Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 33

Saterdag 28 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 18:9–22.

Is die profesie eg?

Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie? (Deut 18:21).

“Die wildvreemde vrou het ’n profesie oor my uitgespreek en my vertel waar ek gaan woon en wat ek alles daar sal doen,” vertel een van ons seuns. Hy het toe reeds besluit om na ’n ander land te emigreer omdat sy werk opgeraak het. Hoe kan ’n mens weet of sulke “profesieë” werklik van God af kom, en of dit bloot menslike wensdenkery is? Ons het vandag gelees: “as ’n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie” (v 22). Dit was ook so in bogenoemde voorbeeld. Niks van wat die vrou gesê het, het gebeur nie. Ons moet sulke profesieë maar met ’n knippie sout neem.

Ons kan simpatie hê met Jona, wat so kragtig gepreek het dat die mense van Nineve tot bekering gekom het en sy profesie toe nie waar geword het nie. Hy het gevoel dat hy daardeur as ’n vals profeet gebrandmerk is.

In hierdie gedeelte het ons egter ’n ander, belangrike ding gesien: Die volk van God mag nie van waarsêers gebruik maak nie, maar moet hulle uitroei. God praat nie deur waarsêers nie, maar deur sy profete. En uiteindelik sal die beloofde profeet kom, wat uit die volk gebore sal word, en vir wie hulle moet gehoorsaam (v 15). Hierdie profesie is uiteindelik in Jesus Christus vervul (Hand 3:22; 7:37). Sy tydgenote het dit ook besef (Joh 6:14). Petrus verduidelik dat dit die Gees van Christus was wat deur die ander profete ook gepraat het (1 Pet 1:11).

GEBED: “Here Jesus, ek wil graag luister na u Woord.”

Lees vanaand in Deuteronomium 19:1–13 hoe daar tussen ongelukke en moord onderskei word.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх