Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 44

Woensdag 8 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 26:12–19.

Aanvaar die verbond!

Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is, en dat jy volgens sy wil sal lewe, dat jy sy voorskrifte en gebooie en bepalings sal gehoorsaam en dat jy na Hom sal luister (Deut 26:17).

“Wat is ’n verbond?” het ek ’n groep teologiese studente gevra. Hulle het ge-hiernatoe en ge-daarnatoe. Nie een van hulle was seker wat dit is nie. Tog praat ons maklik van die verbond, en ons hoor daarvan elke keer as daar ’n doopdiens is. Wat is jou antwoord? (Dink mooi na voordat jy verder lees.)

’n Verbond is ’n plegtige ooreenkoms of kontrak tussen twee partye. In vandag se Skrifgedeelte is die twee partye die volk Israel en God. En ons sal dit moeilik beter kan beskryf as wat Moses dit in vers 17–19 doen. Aan die een kant onderneem die Israeliete om die Here as hul God (nie hul bediende nie) te aanvaar, en om Hom ten volle te gehoorsaam en elke dag na sy opdragte te luister en dit te doen. Aan die ander kant onderneem die Here om die Israeliete as sy volk te aanvaar, en om hulle te seën sodat hulle ’n seën vir die wêreld kan wees. Letterlik staan daar dat die volk heilig – aan God gewy – sal wees. Die verbond is dus ’n radikale ooreenkoms wat hul lewe totaal sal verander.

Die ou kerkvaders het pragtige formuliere opgestel wat gebruik moes word by die doop, die nagmaal en die bevestiging van lidmate. By elkeen van daardie geleenthede belowe ons ook plegtig om God se mense te wees wat Hom in alles sal gehoorsaam. Dit sal goed wees om weer te gaan lees wat ons destyds aan die Here belowe het. Toets dan jou eie gehoorsaamheid. En bedoel wat jy belowe het.

GEBED: “Here, watter genade dat U, die heilige God, met ons ’n verbond aangaan! Help my om my lewe aan U te wy.”

Lees vanaand in Deuteronomium 27:1–10 oor die graffiti wat die volk moes skryf om hulle aan hierdie dag te herinner.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх