Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 24

Donderdag 19 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 11:13–21.

Hulpmiddels tot volheid

Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul (Deut 11:18).

“Is hierdie glas half vol of half leeg?” is die toets wat ons soms gebruik om te weet of iemand ’n optimis of ’n pessimis is. God is egter nie tevrede met ’n halwe glas of ’n halwe lewe nie. Hy wil ons lewe vul. Hy wil deel wees van elke aspek van ons lewe. Elke kamer in ons lewenshuis is syne: die sitkamer, die slaapkamer, die studeerkamer, die werkkamer, die gesinskamer, die speelkamer – elke een. Hy wil elke kamer met sy vreugde en vrede en liefdevolle teenwoordigheid vul.

In vandag se gedeelte het ons weer gelees van verskeie hulpmiddels wat Moses aanbeveel om ons te help om hierdie volheid te ervaar. Die geheim is om daardeur die woorde van die Here te ken. Daarom lees ons elke dag in die Bybel, nie net uit nuuskierigheid nie, maar om ons lewe te verander. En ons moenie die dinge wat ons daarin ontdek, vir onsself hou nie. Ons moet met mekaar deel wat ons gelees het, sodat ons mekaar kan aanmoedig op die pad van die Here.

Die Here se woorde kan ons lewe nie vul as ons dit nie memoriseer nie. Onthou jy nog die teksverse wat jy as kind en jongmens uit die kop geleer het? Dit is mos juis daardie teksverse wat jy vandag nog kan aanhaal. Kom ons memoriseer sommer vandag se teks, en waar dit staan, sodat ons ook in die toekoms kan onthou om ons spens vol te hou met die goeie dinge uit die Woord.

En wat is die beste manier om ons kinders vir die lewe voor te berei? Eenvoudig om te maak soos Moses hier sê: om hulle ook te leer om die Woord te ken. Dan het hulle die wapens wat hulle nodig sal hê as die tye van versoeking kom.

GEBED: “Here God, vul my hart en lewe met u woorde.”

Lees vanaand Deuteronomium 11:22–32 en let op die gevolge van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх