Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 12

Saterdag 7 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 4:1–10.

Gee dit aan

Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp (Deut 4:9).

“Gee aan, gee aan!” roep die ouers langs die kantlyn waar die kannetjies aan hulle eerste rugbywedstryd deelneem. Elkeen wil die bal vir homself hou, en dan kan dit mos nie werk nie. Spanwerk is die sleutel tot sukses. “Gee aan, gee aan!” roep die manne in die tou wat emmers water aangee om ’n brand te blus. Een man alleen kan nie die vuur doodkry nie, maar saam kan ons dit doen. “Gee aan, gee aan!” moedig Moses ook die volk aan om die kinders hulle geskiedenis te leer. Geloof is nie privaat sake nie. Jy moet dit aangee. Almal moet hierdie wonderlike God leer ken.

Moses het geweet dat hy nie self die beloofde land sou kon betree nie. Hy sou dit net uit die verte sien – hoewel hy dit wel in Jesus se tyd kon beleef! (Matt 17:3). Hy sou nie saam met die volk trek om hulle te bemoedig nie. Hulle moes dus leer om mekaar op die pad van die Here te bemoedig. En hulle moes nie vergeet om die kinders ook op daardie pad te begelei nie.

“Die kerk is altyd net een geslag weg van uitsterf,” het iemand geskryf. Hy wou die belangrikheid beklemtoon dat ons ons geloof ook aan ons kinders moet deurgee. En dit is ’n belangrike les wat ons ook vandag en môre aan ons kinders moet leer. Kinders leer nie juis uit wat ons vir hulle sê nie, maar veral deur wat ons vir hulle wys. Hulle kyk fyn hoe ons vandag langs die sportveld optree, en sien as ons môre nie op ons plek in die kerk is nie! Watter soort nageslag wil ons hê?

GEBED: “Here, help ons om die goeie nuus aan te gee.”

Lees vanaand in Deuteronomium 4:11–24 oor God se skrikwekkende openbaring toe Hy sy wet aan die volk gegee het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх