Читать книгу Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan - Страница 17
Оглавление3
Hoe werk jou vel?
Jou vel is die grootste orgaan in jou liggaam. ’n Gemiddelde volwassene se vel beslaan ’n oppervlakte van een tot twee vierkante meter en weeg drie tot vier kilogram.
Die belangrikste funksie van jou vel is om as ’n skans of beskermer tussen jou liggaam en die omgewing te funksioneer.
EKSEEM is ’n toestand wat spesifiek die vel aantas. ’n Mens se vel is ’n lewende en lewensbelangrike orgaan. Dis nie net iets uiterliks wat jy vinnig met ’n paar wasmiddels en velrome opkikker nie. Dis geweldig kompleks en word deur verskeie ander liggaamstelsels, soos die immuun-, hormoon- en spysverteringstelsel, beïnvloed. Probleme op die veloppervlak kan dus ’n aanduiding wees van wanbalanse en wanfunksionering in een of meer van die liggaamstelsels.
DIE SKANSFUNKSIE VAN DIE VEL
Ons vel vorm ’n waterdigte bedekking vir ons liggame. Daaronder lê bene, spiere, ligamente, senuwees en interne organe wat almal hoogs vatbaar is vir infeksie deur vreemde mikrobes. Jou vel staan dus as ’n beskermer of ’n skans tussen al hierdie inwendige boustene van jou liggaam en die uitwendige omgewing. Die sleutelrol van die vel is om ons liggame te beskerm.
Daar is natuurlik ook ander velfunksies, waaronder:
•Dit dien as sintuig. ’n Netwerk van senuweeselle in die vel maak ons gevoelig vir koue, hitte, aanraking en pyn. As hierdie senuweeselle beskadig word, ontstaan neuropatie, wat beteken ons verloor ons sintuiglike vermoë, byvoorbeeld om pyn te ervaar, in die beskadigde gedeelte.
•Die vel beheer ons liggaamstemperatuur.
•Dit speel ’n onontbeerlike rol in die opname van vitamien D uit sonlig. Terselfdertyd verhoed dit dat die skadelike ultravioletstrale van die son ons liggame binnedring.
Die belangrikste funksie van die vel is egter as beskermer. Regdeur die dag en nag werk jou vel om jou liggaam te beskerm. Hoe word dit gedoen?
Die vel hou vloeistof binne-in die liggaam en keer dat te veel daarvan ontsnap. As liggaamsvloeistof sonder perke sou ontsnap, sou alles in die liggaam, vanaf ons waterryke interne organe tot die kleinste selletjies, uitdroog en dan sou ons sterf.
’n Patogeen is enige mikro-organisme wat siektes veroorsaak, soos bakterieë en virusse.
Verder beskerm ons vel ons teen aanslae van buite, soos stampe, temperatuurwisseling, die strale van die son, gifstowwe, chemikalieë en patogene wat die liggaam kan binnedring en siektes en infeksie kan veroorsaak.
As die vel beskadig word, soos deur die aanhoudende gekrap van ekseemjeuk, word al sy funksies geaffekteer. Dan verloor die vel ook sy vermoë om water binne-in die liggaam te hou, dit droog uit, en boet elastisiteit of soepelheid in. ’n Uitermatig droë vel is besonder kwesbaar vir ekseem.
Hoekom lyk ’n ekseemvel soos hy lyk?
Sue Armstrong-Brown verduidelik die werking van ’n ekseemvel op ’n eenvoudige manier:
‘Die voggevulde blasies wat op ’n ekseemvel ontwikkel, verswak die velstruktuur, en bloedvate in die dermis of dieper lae van die vel swel op.
‘Bloedselle wat infeksie teenwerk, ruk op na die vel en veroorsaak die rooiheid en gejeuk.
Normale selvermeerdering in die epidermis of boonste vellaag versnel dan. Gevolglik hoop die selle op en dit lei tot velverdikking. Dié selle is kleiner en swakker as gesonde selle, en die vloeistof tussen die selle, wat die vel elasties hou, funksioneer nie goed nie. Daarom word die vel styf, hard en krakerig.
Boonop bou die ouer selle op op die veloppervlak. Die biologiese “gom” wat hulle bymekaar hou, funksioneer nie reg nie en die dooie selle kan nie op ’n normale manier afgeskud word nie. Dit bring ’n dik laag dooie, droë vel aan die buitekant van die epidermis mee.’
(Bron: The Eczema Solution, bl. 13–14)
Hoekom lê ons soveel klem op die skans- of beskermingsfunksie van die vel? Omdat ekseem veroorsaak word deur ’n defek in hierdie funksie. Hierdie defek is weer toe te skryf aan probleme in die immuunstelsel. Ekseem kan op sy beurt die immuunstelsel tot ooraktiwiteit stimuleer en dit versteur die skansfunksie verder.
DIE LAE VAN DIE VEL
’n Mens kry ’n beter begrip van die aard en oorsake van ekseem as jy die struktuur van die vel verstaan.
Die menslike vel bestaan uit drie lae (sien Figuur 3.1):
•Heel onder lê die hipodermis of subkutane weefsel.
•In die middel volg ’n lewende binnelaag, genoem die dermis of die onderhuid.
•Die dun, sterk, beskermende buitelaag is die epidermis.
Die hipodermis
Die hipodermis is ’n vetlaag diep binne-in die vel wat jou liggaam teen koue beskerm en as ’n skokbreker dien. Die dikste deel van die skokbreker kom voor op die sitvlak, in die handpalms en op die voetsole. In hierdie vetlaag word voedingstowwe en energie opgeberg en dit stel ’n mens in staat om vir ’n tyd lank sonder kos klaar te kom.
Namate ons ouer word, begin die hipodermis verskrompel. Dit dra by tot die verdunning van die vel by ouer mense.
Alhoewel die hipodermis belangrike funksies vervul, speel dit nie ’n deurslaggewende rol by die ontstaan van ekseem nie. Dit bly egter belangrik vir die algemene gesondheid van jou vel.
Die dermis
Die dermis vorm die grootste gedeelte van die vel. Dit verskaf noodsaaklike voedingstowwe en ’n sterk struktuur aan die vel.
Kollageen en elastien, wat ’n groot hoeveelheid water bevat, is twee belangrike proteïene in die dermisgedeelte van die vel. Skoonheidshuise lê baie klem op die belangrikheid van kollageen om veroudering teen te werk. Ons weet ook dat die verlies aan te veel water die droë, jeukerige vel van ekseem tot gevolg het. Die netwerk van kollageen en elastien in die vel vervul dus ’n belangrike funksie. Kollageen maak die vel sterk en elastien hou dit soepel sodat jy kan buig en strek en rondbeweeg sonder dat jou vel bars of krake ontwikkel.
Die dermis bevat ook sweetkliere, wat die liggaamstemperatuur beheer, bloedvate, senuwees en die basisse van die haarsakkies.
Ekseem kom dikwels op die hande voor. ’n Bydraende faktor is die feit dat daar min sebum op die hande afgeskei word en die hande dus baie droog word.
Verder kom vetkliere, wat ’n belangrike rol by ekseem kan speel, in die dermis voor. Die vetkliere skei ’n sebum of biofilm af wat ’n gesonde glans aan ’n normale vel gee. Hierdie sebum is jou eie, natuurlike antibakteriële olie wat jou vel sag en vogtig hou en dit teen aanslae van buite beskerm. ’n Oorafskeiding van sebum kan tot aknee aanleiding gee, terwyl ’n onderafskeiding daarvan tot droogheid lei en ekseem kan veroorsaak.
Sebumproduksie word regstreeks deur ’n komplekse hormoonsisteem gereguleer. Die hormoonseine is weer afhanklik van ’n nog ingewikkelder balans van onder meer genetika, omgewingsfaktore, metaboliese faktore, stres en dieet.13 Dit is dus duidelik dat ekseem op sigself nie ’n eenvoudige oorsaak en oplossing het nie.
Die dermis gee ’n ondersteunende struktuur aan die epidermis. Dit stuur boodskappe, voedingstowwe en vloeistowwe na die epidermis toe om dit te help om die liggaam teen aanslae van buite te beskerm en te reageer op wat in die liggaam self gebeur.
As ’n ekseemlyer sy/haar vel stukkend krap, word daar deurgebreek na die dermislaag toe en kan daar infeksie ontstaan.
Die epidermis
Die woord “epidermis” is afkomstig van die Griekse woorde “epi”, wat “bo-op” beteken, en “derma”, wat “vel” beteken.
Die epidermis is dus die waterdigte oppervlak-laag van die vel. Dit het self verskillende lae en die heel buitenste laag, die sogenaamde horinglaag, bestaan uit droë, dooie selle wat die proteïen keratien bevat. Die horinglaag is sterk en wasagtig. Dit ontstaan wanneer die selle uitdroog en ’n soort sement of gom, bekend as lipiede, vrystel wat die dooie selle saambind.
Keratien is ’n horingagtige stof wat ook in ’n mens se naels en hare voorkom.
Lipiede kom in die vel se selle voor. Dit is molekules wat onder meer vet en was bevat en hulle hou die vel glad en vogtig.
Die boonste vellaag staan bekend as die epidermis. Velselle word dieper in die vel naby die dermis geproduseer. Daar word konstant nuwe selle vervaardig en namate die nuwes toeneem, word die ouer selle stelselmatig na die oppervlak van die vel, of na die epidermis, uitgeskuif. Daar kom hulle tot volwassenheid, verdroog en verplat en skilfer mettertyd af. Hierdie proses duur omtrent ’n maand by jonger mense en neem twee keer so lank by ouer mense.14
’n Mens kan die horinglaag met ’n baksteenmuur vergelyk. Die droë, dooie selle vorm plat lae soos bakstene in ’n muur (hulle word korneosiete genoem) en die sement wat die stene dig bymekaar hou, is ’n matrys van lipiede in die selle (sien Figuur 3.2).
Die proteïene en lipiede in velselle is onontbeerlik vir die belangrike skansfunksie van die vel, maar by ekseemlyers bevat die horinglaag nie genoeg lipiede om die buitekant van die vel sag en vogtig te hou nie. Daar is dus nie genoeg sement om die stene of selle bymekaar te hou nie. Die gevolg is dat die epidermis droog en vol krake word. Die dooie selle hoop op en word ’n lêplek vir kieme. Boonop word baie vog deur hierdie krake verloor.
’n Mens kan die drie lae van die vel met ’n plant vergelyk. Die hipodermis is die wortels van die plant, die dermis is die stingel van die plant, en die epidermis is die buitenste blare en blomme wat die skoonheid van die plant vertoon.
Om mooi, gesonde blare en blomme te hê, moet daar ’n gesonde wortelstelsel wees wat voedingstowwe uit die aarde kan opneem. Hierdie voedingstowwe moet deur ’n gesonde netwerk van paadjies in die stingel na die blare en blomme toe vervoer word. As alles wel is in die wortels en stingel (die hipodermis en dermis), sal die blomme en blare (die epidermis) welig en gesond wees.
Eenvoudig gestel is die oogmerk in die behandeling van ekseem om die sement tussen die stene te herstel sodat irriterende stowwe nie kan inkom nie en daar nie onnodige vogverlies kan plaasvind nie.
’n Belangrike deel van die epidermis is die selle van Langerhans, wat deel uitmaak van die vel se immuunstelsel. Hulle is jou vel se polisiemanne wat vreemde en skadelike organismes opspoor en dan teenliggaampies help ontwikkel om dié “misdadigers” vas te vat. Dit beteken jou immuunstelsel word geaktiveer om jou liggaam teen infeksie te beskerm. Ongelukkig het ’n ekseemlyer ’n ooraktiewe immuunstelsel wat te veel histamiene afskei en sodoende die simptome van ekseem vererger. Dit word in die volgende hoofstuk duideliker uiteengesit.
“Die woord ‘stadig’ beskryf die natuurlike herstelproses van ekseem die beste. My herstelproses het meer as ses maande geduur. Daar is nie tower-kitsmiddels nie.”
– Harrison Li
Vir ’n ekseemlyer is die epidermis die plek waar ekseem in al sy felheid woed. Soos dr. Adnan Nasir dit stel: Die epidermis is die slagveld of oorlogsterrein van ekseem.15 As daar ’n opvlamming van ekseem is, is dit die epidermis wat jeuk, tekens van inflammasie toon en grof voorkom. Die oorsake van hierdie veltoestand lê egter nie net op die veloppervlak nie.