleure op sy gesig. “A, Mrs Silberstein, watter aangename partytjie.’’ Hy knik vir Henry en daar roer iets in sy rokerige, moeë oë as hy die vars jongman aanskou. Hy wys met sy vinger en beweeg dit heen en weer.

Ook dr. Johns en regter O’Hara sluit by hulle aan, wit soos melaatses.

“Die jong Mrs Silberstein en Mr van Eeden …” begin dr. Johns skinder, gewaar die hertogin, en verval in swye.

“Liewe gas­te!” kom die stem van Jock meteens luid bo al die ander stemme uit en hy tik twee keer met sy kneukels op ’n sestienpotige agterhuis-stinkhouttafel.

Die dronk-beskaafde gedruis verval tot ’n beskaafd-gedissiplineerde stilte.

Die Silberstein-trilogie

Подняться наверх