Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 9
IV
Оглавление“Liewe vriende,” sê Jock, “dis miskien alreeds vir julle duidelik dat ons vanaand nie bloot gesellig byeenkom nie, maar dat ons hier saamgekom het om die verbond tussen twee aangename jongmense te vier.”
Hy glimlag in die rigting van Henry wat nou omring is deur ’n groepie blosende, laggende jongmeisies.
“Ek bedoel, natuurlik, Salome en Henry.”
Almal knik minsaam in Henry se rigting en begin saggies hande klap. Ook die slank Mrs Silberstein en J.J. sluit by Henry aan.
“By so ’n geleentheid is dit gebruiklik om die goeie hoedanighede van die paartjie aan te prys, maar ek gaan dit nie doen nie. Ek gaan die paartjie vanaand wys op die hoedanighede van hulle goeie vriende wat hier byeen is. Maar ek gaan daardie hoedanighede nie opnoem nie, ek gaan hulle slegs vra om hulle oë, harte en gemoedere oop te hou. Ek sal net sê: ‘Salome en Henry, kyk om julle en word bewus van julle vriende.’”
Almal glimlag spierwit in die rigting van Henry, omring deur die meisies.
Jock tik weer op die tafel en twee diensmeisies maak die deur oop. Daar is ’n effense geskuifel en dan verskyn die vaal Misses Silberstein met ’n enorme koek op ’n skinkbord tussen hulle. Hulle dra dit tot by die sestienpotige tafel, plaas dit versigtig daarop neer en verdwyn verleë in die agtergrond. Bo-op die koek is twee figuurtjies, manlik en vroulik – twee gesiglose poppies wat Salome en Henry voorstel. Aangedruk deur die toenemende groep om hom, beweeg Henry tot by die tafel waar hy ’n silwermes ontvang wat Jock vir hom aanbied, en dan omdraai om vir die eerste keer sy lewensmaat te identifiseer. Hy kyk na die donkerogige meisies, na die slank Mrs Silberstein, J.J., lady Joan, sir Henry en al die ander en hy wag vir sy beminde om na vore te tree. Maar opeens sak die hele giggelende groepie op hom toe en word die koek in ’n ommesientjie versnipper en onder die vriendekring versprei.
Almal klop hom op die skouer om hul toegeneentheid aan te dui en hy word op die wang, op die mond, om die slape gesoen deur lippies waarin alle moontlike emosies vaardig is. Dan word die partytjie hervat en bly Henry alleen oor met ’n stukkie koek waarop ’n afkopmeisie alreeds tot versiersuiker wegsmelt.
Nou word die partytjie doller, want dit nader die einde. Henry word na alle hubba-hubba-plekke genooi deur bekendes en onbekendes, voorsien van ’n lys sakeplekke waar hy die beste visgereedskap, motorbote en paddamantoerusting kan kry, wenke gegee ten opsigte van goudaandele en perde, en oorlaai met adresse indien hy geneig sou voel tot verdere afsprake (met veel belofte in talle donker oë).
Sir Henry maan hom aan om sy doodswens te vergeet; dr. Johns, sy morbiede belangstelling in siektes; regter O’Hara, sy obsessie omtrent allerhande vorms van sosiale afwykings; en Jock, sy vooroordeel teen die rykes. Eenkeer, toe alles nog luidrugtig toegegaan het, het hy die badkamer ’n tydjie besoek en met sy terugkeer ’n leë voorhuis gevind. Van die tuin af het die laaste stemme van die vertrekkende gaste gekom. Hy was op die punt om te loop toe hy die hertogin alleen op ’n stoel sien sit, haar hande op haar skoot gevou, haar swart ogies op hom gerig.
“Schnorer!” sê sy vir hom, maar sy is moeg, vaak, oud en afgedaan. Haar ogies het dof geword en sy is op die punt om haar bewussyn te verloor.
In sy kamer, presies in die middel van die dubbelbed, weggesink in spons-rubber, lê die jongman in die lig van ’n falliese kandelaar wat, gesteun op drie pote, eers seshoekig, dan tolvormig, en oplaas spiraal gedraai, ’n ruspunt vind in ’n bronsblaker, van waar ’n herhaling van die voorgaande ontwerp hervat word om te eindig met ’n nagemaakte kers, pseudo-bewaks, plastiek-bevlam, elektries belig. Die huis is stil, en van die tuin af klop die vinniger enjin die laaste waters in die swembad in. Opeens hou die geluid op en die stilte van die huis strek tot in die tuin.
Iemand beweeg in die gang. Hy hoor die sagte voetstappe, die fluistering van ’n rok. Hy staan op en maak die deur oop. Regoor sy kamer is ’n ander deur besig om toe te gaan. Hy sien die been van ’n meisie, die swaai van tweedmateriaal, ’n gedeelte van ’n arm. Alle beweging verstar meteens. Onsigbaar word hulle bewus van mekaar en bly die oomblik gevange. Dan hervat die tydsverloop en word die deur saggies toegetrek. Hy is op die punt om terug te gaan, toe iets verder af in die gang sy aandag trek. Die slank Mrs Silberstein het van êrens verskyn en is besig om in ’n deurskynende nylon-nagrok die gang op te hardloop. Sy kon net sowel nakend gewees het. Aan die bo-ent van die gang wag Jock vir haar, blou gestreep in sy slaapklere. Sy gesig is bloedrooi en sy mond is wawyd oop.
“LILITH!” donder sy stem die stilte in.
Die jongman rook ’n laaste sigaret en begeef hom na sy bed. Meteens begin ’n ander enjin werk – met langsamer, hipnotiese geluide. En bokant die plafon, eers stadiger, dan vinniger, draai twee reuseskroewe wat deur talle luikgate die warm lug na buite dryf.