Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 30

Woensdag 25 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 15:12–23.

Goeie armesorg

Maar wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie (Deut 15:13).

“Wat help dit dat ek geld aan die bedelaars gee – hulle sal dit tog net weer gaan uitsuip,” is die algemene gevoel onder dié van ons wat meer bevoorreg is. En daar is nogal goeie rede om so te voel, want iemand wat aan drank of dwelms verslaaf is, kan nie anders nie. Maar is daar nie dalk ’n beter manier om die armes te help nie? Hoe help jy iemand om homself te help?

Alle Israeliete sou grond kry in die beloofde land. In die jubeljaar (hersteljaar) sou elke gesin weer sy grond terugkry as hulle dit vroeër weens omstandighede moes verkoop (Lev 25:10). Maar hierdie grondhervorming sou niks beteken as daardie gesin nie ook saad en vee en ander benodigdhede gehad het om sinvol te kan boer nie. En dit is waarvoor die Here in vandag se gedeelte voorsiening wil maak. Dit kon wees dat ’n Israeliet homself weens omstandighede as slaaf moes verkoop. Maar hy mag nie ’n slaaf bly nie, tensy hy dit so verkies (Deut 15:16). Elke sewende jaar moes alle Israelitiese slawe weer vrygelaat word. En die volk moes dan behoorlik voorsiening maak deur hom te help om weer met waardigheid te kon voortgaan.

Feitlik alle gevalle van grondhervorming in Suid-Afrika het tot dusver misluk. Die mense wat die plase gekry het, het net eenvoudig nie die vermoë gehad om dit winsgewend te bedryf nie. Hulle het ook nie die tienduisende rande vir diesel en kunsmis wat nodig is om ’n oes in te sit nie. Groot en winsgewende plase hou dus op om te produseer. Miskien moet ons na Moses begin luister!

GEBED: “Here, dankie dat U vir ons voorsien. Help ons om ander mense ook op die regte manier te help.”

Lees vanaand in Deuteronomium 16:1–12 oor twee van die groot feeste wat die Jode moes vier.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх