Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 36

Dinsdag 31 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 20:9–20.

Julle is anders

… sodat hulle julle nie leer om te handel volgens al hulle gruwels wat hulle vir hul gode gedoen het, en julle teen die Here julle God sondig nie (Deut 20:18).

“Kyk, daar is mense wat lelik praat en vloekwoorde gebruik, maar ons is nie so nie. Ons is anders. Daarom doen ons familie se mense nie soos die ander nie. Ons gebruik net mooi woorde, en ons vloek nie,” het ek aan my kleinseun verduidelik toe hy begin praat en veel vreugde daarin gevind het om lelike woorde aan te leer. En dit het blykbaar beter gewerk as dreigemente van rooipeper of seep op sy tong, want sy taalgebruik het dramaties verbeter. Dis goed om te weet Christene praat anders.

In vandag se gedeelte klink die opdrag om alle afgodedienaars in Kanaän uit te roei onverstaanbaar. Maar dit het ook ’n rede, en ons lees dit in vandag se teksvers. Afgodedienaars verlei mense om ook hulle afgode te dien. En dit is ’n groot skade, want God is heilig en laat so iets nie toe nie. Dit kon nie toegelaat word in die land wat God aan sy verbondsvolk wou gee nie.

Ons is nou reeds aan die einde van die eerste maand van die jaar. Dit is goed om ’n slag asem te skep en terug te kyk. Het daar al iets in jou lewe verander na aanleiding van wat jy vanjaar in die Bybel gelees het? Is jy ’n dader van die Woord, of net ’n hoorder? Die Bybel se hoofdoel is om ons lewens te verander. En as ander mense kan sien wat die Heilige Gees in ons lewens doen, sal hulle begin vra wat die verskil is (1 Pet 3:15). En dan hoef ons hulle nie uit te roei nie – ons kan hulle help om self ook deel van God se familie te word.

GEBED: “Here, help ons om soos kinders van die lig te lewe, en om anders te wees as die ongelowiges, tot U eer.”

Lees vanaand in Deuteronomium 21:1–9 wat die Israeliete moes doen in die geval van ’n onopgeloste moord.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх