Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 45

Donderdag 9 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 27:11–26.

Mag dit so wees!

Dan moet die hele volk antwoord: “Amen!” (Deut 27:15).

“Hoekom is julle so stil? In ons kerk stem die hele gemeente saam met die prediker, en sê dan hardop: ‘Amen!’” het die Sioniste-leraar by ’n konferensie gesê. Hy is gevra om die boodskap te bring, en kon ons Westerse manier van godsdiens hou glad nie kleinkry nie. In hulle kerke neem die gemeentelede deel aan die aanbidding, met hart en siel en liggaamsbewegings. Hulle kyk ook nie na die horlosie nie, want hulle is besig om God te ontmoet. Hulle eredienste kan maklik ure lank aanhou. Hoekom is ons dan so afsydig?

Die Sioniste sou verstaan het wat aan die gang was toe die volk Israel die Here gedien het. Moses het die volk herinner aan die wet van die Here en wat dit behels. Nou het hy hulle opgestel teen die berghange wat ’n natuurlike amfiteater gevorm het. Teen die hange van Gerisimberg het die afstammelinge van die vry vroue gestaan, en teen die hange van die Ebalberg het die afstammelinge van die slawevroue gestaan. Die een simboliseer die seën en die ander simboliseer die vloek. Tussen hulle het Moses gestaan, en die Leviete moes die boodskap aangee. Elke keer as ’n vloek uitgespreek word, moes die hele volk hardop sê: “Amen!” (“Ons stem saam! Mag dit so wees!”)

Moses se voorbeelde was baie prakties, en het verwys na die versoekings waarmee die mense van daardie tyd geworstel het. Hierdie hardop bevestiging van die vloeke sou hulle help om twee maal te dink voordat hulle aan daardie versoekings toegee. Christus het ons vrygemaak van die vloek van die wet (Gal 3:13). Wonderlik!

GEBED: “Here, gee my vandag oorwinning oor versoekings, sodat my lewe U sal eer.”

Lees vanaand in Deuteronomium 28:1–14 van die wonderlike seëninge wat die Here gee aan dié wat die verbond hou.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх