Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 46

Vrydag 10 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 28:15–24.

Die gevolge van sonde

Daar sal ’n vloek op jou rus waar jy ook gaan (Deut 28:19).

“Sonde is net soos ’n getroue hond. Hy loop al op jou spoor tot hy jou kry,” verduidelik evangelis Jafta aan die gemeente. “Ons dink soms ons kan wegvlug van wat ons verkeerd gedoen het, maar dit sal ons altyd weer inhaal. Ons kan dus maar ophou weghardloop, en eerder die saak regmaak terwyl ons nog kan.”

“Die loon van sonde het nog nie verander nie,” lees ’n kennisgewingbord langs die pad, en verwys na Romeine 6:23. As ons dus op ons eie verdienste probeer vertrou, kan die gevolge net sleg wees, omdat ons dikwels nog sonde doen. Dit is presies wat Moses hier verduidelik. Ongehoorsaamheid lei tot ellende. En ons is almal ongehoorsaam. Daarom was dit nodig vir Christus om te kom, om in ons plek gehoorsaam te wees en so ons skuld op Hom te neem. Die ewige lewe is net ’n genadegawe van God. Ons kan dit nie verdien nie, net in geloof ontvang as ons Christus in ons lewe innooi. Maar sonder Hom sal ons self die vloek van die sonde moet dra.

Deesdae steur min mense hulle aan God se heiligheid. Sonde het ’n grap geword. Dis iets om oor te lag. Oneerlikheid en ontrouheid is so algemeen dat mense nie eens meer skeef opkyk nie. Mense praat graag van God se liefde, asof Hy ons sonde ook liefhet, en asof ons sonde Hom nie pla nie. As jy só dink, kan jy gerus weer hierdie hoofstuk deurlees en kyk hoe ernstig God se Woord oor die wrange vrugte van sonde praat. Uiteindelik moet dit ons laat besef dat ons net uit genade gered kan word. Daarom het Jesus gekom.

GEBED: “Here, ek bely dat ek die grootste ellende verdien. Dankie vir u genade wat my onverdiend in Christus seën.”

Lees vanaand in Deuteronomium 28:25–46 van nog voorbeelde van wat verkeerde keuses meebring.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх