Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 10

Donderdag 5 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 2:24–37.

Agter die skerms

Die Here het hom koppig gemaak om hom in jou mag oor te gee. Hy is nou nog in jou mag (Deut 2:30).

“Elke donker wolk het ’n silwer randjie,” troos ons mekaar soms. Die geheim van die silwer randjie is dat die son helder agter die donker wolk skyn. Net so moet ons onthou dat God steeds in beheer is te midde van die moeilikste omstandighede. Agter die skerms is Hy besig om dinge te reël. Hy het sy eie planne, en elkeen van ons is maar ’n baie klein onderdeeltjie daarvan. Hy kan selfs sorg dat mense verkeerde besluite neem om in sy wil in te pas.

Moses herinner die volk daaraan dat hulle nie met koning Sihon van Hesbon skoor gesoek het nie. Hulle het met vredesvoorstelle gekom (v 27-29). Sihon het hulle egter aangeval, en hulle moes hulle verdedig (v 32–33). Die uiteinde was dat Sihon se land en besittings die eiendom van Israel geword het. Moses het vooraf geweet wat die uiteinde sou wees (v 24), maar het gesorg dat niemand agterna kon sê dat Israel die aggressor was nie.

Dit lyk soms vir ons asof dinge buite beheer is. Mense neem verkeerde besluite. Die verkeerde wetgewing word aangeneem en afgedwing. Daar gebeur slegte dinge met goeie mense, en dit lyk asof slegte mense ongestraf wegkom. Dit kan ons maklik moedeloos maak. Ons voel: Ag, wat help dit tog? Moet ons nie maar boedel oorgee nie? Moet ons nie maar met die stroom saamgaan nie? As jy vandag so voel, wil die Here jou daaraan herinner dat jy nie die hele prentjie kan sien nie. Van sý kant af lyk dinge heeltemal anders. Ons kan Hom ten volle vertrou, ook in ’n onverstaanbare wêreld.

GEBED: “Here, dankie dat U steeds in beheer is. Ek wil graag deel wees van die uitvoer van u Goddelike wil.”

Lees vanaand in Deuteronomium 3:1–11 hoe die gevreesde reuse die een ná die ander begin val het, omdat die Here Israel gehelp het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх