Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 23

Intern

Оглавление

Stres en emosies soos woede, vrees en bitterheid

’n Ekseemlyer kan agterkom dat sy/haar ekseem opvlam net voor ’n eksamen, ’n belangrike aanbieding by die werk, net voor jy trou, en so meer. Dit is almal situasies wat ekstra stres meebring. Ander hoogs stresvolle omstandighede is byvoorbeeld dié wat saamgaan met ’n egskeiding en die dood van ’n geliefde.

Daar is ook ’n sikliese element wat hier intree. Stres vererger ekseem, maar die verhoogde ekseemsimptome veroorsaak op hul beurt ook weer stres vir die lyer, wat die ekseem dan verder laat toeneem.

Dit is vandag geen geheim meer nie dat daar ’n groot verband tussen ons denke en emosies en ons fisieke toestand bestaan. Aanhoudende bekommernis en angstigheid sit om in chroniese stres wat baie liggaamsprosesse aftakel. ’n Spesifieke vrees of angstigheid word oor en oor in die gedagtes rondgeskommel en is eintlik teenproduktief. Veral onderdrukte emosies van vrees, woede en frustrasie verhoog ’n persoon se stresvlakke. Daarom word ekseemlyers aangemoedig om te huil as hulle daarna voel en te praat oor wat hulle ervaar. Sodoende word uiting aan die emosies gegee. In Hoofstuk 10 word die verband tussen liggaam en gees in meer besonderhede bespreek.

Om hierdie sneller vir ekseem te neutraliseer, moet negatiewe gedagtes en gevoelens omgekeer en stres sover moontlik verminder word. Vrees en bekommernis los geen probleem op nie. Beplanning is ’n beter strategie.

Dit is algemene kennis dat ’n mens se fisieke toestand jou gees en gedagtes beïnvloed. As jy byvoorbeeld siek is, word jou gemoed daardeur aangetas. Die teenoorgestelde is egter ook waar. Wat in jou gemoed en gedagtewêreld aangaan, kan erge fisieke siektesimptome tot gevolg hê. Daarom is volgehoue stres, met sy psigiese implikasies, ’n belangrike faktor om dop te hou.

Dit is moontlik om met ’n geheelplan jou ekseem onder beheer te kry. Namate jou vel verbeter, kan dit dan vir jou makliker word om die stres in jou lewe te hanteer.

Stres kan ’n baie groot invloed op jou immuunstelsel hê. Langdurige stres verswak die immuunstelsel heeltemal en ons het reeds in hierdie hoofstuk gesien hoe ’n belangrike rol jou immuunstelsel by die voorkoms van ekseem speel.

Hormoonskommelings

Hormone is chemiese stowwe wat deur ons kliere geproduseer en direk in die bloedstroom afgeskei word. Die hormone tree dan soos chemiese boodskappers op. Hulle word deur die bloed na organe en weefsel vervoer en gee instruksies aan die selle oor hoe om sekere liggaamsfunksies en -prosesse uit te voer. Op dié manier sorg hormone vir balans in ons liggame. Te veel of te min hormone kan ekseem beïnvloed.

Swak funksionering van die skildklier kan byvoorbeeld ’n probleem met die bloedtoevoer na die vel meebring. Die vel kry dan te min voedingstowwe en die afvalstowwe word nie na behore uitgeskei nie. Die gevolg is ’n ongesonde vel met ’n uitslag, verkorsing, gejeuk en sugafskeiding.

Veral by vroue kan hormone ’n rol speel om ekseem te vererger. Wanbalanse in die hormone estrogeen en progesteroon is die grootste snellers. Baie vroue kom agter dat hul ekseemsimptome verander wanneer hul hormoonvlakke verander. Dit verklaar hoekom sommiges se ekseem opvlam ’n paar dae voordat hulle begin menstrueer. Ook gedurende swangerskap kan hormone ekseem beïnvloed. Meer as die helfte van verwagtende vroue vind dat hul simptome tydens swangerskap vererger en ’n kwart van vroue vind dat hul simptome verbeter.24

Antihistamien word soms voorgeskryf vanweë die strelende, sederende effek wat dit het. Dié medikasie word gewoonlik saans gebruik omdat dit ’n mens kan vaak maak. Dit behoort egter normaalweg net vir kort periodes tydens ’n akute opvlamming gebruik te word.

Histamien

Studies het bevind dat daar tydens ’n opvlammingsfase van ekseem verhoogde histamienvlakke in die vel en plasma van pasiënte is.25

Histamien kom in mense, diere en plante voor en speel ’n belangrike rol in die liggaam se allergie-response. Daar is altyd ’n bietjie histamien in jou bloedstroom, maar as jy met ’n allergeen soos stuifmeel of kat-hare in aanraking kom, word meer daarvan vrygestel. Sou jy allergies wees vir die stof waarmee jy in aanraking kom, gaan die histamien oor tot ekstra optrede. Groot hoeveelhede daarvan word vrygestel, wat hewige reaksies in jou liggaam tot gevolg het. Die tipiese gejeuk van ekseem begin, jou senuwees raak opgewerk, weefsel swel op en slym word afgeskei.

’n Eenvoudige ding soos ’n paar koppies koffie kan ’n sondaar wees vanweë die kafeïen daarin wat help om histamien vry te stel. Histamienryke kossoorte kan ook hierdie allergiese simptome en inflammasie meebring. Gefermenteerde drank soos wyn en bier, gefermenteerde kos soos jogurt, en verwerkte vleisprodukte soos salami, ontbytspek en koue vleis is almal ryk aan histamien. (In Hoofstuk 9 kyk ons in meer besonderhede na die verband tussen ekseem en voeding.)

Histamien is eintlik jou liggaam se eerste verdedigingschemikalie, maar te veel daarvan is nadelig vir die meeste veltoestande.

Ekseem: Jou noodsaaklike gids

Подняться наверх