Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 9

IS EKSEEM AANSTEEKLIK?

Оглавление

Dit gebeur dikwels dat meer as een lid van ’n gesin of ’n familie aan ekseem ly. Dit is egter belangrik om te onthou dat elke ekseemlyer die toestand individueel opdoen. Jy steek nie by ’n ander ekseemlyer aan nie en as jy daaraan ly, kan jou kinders ook nie by jou aansteek nie.

Ekseempasiënte kan wel soms sekondêre infeksies soos koorsblare en fungus-infeksies opdoen wat wel aansteeklik kan wees deur middel van velkontak.

As ekseem nie aansteeklik is nie, hoekom kom dit dan in gesinne en families voor? Omdat ’n mens die geneigdheid om ekseem te ontwikkel oorerf. Wetenskaplikes het vasgestel dat die abnormale ontwikkeling van sowat twintig gene, spesifiek gemoeid met hoe jou liggaam op die omgewing reageer, een van die oorsake is.9 Hierdie abnormale gene het veral ’n effek op twee belangrike sake: (a) die vel se funksionering as ’n skans- of beskermingslaag teen omgewingsaanslae en (b) die reaksie van jou immuunstelsel op prikkelmiddels en bakterieë wat jou vel binnedring.

Die feit dat ekseem aan die toeneem is, kan egter nie net aan oorerflike gene toegeskryf word nie. Verskillende aspekte van die omgewing waarin ’n mens leef, speel ook ’n groot rol.

Ekseem is nie aansteeklik nie en kan dus nie van een persoon na ’n ander oorgedra word nie. Nóg volwassenes nóg kinders sal ekseem opdoen deur in aanraking te kom met iemand wat wel die toestand onder lede het.

In Afdeling 2: Oorsake van ekseem word die abnormale ontwikkeling van die gene, die probleme met die skansfunksie van die vel, die foutiewe immuunrespons en die omgewing as oorsake uitvoeriger bespreek.

Ekseem: Jou noodsaaklike gids

Подняться наверх