Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 56

Maandag 20 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 32:44–52.

Dit is die lewe

Dit is nie ’n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle, en deur hierdie gebod te onderhou, sal julle julle verblyf verleng in die land wat julle in besit sal neem (Deut 32:47).

“Komaan, julle kan dit doen. Dit is nog net vyf kilometer. Byt vas! Jy is al amper daar!” moedig die span by die laaste waterpunt die moeë atlete aan. En gee sommer weer nuwe lewe aan die moeë bene. Ons het almal sulke aanmoedigers nodig!

Ons maak hierdie week klaar met Deuteronomium. Ons lees nou die laaste gedeelte van Moses se lewe. Hy was reeds 120 jaar oud, maar het nog kans gesien om vir oulaas alleen teen die berg uit te klim en uit te kyk oor die beloofde land voor hy sterf. Tot hier toe het die Here hom versterk en gedra. Hy moes baie krisisse oplos en in baie behoeftes voorsien. Elke keer het hy gesien dat die Here in staat is om te help. Hy het geleer om ’n vriend van God te word, en het die Here gereeld ontmoet. Al was hy onvolmaak, en al het hy die Here baie keer teleurgestel, het hy elke keer maar weer opgestaan en voortgegaan. En hy het aan ons die Pentateug nagelaat om ons te help op die pad na ons eie beloofde land. Jesus was baie lief vir die boeke van Moses, en het gereeld daaruit aangehaal. Dit is dus nie ’n geringe saak wat hierin opgeteken is nie. Ons het die Here al beter leer ken terwyl ons gekyk het hoe Hy met Israel werk.

Dieselfde getroue God werk vandag nog met ons ook. Kom ons maak ons pad met vreugde klaar, en kom ons hou end-uit vol, al kom daar ook moeilike dae. En laat ons woorde en voorbeeld ’n bemoediging wees vir dié wat agterna kom.

GEBED: “Here, dankie dat u Woord my wil toerus vir die lewe. Help my om voluit daarvolgens te lewe.”

Lees vanaand in Deuteronomium 33:1–7 die eerste deel van Moses se laaste boodskap aan die Israeliete.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх