Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 20
Probleme met die skansfunksie van die vel
ОглавлениеSoos in Hoofstuk 3 uiteengesit, is die belangrikste funksie van ’n mens se vel om as ’n skans of beskermer tussen jou en die omgewing te dien. Hou ’n mens se gene enigsins met die skansfunksie verband?
Ons kyk net eers weer kortliks na wat die skansfunksie behels:
•Van binne na buite – Die meeste van ons liggaamselle bestaan uit omtrent 80% water. Hoe word daar verseker dat die water in die selle bly en nie in die droë lug verdamp nie? Die horinglaag, die heel buitenste deel van die epidermis, het die taak om te keer dat te veel vog uit ons liggame ontsnap.
•Van buite na binne – Die horinglaag is jou beskermende pantser teen stampe en stote en teen chemikalieë, kieme en ander mikrobes wat jou vel van buite af probeer binnedring. Dit aktiveer jou immuunstelsel wat teenliggame vervaardig om moontlike infeksie teen te werk. Dit is ook die horinglaag wat jou teen die ultravioletstrale van die son beskerm.
Die selle van die horinglaag is droë, dooie selle wat vanaf die dieper lae van die vel deur nuwe selle uitgewerk is na die oppervlak toe. Hierdie dooie selle vorm ’n struktuur soos ’n muur met bakstene en met sement (lipiede) tussen die bakstene.
Ekseem vertoon drie stadia: akuut, subakuut en chronies. ’n Spesifieke persoon kan sy lewe lank net een van die stadia ondervind of sy ekseem kan van een stadium na ’n volgende ontwikkel.
Die geen-defek wat tot ekseem kan aanleiding gee, het ’n invloed op die volwassewording en uitdroging van die selle en op die “sement” wat die selle dig bymekaar moet hou. Die gevolg van hierdie defek is ’n gebrek aan ’n proteïen met die naam filaggrien in die vel.
Die filaggrien-effek
Filaggrien is ’n reuse-proteïen wat in die epidermis voorkom. Dit is onontbeerlik vir die volwassewording van die velselle en die verdroging en verplatting van die baksteenagtige selle in die horinglaag. Die filaggrien verbind met die keratien in die horinglaag en bring sodoende die verplatting mee.
Terselfdertyd speel filaggrien ’n rol in die normale bevogtiging van die vel deurdat dit help om die noodsaaklike lipiedlaag met sy was en vet in stand te hou. (Sien Die epidermis in Hoofstuk 3 vir ‘n omskrywing van keratien en lipiede.)
Prof. Irwin McLean, ’n professor in menslike genetika aan die Universiteit van Dundee in Skotland, het in 2006 saam met twee kollegas baanbrekernavorsing oor ’n filaggrien-mutasie en die verband daarvan met ekseem gepubliseer.18 Mutasies in die gene wat die vervaardiging van filaggrien beheer, veroorsaak by sommige mense ’n aansienlike afname in die hoeveelheid filaggrien-proteïene in die vel. Dit kan selfs lei tot ’n algehele afwesigheid daarvan. Kinders erf die foutiewe filaggrien-geen van hul ouers.
In ’n artikel in die wetenskaplike tydskrif The Scientist beskryf prof. McLean die uitwerking van die tekort of algehele gebrek aan filaggrien. Die horinglaag kan nie behoorlik vorm nie omdat die selle nie na behore afplat nie. Daar vorm ook nie genoeg lipiede wat die sement tussen die baksteenselle uitmaak nie en gevolglik is die sellae onreëlmatig. Gapings in die horinglaag se struktuur en krake in die vel kom dan voor, dus is die skansfunksie ontoereikend. Te veel vog ontsnap en allergene en ander buitefaktore dring die vel makliker binne. Die feit dat die dieper vellae aan die omgewing blootgestel word, veroorsaak die ekseem.19
Die kliniese simptome van die gebrek aan filaggrien kan wissel. Party mense met die geen-mutasie sal vind dat hul velle net effens droog is, terwyl ander se velle uitermatig droog en skubberig en vol krake is – ’n toestand bekend as ichthyosis vulgaris of visvelsiekte. Die risiko by dié mense om atopiese ekseem en ook asma te ontwikkel is baie hoog.20
Navorsing wys ook meer en meer uit dat daar ’n verband kan wees tussen ’n filaggrien-tekort en die ontwikkeling van allergieë vir kos en vir kat-hare, maar interessant genoeg lyk dit asof die blootstelling aan honde op ’n vroeë leeftyd ’n mens dalk kan beskerm teen die ontwikkeling van ekseem. Dié navorsing is egter nog nie voldoende bewys nie. Oor die algemeen kom kos-allergieë wat ’n sneller vir ekseem kan wees by babas voor, terwyl inase-mingsallergieë (soos vir dierehare, stuifmeel en huisstofmyte) meer algemeen by ouer kinders en volwassenes voorkom.21
Die belangrikheid van die ontdekking van die verband tussen ’n filaggrien-tekort en ekseem lê daarin dat dit navorsers help om die toestand beter te verstaan en om nuwe, meer toepaslike behandelings te ontwikkel.
Die geen-mutasie wat filaggrien-produksie inkort, is oorerflik en aangebore. Dit kan nie later in jou lewe eers ontwikkel nie en kan ook nie uit jou liggaam verwyder word nie.
’n Filaggrien-tekort kan nie “genees” word nie en jy kan nie filaggrien-aanvullings neem nie. Mense met dié tekort sal hul lewe lank ’n brose, kwesbare vel hê. Die navorsing oor filaggrien is belangrik om ekseem beter te verstaan en om meer doeltreffende behandelingsmetodes te ontwikkel.