Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 37

Woensdag 1 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 21:10–17.

Beskerm die vroue

… en jy sien ’n mooi vrou onder hulle en jy kry haar lief en jy wil met haar trou … (Deut 21:11).

“In hierdie land is ’n vrou niks anders as ’n besitting nie,” brom my vrou Wena terwyl sy haar kop toewikkel in ’n swart sluier. Ons het by ons kinders in die Midde-Ooste gaan kuier, en moes noodgedwonge by die kleredrag van daardie land aanpas. Vrouens mag net buite die huis gaan as hulle deur ’n manlike familielid vergesel word, hulle mag nie motor bestuur of kontrakte sluit nie, en moet altyd van kop tot tone in swart geklee wees. Dit het ons egter gehelp om iets te verstaan van die kultuur van die tyd waarvan ons vandag gelees het.

Moses maak voorsiening vir die moontlikheid dat ’n man ’n vrou sal buitmaak. Dit gaan nie hier oor die volke wat op bevel van die Here uitgeroei moes word nie, maar oor ’n oorlog teen ’n ander volk. Die gewoonte van daardie tyd was dat die oorwinnaars die verloorders tot slawe kon neem. Maar selfs slawe het ook regte. Sulke vroue moes goed behandel word, soos hier beskryf word. Die oorwinnaar mag met so ’n vrou trou, maar sy moes dan reg behandel word en mag nie weer as ’n slavin verkoop word as jy van plan verander nie. Sy moes dan vrygelaat word (Deut 21:14).

Die regte van vroue is ook beskerm in die geval van ’n poligame huwelik, en die eerste vrou en haar kinders moes die voorrang bly geniet (v 17).

Ons omstandighede verskil vandag, maar vrouens moet steeds net met die grootste respek behandel word. Elke huwelik moet ’n sigbare preek wees oor die verhouding tussen Christus en sy kerk (Ef 5:23–27). Kom ons bid daarvoor.

GEBED: “Here, help ons om U te eer, ook in ons verhouding teenoor mekaar in die huwelik.”

Lees vanaand in Deuteronomium 21:18–23 hoe respek vir en gehoorsaamheid aan ouers verseker is.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх