Читать книгу Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux - Страница 11

II

Оглавление

Henry het so vas soos ’n klip geslaap en teen die aand se kant wakker ge­word met die ontstellende besef dat hy nie eens weet watter vorm die partytjie sal aanneem nie. Hy trek sy japon aan en gaan na J.J. se kamer waar hy sy oom vind; pienk gebad, vars geskeer en so vrolik soos ’n kwartel.

“Wel, wel, klein Henry,” sê hy. “En hoe gaan dit met Salome, hmmmm-mm?”

“Ek ken haar glad nie,” sê Henry.

“O-hoooo!” sê J.J. “Al daardie filosofiese gesprekke! Laat dit maar liewer vir Jock Silberstein. Wat jou oom betref, Boeta, daar is maar net één manier om ’n vrou te ken.” En hy knipoog vir Henry.

“Ek het eintlik gekom,” sê Henry, “om uit te vind watter soort partytjie dit sal wees.”

J.J. lig sy wenkbroue, slaan ’n minsame, prettige houding aan, knieë teen mekaar, hand in die sy, ander hand met wysvinger teen die wang en sê: “Kunstenaars, Boeta.”

Soos alle uiters manlike filistyne, beskou hy kunstenaars as verwyfd, indien nie homoseksueel nie.

Terug in sy kamer, besluit Henry dat dit die veiligste sal wees om die voor­beeld te volg wat die gas­te die vorige aand gestel het. Terwyl hy ’n krawat met paisley-ontwerp om sy nek knoop, hoor hy hoe die ligte-enjin eers ’n paar kloppe gee en dan die vereiste hoeveelheid omwentelings bereik. Toe hy op die punt is om te loop, sien hy dat iemand op die tafeltjie langs sy bed, waar die konfoor vroeër in die dag was, iets neergesit het wat lyk soos die kop van ’n takbok. By nadere ondersoek blyk dit wel ’n nagemaakte kop van ’n takbok te wees, met horings, glasoë en alles kompleet. Die voorwerp is van rubber gemaak en, ten spyte van sy grootte, is dit so lig soos ’n veertjie. Die rede hiervoor is dat dit binnekant uitgehol is. Henry beskou dit van alle kante en plaas dit op die tafeltjie terug. Buitekant het dit intussen donker ge­word en hy besluit dat dit tyd is om by die gas­te aan te sluit.

Toe hy by die voorhuis kom, vind hy dat die vertrek leeg is, al die stoele en rusbanke omhul deur wit oortreksels. Hy kry een van die kleurlingbediendes en vra haar waar die mense is, waarop sy hom wys om haar te volg. Sy beweeg ligvoets deur die gang, om draaitjies, deur sonkamers na buite, en hy het moeite om by te hou aangesien hy kort-kort struikel as hulle af en toe deur onverligte plekke gaan. Hulle kom oplaas by die grasperk en ’n verrassende toneel skitter Henry in die gesig. Langs die swembad is allerhande kleure ligte tussen bome, blomme en struike aangebring. Op die gras, wisselend van kleur tot kleur, beweeg voorwerpe wat soos diere lyk – ’n hele dieretuin van fauna. Toe hy nader kom, sien hy dat dit mans en vrouens is: bikini’s van onder, maar dierekoppe waar hulle gesigte moet wees.

Hulle hou meteens op om te beweeg en te praat as hy onder die lig ver­skyn en ’n hele gerei van dieregesigte draai hulle snoete en glasoë na hom toe: bere, leeus, varke, bokke, akkedisse, koggelmanders, paddas, katte en honde. Dan begin almal hande klap, en ’n kolossale beer sê: “Welkom, Henry. Welkom in ons midde.”

’n Takbokkie in ’n silwer bikini kom te voorskyn en gaan voor Henry staan terwyl die ligte op haar skyn. Die silwer blink en vestig sy aandag op die welomhulde sacrum, acetabulum, pubis en coccyx. Sy haak by hom in en die horinkies kom skaars by sy skouers. Hulle lyk ’n pragtige paar, hierdie twee, soos iets uit ’n volkslegende, die mooi jong prins en sy woudbruid.

“A!” sê die beer Silberstein. “Hoe mooi! Maar waar is jou horings?” Hy wag nie op ’n antwoord nie. “Beweeg tussen ons gas­te, julle twee.” En hy omarm ’n verbygaande kat met slank bene wat tevergeefs uit sy greep probeer kom.

Sy loop liggies langs hom en haar hand lê stil in syne. Sy volg hom vol­kome, asof hulle dans, en hy kan die bewegings van haar ledemate teen syne voel. Hulle sink weg in die gras en langs die swembad weerkaats hulle beelde blou in die water. In volkome swye wentel hulle in en uit tussen die gas­te en die tablo’s van hulle kaperjolle. Maar wat kan jy vir jou beminde sê as sy volkome gesigloos is? Hy trek haar nog stywer teen hom aan en vind voorlopig genoegsame kommunikasie in die liggaamlike aanraking. Al sou hulle nou praat, sou die gesprekke, met die toevallige openbaring van die toevallige persoonlikheid van die toevallige oomblik, gering wees voor hierdie dieper verbintenis van die liggaam. Daarom praat hulle nie en Henry en Salome wandel in harmonieuse swye deur die betowerde landskap.

Maar dit duur nie lank nie, of hulle word voorgekeer deur twee ou uile. Twee mae hang rustig oor bikini’s, oumansknieknoppe klop teen mekaar, en die bene, ongerep deur enige son, blink wit in die lig.

“A! Meneer Van Eeden,” sê die een. “U is seker verbaas om ons hier te sien?” Hy buig in die rigting van die takbokkie en wend hom weer tot Henry. “Maar ons van Bishopscourt is nie onbekend met die kunste nie. Wie dink u sal die skilderye koop wat hierdie jong klomp skilder as ons dit nie doen nie? Dis wel waar dat ons dikwels eers koop nadat die kunswerk as sodanig erken word, maar ons betaal in harde munt genoeg vir ons gebrek aan voorafkennis.”

’n Gevulde glasie sjampanje verdwyn êrens onder die snawel en verskyn weer ongevul. Twee enorme uiloë staar bewegingloos na Henry.

“Jock Silberstein vertel egter dat u geïnteresseerd is in die begrip van goed en kwaad. Nou, ek moet sê, vir iemand van u jare het u ’n onverwagte” (hy beklemtoon die woorde) “en diepsinnige belangstelling in die menswees met al sy vertakkinge. Dit strek u tot u eer.” ’n Pouwyfie met mooi bene trek sy aandag maar verloor dit as sy op die rug van ’n leeu gelig word. “Daar is egter ’n paar ander stellings van Jock wat ek wil kritiseer en ek hoop u sal met my saamstem.”

Henry knik en trek Salome stywer teen hom aan. Daar is niks so lekker as bedekte liefkosings in die aangesig van die konvensionele oomblik nie.

“Volgens Jock se beskrywing van die malum as ’n ontbering strook dit met die Christelike opvatting,” sê die uil. “Kwaad is dan ’n privatio boni. Maar waar hy praat van die twee teenoorgestelde pole (goed en kwaad) wat mekaar balanseer, dwaal hy.”

Hy beweeg sy kop na die ander uil wat aandagtig die gesprek met pie­ringoë volg.

“Hy verwar ook die begrip,” vervolg hy, “deur té veel aan kwaad as iets positiefs te dink. Sal ’n normale mens wat die kennis het van goed en kwaad só onnosel wees om kwaad ter wille van kwaad na te jaag? Daar is ’n teorie dat Satan self, in sy verset teen God, gelykheid met die Skepper geëis het en wel dat die gewone sterwelinge hulle saligheid van hom moet kry. Hy wou die enigste bron van goed wees.”

Henry voel hoe Salome effens van hom wegbeweeg; die glasoë van die takbokkop is in die rigting van die ander gas­te gedraai. Maar die uil se stem word nou sterker en dwing sy aandag terug.

“Kwaad bly dus negatief volgens ons Christelike opvatting, en is geen onafwendbare teenoorgestelde pool van goed nie. Satan vorm geen deel van ’n mistieke quadratum nie.” Hy kyk na die ander uil en die twee, teen­oor mekaar, lyk soos twee opgestopte diere in ’n museum.

Dis nou vir Henry duidelik dat Salome haar arm uit syne probeer wikkel. Hy worstel teen die onttrekking van sy beminde en is gedurig daarmee besig as die welluidende stem ’n ander deel van sy aandag gevange hou.

“Privatio boni,” deklameer die uil, “erken die werklikheid van kwaad omdat dit van die natuurlike goedheid van God se skepping sy goedheid ontneem. Vandaar dat onkunde so gevaarlik is. Slegs in daardie mate het Jock Silber­stein reg. Origens is ek bevrees dat hy te veel positiewe eienskappe aan kwaad gee, dat hy slegs die duiwel as die bron van alle kwaad beskou en selfs insinueer dat dit deur die skadukant van God geskep is.”

Die takbokkie het meteens van Henry losgeruk en beweeg nou vinnig tussen die menigte weg. Hy sien haar flitsende bene, die lyfie verskynend en verdwynend tussen al die ander en hy probeer haar volg, maar die uil het sy arm in ’n staalgreep vas. Hy kyk haar wanhopig agterna, hoe sy eenkeer na hom omkyk asof sy verwag dat hy haar moet volg, en hoe sy in die proses vas in die arms van ’n tier loop wat haar omhoog lig, al in die rondte met haar dans en agter ’n struik verdwyn.

Nou het die ander uil hom ook beet.

“Dan is daar die kwessie van onskuld en onkunde,” sê die ander uil. “In my beroep moet ons versigtig met woorde te werk gaan. Wat bedoel Jock met ‘onskuld’?”

Die twee uile het aan weerskante van Henry besit van hom geneem. Hulle loop tot by ’n tafeltjie waar ’n paar bottels sjampanje staan. Drie glasies word teen mekaar geklink, twee glasies word onder snawels geledig, en die laaste uil, sy stem effens dof agter al die vere, hervat die gesprek.

“Onskuldig ten opsigte van kwaad beteken dat die enkeling nie toere­keningsvatbaar is vir die kwaad in homself nie. Maar dis ’n contradictio in terminis, want die kwaad is deel van die mens. Die duiwel is slegs die eerste een wat geval het. A priori is die mens verantwoordelik en skuldig.” Hy loer na die ander uil asof hy teenkanting verwag, en gaan dan voort. “Waar dus van ’n onskuldige mens gepraat word, word eintlik ’n onkundige mens bedoel.”

Die uil vly hom op die gras neer en die ander volg sy voorbeeld.

“Veronderstel die mens dra nie kennis van die kwaad nie, hoe affekteer dit sy verantwoordelikheid?” Die uil oorweeg die probleem met snawel in die lug en laat sy snawel sak, denkbeeldig terug in die regbank. “Geensins nie. Gebrek aan kennis is geen verweer nie. In daardie mate het Jock reg en is onskuld (eintlik onkunde) blindheid van die gees; die mens is verantwoordelik vir sy dade.”

Dis duidelik dat die twee uile die gesprek geniet. Hulle koppe is soms dig teen mekaar om beter te praat en te hoor, want die stemme, agter die maskers, is volkome ontliggaam.

“Maar,” sê die uil, “onkunde ten opsigte van die goeie is terselfdertyd ’n oorsaak van die kwaad. In daardie selfde mate beteken onkunde van kwaad presies dieselfde. Onkunde verander nie die bestaan van goed of kwaad nie. Dus kan onkunde van goed en kwaad presies tot dieselfde lei.”

Henry soek tevergeefs. Daar is allerhande vorms van bokke, maar geen takbokkie nie.

“Kennis van goed alleen beteken onkunde van kwaad en kan tot kwaad lei. Kennis van kwaad alleen beteken onkunde van goed en kan ewe-eens tot kwaad lei. Beide kennis van goed en kwaad, om te kan onderskei, soos Jock sê, kan moontlik tot saligheid lei. Die mens, weens sy beperkte vermoë, kan slegs in ’n mate onderskei. Daar het Jock reg.” Die uil wend hom tot Henry. “Jock se sin moet wees: ‘. …n dis die tragedie van volwassenheid dat jy jou onkunde moet verloor, en eerder kennelik ten gronde moet gaan in die kwaad as om in onkunde te leef; dat jy die duiwel eers moet leer ken …’”

Henry is seker dat hy nou die takbokkie langs die swembad gesien het; oor die uil se skouer het hy eers die silwer van haar bikini sien blink, toe het hy die vloeiende beweging van haar bene gewaar terwyl sy stadig in die rigting van die swembad beweeg.

Hy spring meteens op, verby die versperrende hande wat na hom uit­gestrek word.

“Waarnatoe nou?” vra die een uil. “Ek kom nou eers by ’n interessante punt: die verskil tussen ’n morele en ’n nie-morele kwaad.”

“Miskien later,” sê Henry en hy loop vinnig weg terwyl die vier roerlose glasoë hom in die elektriese lig agternagluur.

Stadig keer die oë na mekaar toe en skitter ewe kwaadaardig voort terwyl die filosofiese gesprek gemoedelik hervat word.

Die Silberstein-trilogie

Подняться наверх