Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 18
4
ОглавлениеDie oorsake van ekseem
EKSEEM ontwikkel nie net weens een of twee maklik identifiseerbare en behandelbare faktore nie. Daar is verskillende fundamentele oorsake van die toestand en dan is daar snellers of prikkels wat die uitbreek van ekseem op ’n spesifieke tydstip meebring.
Die fundamentele oorsake lê binne-in jou liggaam. Jou gene, die skansfunksie van jou vel en jou immuunstelsel speel almal ’n rol in die ontstaan van hierdie veltoestand.
As jou gene bepaal dat jy ’n ekseemgeneigdheid het, sal die rooi, jeukerige toestand uitbreek wanneer jy aan sekere omgewingsfaktore soos allergene blootgestel word.
Die snellers wat die ekseemopvlamming teweegbring, kan binne of buite jou liggaam lê. Interne snellers kan byvoorbeeld hormoonskommelings en stres-opbouing wees. Buitesnellers is omgewings- en lewenstylfaktore soos chemikalieë in seep en ander wasmiddels, huisstofmyte, sekere kossoorte, die klimaat, ’n verandering van omgewing soos wanneer jy dalk na ’n droër omgewing toe trek, en so meer.