Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 42

Maandag 6 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 24:10–22.

Doen wat reg is

Jy moet hom sy loon nog dieselfde dag gee, voor die son ondergaan, want hy is arm en reken op sy loon (Deut 24:15).

“Nadat ek die hele dag hard gewerk het, sê die werkgewer vir my hy het nie nou geld nie, ek moet die volgende dag weer kom,” vertel ’n gevangene. “Toe ek die volgende dag kom, sê hy ek het nie goed genoeg gewerk nie, dus gaan hy my niks betaal nie. En ek het die geld so nodig om vir my gesin te sorg. Toe vat ek sommer ’n stuk gereedskap saam met die uitstap en gaan verkoop dit vir R20 om vir hulle kos te gee. En toe word ek gearresteer en drie jaar tronkstraf gegee,” huil hy verder, sodat sy trane ’n plas op die selvloer maak. Daardie werkgewer het beslis nie geluister na wat die Bybel sê nie. Ek sal nie graag op die oordeelsdag in sy skoene wou staan nie.

Moses is nog steeds besig met ’n groot verskeidenheid praktiese reëlings. Maar almal gaan oor dieselfde saak: Doen reg aan die minderbevoorregtes. Gee om vir mense wat in nood is. Moenie die armes uitbuit nie.

Ons het ook elke dag armes en immigrante by ons. Hulle is in groot nood. Dit is nie so dat hulle almal lui is en nie wil werk nie. Hulle wil so graag vir hulle mense sorg. Sommige se familie in buurlande is van hulle afhanklik vir oorlewing. Ons mag dus nie van hulle nood misbruik maak en hulle uitbuit nie. Hulle betaal dieselfde vir ’n brood as ons. Hulle woon in haglike omstandighede. Hulle wil ook hulle kinders goeie opleiding laat kry. Hulle kinders het ook skoene en skoolklere nodig. Laat ons dus so ver as wat dit moontlik is, die regte ding doen, om God te eer.

GEBED: “Here, dis net uit genade dat ons so bevoorreg is. Help ons om iets van u liefde aan minderbevoorregtes te wys.”

Lees vanaand in Deuteronomium 25:1–10 oor die regspraak en versorging van weduwees in Moses se tyd.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх