Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 39

Vrydag 3 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 22:22–30.

Seksuele reinheid

So moet jy hierdie soort kwaad tussen die Israeliete uitroei (Deut 22:22).

“Dit lyk my asof 70% van die studente niks daarvan dink om saam te woon of saam te slaap nie, en dit sluit die Christene in,” noem ’n studenteleraar moedeloos. Dit klink regtig asof die studente lank laas Deuteronomium gelees het! Is daar dalk ’n verband tussen hierdie optrede en die berigte dat die hoogste risiko ouderdomsgroep om die MI-virus op te doen jong mense tussen 20 en 34 is? Dit is nie verniet dat die Here allerhande reëls en wette gegee het nie – Hy is lief vir ons en wil ons beskerm. As jy die wet van God oortree, kan jy seker wees dat jy die een is wat gaan seerkry. Die wet is soos die reling op die dakstoep waarvan ons gister gelees het – dit is daar om ons teen gevaar te beskerm.

“Hy is so narrow-minded dat hy met altwee oë gelyktydig deur ’n sleutelgat kan loer,” word soms gespot oor mense wat probeer om volgens Bybelse standaarde te lewe. Vir die wêreldse mense klink dit belaglik dat iemand homself of haarself rein wil hou vir die huwelik. Maar dié wat so lewe, pluk die wonderlike vrugte daarvan. Dit is oor en oor die moeite werd. ’n Losbandige lewenstyl bring groot hartseer en skade.

Neem dus vandag se Skrifgedeelte ernstig op. Daar is ’n rede waarom sulke streng reëls neergelê is. As mense maar bereid was om hierdie wette te gehoorsaam, sou hulle baie gelukkiger gewees het. Hoe baie mense het nie al in trane gewens hulle kon die horlosie terugdraai en anders kies nie!

GEBED: “Here, help ons en ons kinders om ons seksueel rein te hou, en om volgens u wil te lewe, sodat ons nie seerkry nie.”

Lees vanaand in Deuteronomium 23:1–8 oor mense wat nie deel van die Joodse gemeente kon wees nie. Vandag geld dit natuurlik nie vir ons nie.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх