Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 49

Maandag 13 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 29:1–13.

God wil ’n ooreenkoms met jou sluit

Julle staan hier sodat julle deel kan kry aan die verbond van die Here julle God wat Hy vandag onder eed met julle sluit (Deut 29:12).

“Herhaling is ’n belangrike bousteen van onderrig.” Ons kan seker almal aan voorbeelde dink van dinge wat ons deur herhaling geleer het en waarskynlik nooit sal vergeet nie. En elke keer as Ma “vir die duisendste keer” iets aan haar kinders sê, moet sy nie moedeloos word nie. Herhaling is nodig. In die advertensiewese word soms beweer dat ’n mens net op ’n advertensie reageer as jy dit vir die ses en twintigste keer sien!

In ons Skrifgedeelte herinner Moses die volk weer aan die besondere verhouding waarin hulle met God staan. Hierdie verhouding is uniek, en is in die vorm van ’n plegtige ooreenkoms gegiet. Hulle moet God se volk wees, en Hy sal vir hulle hulle God wees. Al twee hierdie kante het ’n verantwoordelikheid aan die volk se kant, en ook aan God se kant. En die wet van God moet oor en oor herhaal word, sodat hulle kan weet wat reg en wat verkeerd is. Met ons is dit ook so. Nie omdat ons enige kans het om ons eie saligheid te verdien nie, maar sodat ons kan weet dat ons net uit genade gered kan word. Dit is eers as ek weet dat ek voor God skuldig staan, en dat ek verdien om verwerp te word en hel toe te gaan, dat ek myself op God se genade kan werp en op Christus alleen kan vertrou (Gal 3:22–24).

Die volk kon nie die ooreenkoms getrou handhaaf nie. Daarom moes Christus kom. Hy het die verbond in ons plek getrou nagekom, en toe al ons skuld op Hom geneem en in ons plek die straf gedra. Daarom is Hy ons enigste ware Redder uit sonde.

GEBED: “Hemelvader, dankie vir die voorreg om in Christus deel te wees van u heilige verbond, tesame met ons nageslag.”

Lees vanaand in Deuteronomium 29:14–29 wat die gevaar is vir iemand wat in sonde volhard en nogtans dink hy kan gered word.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх