Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 27

Sondag 22 Januarie

Оглавление

Lees Psalm 35:1–10.

Die God van verdruktes

Here, wie is soos U wat die swakke bevry van dié wat sterker is, die swakke en die arme van dié wat hom beroof? (Ps 35:10.)

“Wat maak ek as onreg teenoor my gepleeg word?” is die vraag waarmee meer as een gelowige worstel. Dit gebeur soms dat ’n mens uitgebuit word, dat mense onredelike eise stel, dat jy voor die hof gesleep word en valslik aangekla word. Dit kan wees dat die hofuitspraak teen jou is, en dat jy die slagoffer van oneerlikheid word. Jy openbaar korrupsie, en in plaas daarvan dat jy bedank word, word daar nou teen jou gediskrimineer. Jy verloor jou werk deur regstellende aksie of omdat ’n ander maatskappy julle s’n uitkoop. En vandag gaan jy kerk toe met hierdie swaar las op jou hart.

Dawid het dit ook ervaar. Maar hy het geleer dat ’n mens met alles, ook die slegste dinge, na God toe kan gaan. Ons lees vandag hoe hy sy lot bekla en selfs God se straf op sy vyande afsmeek. Ons kan maar eerlik wees as ons met ons hemelse Vader praat. Hy ken ons deur en deur, en weet ook waarom Hy soms onreg toelaat. Maar Hy belowe dat alles vir ons ten goede sal meewerk, as ons Hom vertrou (Rom 8:28).

Ons kan dus vandag eerlik en vrymoedig vir die Here presies sê hoe ons voel. Hy is aan die kant van die verdrukte en die swakke, sê ons teksvers. Hy is aan jou kant, as dit is wat tans met jou gebeur. Ons kan Hom nou al in die geloof dank vir die uitkoms (Ps 35:9). En kom ons gaan loof Hom met ons hele hart, as uitdrukking van ons geloof. Daar by die kerk kan ons mekaar bemoedig en mekaar ondersteun.

GEBED: “Here, dankie vir tye wanneer dit nie goed gaan nie, want dit dryf my na U toe.”

Lees vanaand in Psalm 35:11–18 van die meineed, ondankbaarheid en spotlag van die goddeloses. Hoe moet ons daarop reageer?

Uit die Beek 2012

Подняться наверх