Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 47

Saterdag 11 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 28:47–57.

Van oorvloed na gebrek

Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie … (Deut 28:47).

“Niemand kan vasstel of hy ryk of arm is deur na sy bankbalans te kyk nie; dit is ’n mens se hart wat hom ryk maak. Hy is ryk of arm volgens wat hy is, nie volgens wat hy besit nie,” het Henry Ward Beecher geskryf. Rykdom maak jou nie noodwendig gelukkig nie. Dit bring net meer bekommernisse mee. Dis opmerklik dat daar meer glimlaggende gesigte in ’n plakkerskamp gesien word as in ’n rykmansbuurt.

Moses herinner ons dat dit nie so hoef te wees nie. Die Here het bedoel dat ons sy oorvloed met vreugde en vrolikheid moet geniet. En ons geniet dit die meeste wanneer ons minderbevoorregtes daarmee help. Maar as jou goed jou god word, is die gevolge tragies. In vandag se gedeelte word skokkende tonele beskryf wat werklik in Jerusalem gebeur het toe die Romeine dit in die jaar 70 finaal verwoes het. Ons lees van mense wat hulle eie kinders opeet – hopelik nadat die kind van honger dood is, en nie omdat die ouers hulle kinders geslag het nie! Ons lees van die toppunt van hongersnood, wanneer mense die bietjie kos wat hulle het, nie eens met hulle geliefdes wil deel nie.

Die ryke wat van God vergeet, se rykdom kan baie maklik deur God van hom af weggeneem word. As jy verkeerd kies, kies jy ook vir die gevolge van so ’n keuse. Die een kom saam met die ander.

Ware rykdom is dus om ryk te wees in die Here. Selfsug en beheptheid met eiendom lei tot groot hartseer.

GEBED: “Here, U is die middelpunt van my lewe. Ek wil elke dag vir U alleen lewe.”

Lees vanaand in Deuteronomium 28:58–68 wat die uiteinde van ’n ongehoorsame lewe sal wees.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх