Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 32

Vrydag 27 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 17:14–20.

Die geheim van ’n goeie regeerder

Dan sal hy hom nie bo sy volksgenote verhef en ’n haarbreedte afwyk van hierdie gebod nie (Deut 17:20).

“Onthou, as jy die president se stoet sien aankom, moet jy dadelik van die pad af trek tot hulle verby is. Hulle sal sommer op jou skiet as jy nie vinnig genoeg reageer nie,” waarsku iemand my in ’n buurland. Ek het dit destyds amusant gevind, maar sulke manewales gebeur nou selfs in ons eie land ook. Dis heeltemal anders as wat ons vandag oor die koning se optrede geleer het.

As ons vandag se voorskrifte met Salomo se optrede vergelyk, dan lyk dit ook asof hy nie regtig so wys was nie. Sy ongehoorsaamheid het tot sy ondergang gelei. Hy het op die ou end twaalf duisend perde besit, uit Egipte en ander lande (2 Kron 1:14–16). Hy het sewe honderd vroue en drie honderd byvroue gehad (1 Kon 11:3). Hulle het hom verlei om afgode te dien (1 Kon 11:4–6). Dit klink asof Salomo vergeet het om vir hom ’n afskrif van die wet te laat maak, soos hier beveel word, en as hy wel ’n afskrif gehad het, het hy nooit so ver gekom om dit te lees nie.

Vandag is die Bybel die beste verkoper van alle boeke op aarde, en daarby die boek wat seker die minste gelees word. Kyk net hoeveel staan daar in jou huis wat nooit meer gebruik word nie. Net soos vir die koning, is dit vir ons ook belangrik om gereeld na God se Woord te luister, sodat die Woord ons kan vorm tot ’n sieraad van God en ons kan toerus vir die uitdagings van elke dag (2 Tim 3:14–17). Kom ons bid dat ons regeerders ook hierdie seëning elke dag mag ondervind.

GEBED: “Here, help ons en ons regeerders om elke dag noukeurig te luister na u Woord, en om daarvolgens te lewe.”

Lees vanaand in Deuteronomium 18:1–8 hoe daar vir die behoeftes van die Leviete voorsiening gemaak is.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх