Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 38

Donderdag 2 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 22:1–12.

Goeie buurmanskap

Jy mag jou nie blind hou wanneer jy ’n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie (Deut 22:1).

Sonde met die bure deur Langenhoven is ’n humoristiese vertelling van hoe dinge tussen bure verkeerd kan loop. Dit is ’n mooi voorbeeld van hoe dinge nie tussen bure behoort te wees nie. Maar ongelukkig is dit beeldend van die twiste wat so maklik tussen bure ontstaan. Ons lees deesdae meermale van die onbedagsame buurman wat sy musiek te hard speel, en dan aanleiding gee tot ’n kinderagtige geraasoorlog tussen bure.

Dit is nie hoe dit in die beloofde land moes gaan nie. Mense moet vir mekaar omgee, en dit sluit ook die versorging van mekaar se diere in. Dit gaan moeite kos om die buurman se beeste weer aan te jaag na waar hulle hoort, en dit kan geld kos om die onbekende verdwaalde dier te voer tot sy baas opdaag, maar dit is waarvoor ons daar is – om die liefde van God elke dag ook teenoor mekaar en teenoor God se ander skepsels uit te leef.

Van die ander reëlings klink vandag eienaardig. Ons weet nie meer wat die agtergrond daarvan was nie. Sommige raai dat die heidene praktyke gehad het wat met gemengde klerestowwe of graansoorte te doen het, of dat daar heidense feeste was waar mans en vroue klere omgeruil het. Vandag is ons egter nie meer seker wat die motief was nie. Die belangrike saak is egter dat gelowiges nie soos ongelowiges moet optree nie. En dit is vandag ook ons uitdaging: Kom ons leef en praat soos kinders van God. Mense moet die verskil kan sien.

GEBED: “Here, wys my hoe ek iemand anders vandag kan help, en hoe ek U kan eer in my taalgebruik en optrede.”

Lees vanaand in Deuteronomium 22:13–21 van die reëlings oor vals beskuldigings in die huwelik en oor voorhuwelikse seks.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх