Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 24

Ekstern

Оглавление

Allergene

Allergene is stowwe wat kan veroorsaak dat jou liggaam ’n abnormale allergiese reaksie toon. Jou immuunstelsel dink dat allergene gevaarlik is. Dit lei tot ’n abnormaal aktiewe immuunrespons, wat beteken jou immuunstelsel probeer ’n “bedreiging” afweer wat eintlik skadeloos vir jou liggaam is. Chemikalieë word deur die immuunselle afgeskei en veroorsaak die rooiheid en gejeuk wat tipies van ekseem is. Dit word ’n allergiese reaksie genoem.

As jy ekseem het, beteken dit nie jy het noodwendig ’n allergie nie, maar ekseemlyers se immuunstelsel is so swak dat dit die ontwikkeling van allergieë moontlik maak.

Onthou, alhoewel allergene ’n ekseemopvlamming kan meebring, is dit nie die oorsaak van ekseem nie. Al sou jy alle allergene uitskakel, behou jy steeds die geneigdheid tot ekseem. Daar is wel ’n verband tussen ekseem, allergene en die abnormale respons van die immuunstelsel op allergene. Dit kan help om jou ekseemtoestand te beheer as jy allergene wat jou eie vel beïnvloed, kan uitskakel of verminder.

Algemene allergene wat ’n rol kan speel by ekseem is:

•Dieet. Onder kossoorte wat allergiese reaksies kan meebring, is die algemeenste sondaars neute, eiers, melk, graan en sojaproteïen, maar die hele kwessie van dieet en ekseem is baie kompleks. Bloot die uitskakeling van sekere kosse uit jou dieet is nie ’n oplossing nie. Hoofstuk 9 gee baie meer gedetailleerde besonderhede oor hoe om jou dieet te reguleer.

•’n Faktor wat met dieet saamhang, is bloedsuiker. Alhoewel daar nie ’n direkte oorsaaklike verband is tussen verhoogde bloedsuikervlakke en ekseem nie, word die immuunstelsel verswak deur hoë vlakke van suiker in die bloed. ’n Gesonde immuunstelsel is van die uiterste belang om moontlike infeksies, wat altyd ’n risiko is by ekseem, die hoof te bied.

•Huisstofmyte, spesifiek die proteïene wat daardeur afgeskei word. Die myte is mikroskopies klein spinnekopagtige wesentjies wat floreer in warm, humiede toestande. Hulle kom glad nie in uiterste koue, soos in Antarktika, voor nie. ’n Koel huis is dus beter as ’n warm huis. Huisstofmyte floreer in temperature hoër as 18 °C. Verkoel jou huis indien enigsins moontlik.

Myte leef op die dooie velafskilferings van mense en diere. Ons almal verloor daagliks omtrent 1,5–2 g droë, dooie vel en hierdie skilfertjies beland op matte, meubels en beddens. Dit is dan ook die plekke waar die meeste huisstofmyte voorkom. Dit beteken nie dat jou huis vuil en onhigiënies is nie. Alle huise het myte.

Wat ook al die sneller wat die ekseem veroorsaak, die belangrikste probleem bly die gejeuk en ’n mens moet probeer om daarvan ontslae te raak. Velbevogtigers en -versagters moet gereeld aangewend word – nog voor die vel kans kry om uit te droog.

Sou ’n mens allergies wees vir huisstofmyte, kan hulle jou ekseem aanvuur. Ekseem verswak die skansfunksie van die vel, met die gevolg dat die uitskeidings van myte die vel se skans binnedring en die ekseemuitslag vererger.

•Die hare en velafskilferings van troeteldiere soos katte en honde. Dit kan ook diere soos perde en hase insluit. Veral kinders se ekseem word dikwels aangewakker of vererger deur hul kontak met sekere troeteldiere soos katte en voëls. Alle diere met ’n pels kan ’n sneller wees weens die hare en velafskilferings wat afgegooi word. Dieselfde geld die vere en mis van voëls.

Interessant genoeg is kontak met honde in die eerste lewensjaar ’n positiewe faktor ten opsigte van die uitbreek van ekseem. Kinders wat met honde in die huis grootword, is minder geneig om ekseem te ontwikkel. Katte is altyd ’n groter risikofaktor as honde.

•Stuifmeel van bome, blomme en gras. Mense met ekseem is dikwels ook gevoelig vir die allergiese toestande asma en hooikoors. Al hierdie toestande kan meegebring word deur kontak met die stuifmeel van plante. Baie mense ondervind dat hul ekseem gedurende die lente opvlam wanneer daar ekstra baie blomme en stuifmeel is. Die rede is dat ’n ekseemliggaam eintlik in ’n konstante toestand van immuunrespons verkeer. Aanraking met allergene wat normaalweg geen reaksie sou uitlok nie, veroorsaak ’n verhewigde immuunrespons.

•Skimmel (muf of molm). In die daag-likse lewe het ons ’n wye blootstelling aan skimmel. Dit kom veral voor in klam omgewings soos komposhope en hope gesnyde gras. Binnenshuis sien jy skimmel byvoorbeeld op ou brood en kaas. Dit is ook algemeen in die yskas en in stortbaddens. Die skimmel stel miljoene klein spore in die atmosfeer vry en dit is hierdie spore wat die allergiese reaksies, soos hooikoors, asma, jeukende oë en ekseem, veroorsaak.

Jou immuunstelsel is verantwoordelik vir die allergiese reaksie op medisyne. Dit ervaar die medisyne as ’n vreemde stof en produseer chemikalieë soos histamien om daarvan te probeer ontslae raak.

•Sommige medisynes. Sommige medisyne verbind met sekere proteïene in die bloed en bring ’n allergiese reaksie mee. Skildklierhormoon-medikasie, morfien en sommige medisynes vir psigiese toestande kan weer sweet aanmoedig. Die sout in sweet wat op die vel agterbly, het ’n dehidrerende effek op die vel.

Irritante

Ons lewenstyl kan ons in aanraking bring met stowwe wat nie noodwendig ’n allergiese reaksie tot gevolg het nie, maar wat die vel irriteer en ekseemsimptome kan vererger. Nie alle ekseemlyers reageer eenders op elke irriterende stof nie. Dit is belangrik dat jy vasstel presies waarvoor jou vel sensitief is sodat jy stappe kan doen om dit uit te skakel. Algemene irritante wat ’n rol speel by ekseem, is:

•Seep, badskuim, stortwasmiddels, sjampoe. Jou vel moet skoongemaak word, maar seep, en dit sluit badskuim in, bevat dikwels irriterende stowwe wat jou ekseem kan vererger. Seep verwyder ook die vel se natuurlike olies en maak jou vel droog en jeukerig. Jou ekseem kan dan slegter lyk en voel. ’n Vloeistofreiniger is sagter as ’n koekie seep, maar kan steeds die vel irriteer.

Veral seep en skoonmaakmiddels wat skuim, is baie uitdrogend. Lees wat die bestanddele in jou sjampoe en stortseep is en as ’n produk die chemikalie natriumlaurielsulfaat (Engels: “sodium lauryl sulphate”) bevat, moet jy dit liefs vermy. Dit is die middel wat jou wasproduk of sjampoe laat skuim, maar dit is baie uitdrogend. Mense hou oor die algemeen meer van produkte wat skuim, maar vir ’n ekseemlyer is dit taboe. ’n Supersagte seep, geur- en kleurloos en gemaak van natuurlike olies, soos olyf-, druiwesaad-, avokado- en amandelolie, is beter. Andersins is ’n versagtende smeermiddel soos akwaroom of ’n room met ’n oliebasis die beste.

Die pH-gehalte van jou vel speel ook hier ’n rol. ’n Normale vel het ’n lae pH-telling, met ander woorde dit is effens suur. Hierdie sure beskerm die vel teen infeksies en irritante. ’n Ekseemvel bevat minder van hierdie noodsaaklike sure. Boonop neig baie soorte seep, selfs sommige soorte babaseep, om ’n hoër pH te hê (hulle is dus meer alkalies) wat nog meer sure van die vel stroop en dit dus meer kwesbaar maak. Die seep en ander reinigers laat ook ’n alkaliese oorskot op die vel agter.

•Huishoudelike skoonmaakmiddels en wasgoedseep en -versagters. Ook kombuisskoonmaakmiddels en wasgoedseep en -versagters bevat dikwels bestanddele wat te hard is vir ’n ekseemlyer se vel. Veral antiseptiese middels wat byvoorbeeld chloor, formaldehied of ammoniak bevat, is straf op die vel. Baie firmas beveel bio-afbreekbare produkte aan omdat hulle sagter met die vel werk, maar mens moenie noodwendig daardeur geflous word nie. Hulle bevat soms meer ensieme as ander produkte en kan ekseem vererger. Lees in die volgende afdeling meer oor alternatiewe, minder strawwe produkte om in jou huis te gebruik.

Enigiets wat geneig is om ’n mens se vel uit te droog, is ’n risiko vir ’n ekseemlyer, wie se vel in elk geval droër as die normale vel is.

•Die chloor in swembaddens kan ook ekseem vererger, maar vreemd genoeg bring dit vir sommige ekseemlyers verligting. Dit is hoe ekseem werk – wat vir een mens help, irriteer ’n ander se vel. Dis hoekom dit so moeilik is om die toestand onder beheer te kry en waarom elkeen die verantwoordelikheid vir sy/haar eie vel moet aanvaar en so noukeurig moontlik moet probeer agterkom wat tot die ekseemopvlamming aanleiding gee. Sodra die sondaar uit die weg geruim word, word die behandeling van die vel meer effektief.

•Parfuum en skoonheidsmiddels. Die geur- en preserveermiddels en ook die alkohol in skoonheidsprodukte en parfuum is algemene irritante. Die chemikalie metiel-isothiasolinoon (MI), wat ’n algemene preserveermiddel is in toiletware, seep, reukweerders, skeerroom en selfs in klam skoonmaakdoekies (Engels: “wet wipes”) en sonskermprodukte, is veral in die spervuur nadat navorsing gewys het dat al hoe meer mense ’n velsensitiwiteit vir dié chemikalie ontwikkel en ekseem kry as gevolg daarvan. Veral die hande, vingers en ooglede toon hierdie sensitiwiteit.26

Sommige middels in toiletware kan selfs jou hormone ontwrig, en ons het reeds gesien dat hormoonskommelings ’n effek op ekseem het.

Hoekom voel dit soms of ’n warm stort die gejeuk van ekseem verlig? Volgens dr. Nasir veroorsaak matige hitte ’n gejeuk, terwyl hoë hitte dit beëindig. Die probleem is dat ’n baie warm stortbad die vel se skanslaag, wat by ’n ekseemlyer reeds gekompromitteer is, beskadig en uitdroog.

(Bron: Eczema-free for Life, bl. 48)

•Kleremateriaal. Sagte, gemaklike, nie-irriterende stowwe werk die beste vir ’n ekseemvel. Wol en wolverwante materiaal soos kasjmier en sybokhaar kan ’n veluitslag en gejeuk veroorsaak of vererger. Die vesels van wol en ook van ’n sintetiese stof soos poliëster is grof en vorm klein spekies wat jou vel kan binnedring, selfs al sou jy ’n gesonde horinglaag hê. Selle kan op dié manier stukkend gesteek word en ’n velreaksie is die gevolg. Sintetiese stowwe laat mens ook meer sweet, wat op sigself ekseem kan vererger. Materiaal soos leer en denim kan dalk te hard of te grof wees vir ’n ekseemlyer se vel. Katoen is een van die beste opsies omdat dit gladde vesels bevat.

Temperatuur

•Hitte en koue. Drastiese temperatuurveranderings en uitermatig warm of koue toestande kan die vel irriteer. Alhoewel sommige ekseemlyers baat vind by blootstelling aan die ultravioletstrale van die son in die somer, is die somerhitte nie altyd aangenaam nie. In die winter is mense weer dikwels geneig om te na aan verwarmers en kaggels te sit. ’n Hoë temperatuur bring altyd meer ongemak vir die vel teweeg. Boonop maak die ekstra verhitting die lug baie droog, wat weer veroorsaak dat meer water uit die velselle verlore gaan. Dit lei tot droë, gebarste hande, ’n droë kopvel en ’n groter gejeuk van die vel. Die skansfunksie van die vel is alreeds verswak by ’n ekseemlyer. Droogheid beskadig die vel verder en maak dit makliker vir patogene en gifstowwe om dit binne te dring.

Temperatuur- en humiditeitsvlakke wat die vel in staat stel om vog te behou en om koel te voel, is die ideaal.

•Humiditeit. Baie droë lug vererger ekseem vanweë die gebrek aan vog, veral gedurende die wintermaande wanneer ons ons huise verwarm, maar warm, humiede toestande veroorsaak weer dat ’n mens meer sweet en sodoende maklik ’n veluitslag ontwikkel.

Mikrobes is mikroskopies klein eensellige organismes soos bakterieë wat siekte kan veroorsaak. Miljoene mikrobes kan in die oog van ’n naald inpas. Hulle word in die lug, in die grond en in water aangetref en leef op en in ons liggame. Mikrobes is die oudste vorm van lewe op aarde.

•Sweet. Sommige mense se ekseem vlam op as hulle te warm word en sweet, byvoorbeeld wanneer hulle oefen of aan sport deelneem. Om te sweet is gesond, want daardeur word ons liggaamstemperatuur gereguleer. Namate die sweet verdamp, koel ons liggame af.

Vir ’n ekseemlyer is sweet egter nie so goed nie. Die verlies aan vloeistowwe deur sweet droog die vel uit, terwyl die sout en onsuiwerhede wat deur die sweet op die vel uitgewas word, die vel verder dehidreer en ook irriteer.

Fungi of swamme sluit in skimmel, gis, sampioene, truffels en duisende ander een- of meersellige organismes wat op organiese materiaal leef. Party fungi is parasiete wat skimmel en roes op plante veroorsaak. Menslike siektes soos atleetvoet en ringwurm word ook deur fungi veroorsaak.

Ekseemlyers raak soms erg aan die krap ná ’n oefensessie omdat die temperatuur op die veloppervlak die hoogte inskiet.

Mikrobes

Sekere soorte mikrobes kan ekseem aanwakker of vererger. Dit sluit in bakterieë soos Staphylococcus aureus, sommige virusse en sommige fungi.

Ekseem: Jou noodsaaklike gids

Подняться наверх