Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 23

Woensdag 18 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 10:10–22.

God se wil

En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel (Deut 10:12).

“Wat op aarde maak ek hier?” staan op die hempies wat ons gemeentelede gedra het tydens die 40 dae van ’n Doelgerigte Lewe. Ons het saam geleer wat die vyf hoofsake in ons lewe moet wees: aanbidding, gemeenskap, dissipelskap, diens en getuienis. En omdat sewe van Wellington se gemeentes die kursus gelyktydig gedoen het, het dit ’n heerlike interkerklike interaksie tot gevolg gehad.

Moses is hier besig om met dieselfde vraag te worstel. Nadat hy sy geskiedenisles afgehandel het, en die Israeliete herinner het aan wat hulle moet doen, kom hy nou in vandag se teks by die hoofsaak uit. Dit gaan nie eintlik oor rituele en aksies nie. Dit gaan eintlik oor ’n lewende verhouding met die lewende God. Hy sê ons moet God eer (die letterlike vertaling is: vrees). God is nie ons speelmaat nie. Ons mag net met die grootste respek aan Hom dink en na Hom verwys. Iemand wat praat van “die oukêrel daar bo” het geen begrip van God se heiligheid en almag nie. Dan noem hy dat ons God moet gehoorsaam. Dit is die toets van ware liefde. Die derde ding is om God lief te hê. Dit is die hoofsaak wat God van ons verlang, omdat Hy liefde is, omdat Hy ons eerste liefgehad het (1 Joh 4:19) en omdat sy liefde maak dat ons ook kan liefhê. Die vierde ding wat Moses hier noem, is dat ons God heelhartig moet dien.

Wie is in die middelpunt van jou dag? Jouself? Jou huis? Jou werk? Jou kinders? Jou geld? Of is dit, soos dit behoort te wees: ’n liefdesverhouding met God?

GEBED: “Here, ek wil U vandag liefhê en dien, U gehoorsaam en eer in alles wat ek doen, sê en dink. Help my om dit te doen.”

Lees vanaand in Deuteronomium 11:1–12 hoe Moses hierdie kern-opdragte verder verduidelik. Pas dit toe in jou eie lewe.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх