Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 13
DIE ATOPIESE DRIETAL: EKSEEM, ASMA EN HOOIKOORS
ОглавлениеAlhoewel ekseem nie ’n allergie-siekte is nie, is ’n kenmerk daarvan dat dit dikwels gepaardgaan met die allergiese asemhalingstoestande asma en hooikoors (allergiese rinitis). Al drie toestande kom in families voor en is dus oorerflik. Hulle staan saam bekend as die atopiese drietal (in Engels word dit die “atopic triad” genoem; sien Figuur 2.4). Jou dokter sal dus, wanneer hy/sy jou veltoestand moet diagnoseer, navraag doen na ’n familiegeskiedenis van asma en hooikoors.
’n Skoon, stralende vel is altyd ’n goeie aanduiding dat die liggaam intern gesond is. Velprobleme kan dus aandui dat daar ’n wanbalans in een of meer liggaamstelsels is.
Die ekseemlyer self ly nie noodwendig ook aan asma of hooikoors nie, maar dié toestande kan iewers in sy/haar familiegeskiedenis opduik. Die presiese aard van die verhouding tussen die drie toestande is nog nie vasgestel nie, maar hulle het waarskynlik sekere defekte in die gene met mekaar gemeen.
By ekseemlyers is daar dikwels die risiko van die sogenaamde atopiese mars of atopiese verloop (Engels: “atopic march”). Dit hou in dat die patroon van die atopiese drietal oor die jare kan verander. As kinders onder die ouderdom van drie jaar wat ekseem en allergieë het, hul allergieë ontgroei, kan hulle byvoorbeeld ernstige asma-simptome ontwikkel. Tydens adolessensie, wanneer die asma-simptome afneem, kan hooikoors posvat, en later in die lewe, so teen 40 jaar oud, kan die hooikoors weer bedaar, maar ekseem en asma weer begin.11
As ’n persoon aan sowel ekseem as byvoorbeeld asma ly, tree die twee toestande onafhanklik van mekaar op. ’n Akute opvlamming van ekseem het nie ’n invloed op die persoon se asma nie en ’n asma-aanval het nie ’n invloed op die ekseem nie. Die derde lid van die drietal, hooikoors, tree ook onafhanklik van die ander twee op.