Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 8

HOE ALGEMEEN KOM DIE TOESTAND VOOR?

Оглавление

Atopiese dermatitis kom wêreldwyd voor en dit is kommerwekkend dat die voorkoms daarvan algaande toeneem. Dit kom min of meer ewe veel by mans en vroue voor. Om redes wat nog nie bekend is nie, is kinders van ma’s wat ouer was by hul geboorte meer geneig om ekseem te ontwikkel as dié van jonger ma’s.

Tussen 10% en 20% van alle mense ontwikkel een of ander tyd gedurende hul lewe ekseem. Die syfers wissel van land tot land en hang ook af van die vlak van nywerheidsontwikkeling van die bevolking. Die toestand is minder algemeen onder landbou-gebaseerde bevolkings, terwyl die voorkoms daarvan in geïndustrialiseerde lande volgens die Franse Stigting vir Atopiese Dermatitis oor die afgelope drie dekades verdriedubbel het.6 Die redes daarvoor is nie heeltemal duidelik nie, maar dit kan verband hou met lewenstylfaktore en dieet.

Daar is nie baie navorsingsyfers oor die voorkoms van ekseem in Suid-Afrika beskikbaar nie. Beperkte navorsing van ISAAC (Internasionale Studie van Asma en Allergieë in die Kinderjare) het bevind tussen 5% en 10% van Kaapse skoolkinders het ekseem. Die meeste gevalle van ekseem kom egter by voorskoolse kinders voor.7

Die oorsaak van ekseem lê binne-in jou liggaam. Jy het ’n eienskap geërf wat bepaal hoe jou vel op prikkels en irritante sal reageer. Omdat die oorsaak by faktore binne eerder as buite jou liggaam lê, staan ekseem bekend as ’n endogene toestand.

Wetenskaplikes reken dat omtrent 65% van ekseempasiënte reeds in hul eerste lewensjaar simptome van ekseem toon en 90% van pasiënte toon simptome voor die ouderdom van vyf jaar.8 Die toestand begin selde eers na die ouderdom van 30 jaar en is dan oor die algemeen die gevolg van ’n blootstelling van die liggaam aan uiters strawwe toestande of ook aan medikasie. Dokters kry egter wel pasiënte wat eers op die ouderdom van 60 of selfs 80 vir die eerste keer ekseem ontwikkel. Dit is oor die algemeen moeiliker om ekseem wat eers in volwassenheid begin, te behandel.

’N WERKLIKE GEVAL

Abby vertel: Ek is met ekseem gebore en het meer as tien jaar daarmee saamgeleef. Toe ek vyftien was, het dit so ernstig geraak dat my hele liggaam daardeur bedek is. Ek het snags wakker geword met bloed en dooie velvlokkies oor my hele bed. My bene het gelyk asof hulle verbrand het, en die vlokkies was so groot en so baie dat ek dit op ’n hoop kon vee. Dit het soos ’n hoop sand op die vloer gelyk. Dit was angswekkend.

As ek in die straat geloop het, het mense na my gestaar. Ek was konstant by die dokters vir ondersoeke en voorskrifte vir steroïedmedikasie, wat nie gehelp het nie. Die dokters het gesê ek sou nooit gesond word nie.

Dit was seer om te loop vanweë die ekseem op my knieë en gewrigte, dit was seer om my gesig te was en my hele lyf het gebrand as ek stort. Ek was bang om mense te ontmoet en bang oor wat hulle van my sou dink. Ek het bly bid dat die Here my moes genees.

Uiteindelik het ek ’n naturopaat en voedingkundige besoek wat gesê het my toestand is te wyte aan gebrekkige voedingstowwe in my liggaam, ’n sensitiwiteit vir sekere kosse, beskadigde ingewande en ’n sensitiwiteit vir sekere produkte.

Vir die volgende ses maande het ek “skoon” produkte gebruik wat natuurlik was en geen chemikalieë bevat het nie. Ek het ook aanvullings gebruik, ’n detoks gedoen en my hele dieet verander. Ek het hipoallergeniese produkte vir die ekseem begin gebruik, wat gehelp het om die vergiftiging van my liggaam stop te sit. Ek het vir twee maande ’n baie streng “skoon” dieet gevolg, want my liggaam was so sensitief dat wanneer ek ook al die verkeerde kosse geëet het (hoofsaaklik suiker, koring en allerhande souse), my ekseem dadelik sou opvlam.

Namate ek die allergene uitgeskakel het, d.w.s. koring, suiker, MNG, verwerkte kos, ens., en my liggaam die voedingstowwe gegee het wat dit nodig gehad het (met groente, vrugte, volgraan- en superkosse), het ek binne twee maande ’n dramatiese genesing gesien. Dit was ’n wonderwerk! Nooit vantevore het ek dit beleef nie.

Dit het nog ’n jaar geneem voordat 90% van my vel genees was, want daar was soveel skade. Dit het daarna nog ’n rukkie geneem voor die laaste 10% genees het (en dit was die moeilikste deel). Ek het gesien wat ’n kragtige geneesmiddel kos is. Dit is die natuur se grootste geskenk: goeie kos en ’n skoonmaak van die ingewande.

Vandag kan ek weer meer normaal eet. My liggaam kan gifstowwe baie beter verwerk omdat ek goeie natuurlike produkte vir ekseem gebruik en omdat ek daagliks die regte voedingstowwe inneem.

(Bron: http://www.primephysiquenutrition.com/how-i-overcame-severe-eczema-when-doctors-said-there-was-no-cure)

Ekseem: Jou noodsaaklike gids

Подняться наверх