Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 12

ALGEMENE SIMPTOME

Оглавление

•Matig tot baie droë vel. Nie elkeen wat ’n droë vel het, sal noodwendig ekseem ontwikkel nie, maar ekseem gaan altyd gepaard met ’n droë vel. Ekseemvel is meer poreus as ’n gesonde vel en gevolglik verdamp liggaamsvloeistowwe makliker vanaf die oppervlak van die vel.10 Die droë vel, wat die gevolg van vogverdamping is, voel styf en nie elasties nie. Wit vlokkies of skubbe kan ook voorkom. Dit is juis die droogheid wat die erge, tipiese gejeuk veroorsaak.

•Jeuk. Die feitlik onuitstaanbare gejeuk is dié onderskeidende simptoom van ekseem. Nie alle vorme van veluitslag jeuk nie, maar ekseem jeuk altyd, ongeag waar dit op die liggaam voorkom. Die intense gejeuk kan selfs deur jou brein as pyn geïnterpreteer word. Snags kan ekseem ’n nagmerrie wees. Jy kan ure lank uit die slaap gehou word en die onreëlmatige slaappatroon maak jou traag en uitgeput. Boonop krap ’n mens snags dikwels onbewustelik en vererger so die toestand.

•Uitslag. Die tipiese gejeuk van ekseem word opgevolg deur ’n rooi, opgehewe, korserige uitslag. By mense met ligte velle kan die uitslag aanvanklik rooi wees en dan meer bruin verkleur. By mense met donker velle word die velpigmentasie beïnvloed en die aangetaste vel kan dan ’n ligter of donkerder kleur aanneem. Afgesien van die uitslag kan daar ook krakies agter die ore en in die handpalms ontstaan.

•Areas waar die uitslag voorkom (Sien Figuur 2.1). By volwassenes kom ekseem veral voor in die velvoue, op die nek, die hande, die binnekante van die arms (veral waar die arm by die elmboog buig), aan die agterkant van die bene waar die knie buig (die waai van die been) en by die enkels. In akute gevalle kan die hele liggaam geaffekteer word. Sue Armstrong-Brown beskryf in haar boek The Eczema Solution ’n akute episode waar haar ganse liggaam oortrek was met ekseem tot by haar voetsole.

Babas kry ekseem veral op die gesiggie, soos op die wange en om die mond, en op die bolyf. Die uitslag om die mond is dikwels te wyte aan die baba se gekwyl. As die kind begin kruip, kan die uitslag vanweë die wrywing na die knieë en elmboë uitbrei. Normaalweg kom ekseem glad nie in die baba se doek-area voor nie.

•Blasies. Tydens ’n akute fase kan klein speldekopblasies, gevul met ’n helder vloeistof, en ook rooi “hobbels” en swelling op die vel voorkom. Dit word veroorsaak deurdat histamien deur die ekseem in die weefsel vrygestel word. Om dié rede bied antihistamien dikwels verligting.

•Die struktuur van die vel word deur die ekseem verswak. As die blasies gekrap word, word die vloeistof vrygestel en die ekseem het dan ’n nat voorkoms. Waar die vloeistof opgedroog het, vorm ’n dun kors en ’n skubberigheid. Gewoonlik gaan dié fase met infeksie gepaard en antibiotiese middels is dan noodsaaklik.

•Pynlike krake in die vel kan met verloop van tyd ontwikkel, hoofsaaklik weens die droogheid daarvan (sien Figuur 2.2).

Gewoonlik krap ’n mens die jeukende vel met jou vingernaels, wat die vel beskadig en sodoende infeksie meebring. Onthou egter dat om jou vel te vryf, bv. met jou hande of met klere, ook skade aanrig. Ekseemlyers dink allerhande maniere uit om die vel te krap, bv. met ’n haarborsel, met ’n handdoek of met knopies op klere. Almal is nadelig vir jou vel.

•Velverdikking kom by volwassenes voor weens die voortdurende gekrap en beskadiging van die vel. Die vel verkry ’n leeragtige voorkoms en daar kan littekens wees. Die rooiheid en skilferigheid van ’n ekseemvel is waarskynlik die gevolg van ’n ooraktiewe immuunstelsel, terwyl die verdikking en leeragtigheid deur die konstante gevryf en gekrap veroorsaak word.

•’n Atopiese plooi (bekend as ’n Dennie-Morgan-plooi of -vou) is ’n ekstra velvou wat soms onder die oë van ’n ekseempasiënt ontwikkel. Wanneer ekseem opvlam, swel die ooglede ook. Hulle keer dan na normaal terug wanneer die akute toestand opklaar. Dit lei tot los, sakkerige vel en vandaar die ekstra velplooi onder die oog. Dit kan selfs by babas voorkom en aan hulle ’n ou, wyse voorkoms gee.

•Ekseem is ’n chroniese toestand met akute uitbarstings. ’n Ekseemlyer het vir altyd die geneigdheid tot dié veltoestand, al “ontgroei” sommige kinders dit teen hul tienerjare. Ekseem is dus chronies van aard. Die simptome is baie opsigteliker tydens die uitbarstings, wat vir ’n paar uur, ’n paar dae of selfs langer kan duur. Nadat die akute opvlamming bedaar het, is die deel van die toestand wat agterbly die chroniese deel. Daar kan in mindere of meerdere mate steeds ’n uitslag, met die gepaardgaande ongemak, wees. By party mense is die vel chronies so erg aangetas dat die verskil tussen die chroniese en akute fase eintlik net ’n kwessie van intensiteit is (sien Figuur 2.3).

Ekseem: Jou noodsaaklike gids

Подняться наверх