Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 35

Maandag 30 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 19:14–21.

Eerlikheid eerste

So moet hierdie soort kwaad tussen julle uitgeroei word (Deut 19:19).

“In Afrika is korrupsie so algemeen dat min mense reken dat dit verkeerd is.” ’n Gidsboek oor reise in Afrika beveel dus aan dat ’n mens maar altyd omkoopgeld vir die grensposte beskikbaar moet hê, want die amptenare se salaris is nie genoeg om van te lewe nie. Hulle moet dit aanvul met die kado’tjies van die verbygangers. Indien dit waar sou wees, is dit darem baie laat in die dag. Watter hoop het sulke mense op die ewigheid, as hulle elke dag oneerlik is?

Moses probeer sulke dinge vroegtydig uitroei. Hy noem die geval van iemand wat die grenslyne van sy eiendom verskuif om sy buurman te benadeel (v 14). Dis natuurlik diefstal. Hy praat ook van mense wat ander onregverdig aankla. Indien dit blyk dat die klaer leuens vertel, moet hy die straf kry wat hy vir die ander een beplan het. En daardie straf moet genadeloos toegepas word (v 21). Dit sal verhoed dat ander mense ook daardie pad oorweeg (v 20).

Maar al kan ’n mens ook met skelmstreke wegkom, moet jy altyd onthou dat daar ’n finale oordeel voorlê. Dan sal die ware motiewe duidelik uitkom, en die Regter sal presies weet wat reg en wat verkeerd is. Die uitspraak sal een van twee wees: ewige geluk saam met Jesus, of ewige pyn en verderf sonder Hom. Elke ding wat ons doen, sal eendag weer na ons toe terugkom, of dit nou goed is of sleg (Op 20:12–15).

Selfs in hierdie lewe geld die beginsel dat ’n mens oes wat jy saai (Gal 6:7-10). Ons moet dus nie moeg word om goed te doen nie. Uiteindelik sal dit die regte vrugte oplewer. Waak daarteen om in korrupsie en oneerlikheid te verval. Dit is nie die moeite werd nie.

GEBED: “Here, hou my eerlik in alles wat ek doen en sê.”

Lees vanaand in Deuteronomium 20:1–8 hoe onwillige mense in oorlogtyd huis toe gestuur kan word.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх