Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 14
DIE DIAGNOSE
ОглавлениеDaar is nie ’n klinkklare toets wat dokters kan doen om te bepaal of ’n pasiënt ekseem het nie. Die diagnose sal gedoen word op grond van:
•’n Volledige ondersoek. Al besoek jy die dokter met ’n uitslag op byvoorbeeld net jou hande, kan hy/sy jou hele liggaam ondersoek met die oog op tekens van ekseem. Jou oë en limfnodes kan byvoorbeeld ook aanduidings gee van die toestand.
•Die inagneming van al die simptome hierbo genoem, veral die uitslag en die gejeuk daarvan. Jeuk is ’n baie sterk aanduider van ekseem.
•’n Volledige familiegeskiedenis om die geneigdheid tot ekseem, asma en hooikoors te bepaal.
Die selfbestuur van die ekseemtoestand deur ’n pasiënt berus op pasiënt-onderrig deur die dokter. Volgehoue samewerking tussen medikus en pasiënt is onontbeerlik.
•Die verhoogde aanwesigheid van IgE-vlakke in die bloed. IgE (immuno-globulien E) is ’n soort proteïen wat deur die immuunstelsel vervaardig word. Dit is ’n teenliggaam wat net by soogdiere voorkom en dit beskerm die liggaam deur die proteïenkomponent van vreemde stowwe in die liggaam aan te val. Alle mense het IgE in hul bloed, maar sommige ekseemlyers se bloed wys verhoogde vlakke daarvan. Tydens ’n allergiese reaksie stel die IgE-teenliggaampies chemikalieë vry wat die omliggende weefsel beskadig.’n Bloedtoets sal nodig wees om jou IgE-vlakke te bepaal.
•Aangesien baie mense wat met ekseem worstel, ook allergieë toon, kan die dokter dalk allergie-toetse doen om moontlike irritante en prikkels/snellers vas te stel. Veral kinders met ekseem sal waarskynlik vir allergieë getoets word.
•Kos-allergieë kan bepaal word deur velpriktoetse en deur velplakkertoetse. Die reaksie wat op velpriktoetsing volg, kan negatief wees, maar daar kan steeds allergieë teenwoordig wees en dit kan oor die algemeen deur velplakkertoetse bepaal word.
•Bloedtoetse kan ook diagnosties baie nuttig wees, hoofsaaklik om ander toestande uit te skakel en om IgE-vlakke, soos hierbo beskryf, te toets. IgE-teenliggaampies is onder meer betrokke by allergiese reaksies teen kos. Bloedtoetse kan ook verder gebruik word om eosinofielvlakke te toets. Eosinofiele is ook ’n tipe teenliggaampie wat ’n rol speel by allergiese reaksies, onder meer ’n allergie vir sekere medisynes. Verhoogde eosinofiel in die bloed of in weefsel waar die medisyne gekonsentreerd is, kan potensieel ’n reaksie veroorsaak.
In ’n studie wat in die Indian Journal of Dermatology, Venerology and Leprology gepubliseer is, is bevind dat eosinofiel- en IgE-tellings in pasiënte met atopiese dermatitis beduidend hoër is en dat hierdie verhoogde vlakke ’n sterk invloed op die erns van die toestand uitoefen.12
’n Velbiopsie is ’n prosedure waarvolgens ’n klein monstertjie van die vel geneem word wat dan na ’n laboratorium toe gestuur word om onder ’n mikroskoop getoets te word.
•Dr. Johan van Wyk, ’n dermatoloog van Johannesburg, sê hy maak dikwels gebruik van velbiopsies vir ’n akkurate diagnose. Volgens hom kan ’n kolletjie ekseem soms ooreenkom met velkanker. Jy moet dus sekerheid kry. Sommige kankers kan ook baie jeuk en as jy ’n steroïed sou gee, stimuleer jy die kanker. ’n Velbiopsie kan hierdie onsekerhede oplos.
•’n Depmonster van die uitslag kan met ’n wattestokkie geneem en laboratorium toe gestuur word. Depmonsters speel nie juis ’n rol by die diagnose van ekseem nie, maar word gebruik om te bepaal watter soort infeksie ’n pasiënt het, want dit sal die aard van die mediese behandeling bepaal.