Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 51

Woensdag 15 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 31:1–8.

Nooit alleen nie

Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie (Deut 31:8).

“Hoe berei jy mense voor vir groot veranderings?” Ons almal worstel die een of ander tyd met hierdie vraag. Elke keer as ons moet verhuis, of as die kinders na ’n ander skool moet gaan, of as daar veranderings in die bestuur of eienaarskap van ons firma is, of as ’n nuwe bestuurder in jou departement oorneem. Dit is vir almal ’n tyd van groot stres, en veral as dit kan beteken dat jy jou werksekuriteit verloor. Regstellende aksie en rasionalisasie het baie van ons al seer gebyt.

In vandag se gedeelte is Moses besig om die volk – en vir Josua – voor te berei vir ’n dramatiese verandering. Moses sal nie langer die leier kan wees nie. Hulle sal in die vervolg sonder hom moet klaarkom. Dinge waarop hulle die afgelope veertig jaar staat gemaak het, val nou weg. Wat hou die toekoms vir hulle in, veral met die groot uitdagings wat voorlê? Moses wys die volk daarop dat die Here nie verander nie, en dat Hy nog steeds in beheer is (v 5). En hy bemoedig die nuwe leier ook deur hom te verseker dat die Here by hom sal wees, en dat hy nie hoef te vrees nie (v 8).

Dit kan wees dat jy vandag ook onseker voel oor dinge wat buite jou beheer is. Jy weet nie wat om te verwag nie. Moenie bang wees nie – die Here het reeds voor ons uitgegaan, en ons moet Hom net volg. En dit geld ook vir die dag wanneer ons elkeen sal moet oorstap na die ewigheid.

GEBED: “Dankie dat U nooit verander nie, Here. Ek wil hierdie dag, en elke dag, agter U aan gaan. Lei my en help my.”

Lees vanaand in Deuteronomium 31:9–13 hoe die volk die wet elke sewe jaar moes hoor, omdat hulle nie Bybels gehad het nie.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх