Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 43

Dinsdag 7 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 25:11–19.

Sake-etiek

Die Here jou God het ’n afsku van almal wat oneerlik is en ander bedrieg (Deut 25:13).

“Jannie,” sê die juffrou, “as ek R300 vir jou pa leen en hy moet my terugbetaal teen R15 per week, hoeveel sal hy my na tien weke skuld?” “R300,” sê Jannie. “Jy ken nie jou tafels nie!” raas die juffrou. “Juffrou ken nie my pa nie,” antwoord Jannie.

“Maar, Edelagbare, ek het nie doelbewus my botterpakkies ligter gemaak nie,” pleit ’n boer wat deur die winkelier aangekla is dat hy vals gewigte gebruik. “My skaal se tweepondgewig het weggeraak, en toe het ek sommer twee van die winkelier se pondsakkies suiker op my skaal gebruik om die botter mee af te weeg.” Hierdie bekende grappies wys dat oneerlikheid tot vandag toe ’n probleem in die sakewêreld is.

Moses wil ons egter herinner dat sulke oneerlikheid nie net die mense om ons raak nie. Dit kom ook onder God se aandag. Hy het ’n afsku aan oneerlike sakepraktyke. Ons het dus nie net met die gereg te doen nie, maar ook met God. En dan raak die oneerlike winste regtig nie die moeite werd nie. Oneerlikheid doen nie net skade aan ons medemense nie. Dit kan jou tot in ewigheid berou.

Dit is maklik om jouself deur korrupsie en oneerlike wins te verryk, maar dit is nie die einde van die verhaal nie. Wat jy saai, gaan jy ook oes. Die gevolge van sulke dade sal nie uitbly nie. En dan praat ek nie eens van tronkstraf nie. Ek dink veral aan die troon van God waar ons elkeen rekenskap sal moet gee oor alles wat ons gedoen het (Op 20:11–12).

GEBED: “Here, maak my pynlik eerlik in alles wat ek doen, sodat ek my nie voor u troon sal hoef te skaam nie.

Lees vanaand in Deuteronomium 26:1–10 hoe die Israeliete die Here moes dank wanneer hulle hulle eerste oeste ingehaal het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх