Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 48

Sondag 12 Februarie

Оглавление

Lees Psalm 37:1–11.

Die bron van geluk

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg (Ps 37:4–5).

“Christenskap is nie ’n godsdiens nie; dit is ’n verhouding met die lewende God.” Dit is iets om oor na te dink. Dit gaan nie oor die nakom van ’n klomp reëls en gewoontes, soos wat ander godsdienste ook het nie. Dit gaan oor ’n persoonlike verhouding. Dit is duidelik dat Dawid reeds hierdie ervaring gehad het, soos blyk uit hierdie psalm.

“Wees lief vir God, dan kan jy Hom enigiets vra wat jou hart begeer,” was een kerkvader se kommentaar op hierdie vers. As my verhouding met die Here reg is en ek Hom waarlik liefhet, sal ek nooit iets vra wat buite sy wil is nie. Ek sal sy hart graag wil bly maak, ook deur my gehoorsaamheid. Die geheim van ’n gelukkige lewe is dus om te werk aan my liefdesverhouding met my hemelse Vader. En soos met enige ander verhouding, kan my liefdesverhouding met Hom net groei as ek genoeg tyd daaraan bestee.

Dit is vandag al weer Sondag. Lekker dag om laat te slaap en die dik Sondagkoerant deur te werk? Of is dit ’n heerlike dag om jou in die Here te verbly en aan jou verhouding met Hom te werk? Kom ons gaan vandag met die regte gesindheid kerk toe. Hy wil sy bruid – die kerk – ontmoet, en ons elkeen volgens ons behoefte seën. Moenie dit misloop nie! Kom ons verbly ons in die Here, sodat Hy ons kan gee wat ons skoongemaakte harte begeer.

GEBED: “Here, ek is lief vir U. Ek wil graag wees wat U bedoel het dat ek moes wees. Verander my en rus my daarvoor toe.”

Lees vanaand in Psalm 37:12–22 van die verskille tussen die lewe van ’n gelowige en ’n ongelowige.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх