Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 11
WANNEER MOET JY DOKTER TOE GAAN?
ОглавлениеNormaalweg is ekseem nie ’n mediese noodtoestand nie en soms kan jy verligting kry met behulp van oor-die-toonbank-medisyne, velrome en lewenstylaanpassings. In die volgende gevalle moet jy egter by ’n dokter uitkom om meer effektiewe behandeling te kry:
•As die ekseem inbreuk maak op jou daaglikse lewe, met ander woorde jou werk word benadeel, jy kan nie belangrike byeenkomste bywoon nie, jou slaap word voortdurend onderbreek deur die gejeuk, en so meer.
•As oor-die-toonbank-middels soos hidrokortisoonroom nie die uitslag verlig nie.
•As die uitslag rooi, opgehewe en seer is; as blasies vorm, vloeistof uitloop en ’n kors gevorm word; as jy koors het. Al dié dinge dui op infeksie en vereis mediese aandag. Dit mag selfs nodig wees om in sulke gevalle na die ongevalleafdeling van ’n hospitaal toe te gaan.
•As jy ’n verswakte immuunstelsel het, aan bepaalde mediese toestande soos diabetes of vigs ly, as jy chemoterapie ondergaan of as jy ouer as 70 jaar is, moet jy by die geringste aanduiding van infeksie mediese sorg kry.
As jou dokter tydens die ondersoek die term pruritus gebruik, verwys hy/sy bloot na die gejeuk wat met ekseem en ander veltoestande gepaard gaan.
Ekseem kan nie deur middel van ’n enkele, bepalende bloedtoets gediagnoseer word nie. Die dokter sal die uitslag deeglik ondersoek en baie vrae aan jou stel voordat hy/sy ’n diagnose maak. Onthou, daar is talle soorte veluitslag, waarvan ekseem, of atopiese dermatitis, maar net een is.
Hoe lyk ekseem dan en wat onderskei dit van ander soorte veluitslag?