Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 60

Donderdag 23 Februarie

Оглавление

Lees Handelinge 1:1–8.

Getuies tot in die uithoeke

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).

“Christenskap is nie vir sissies nie,” was die tema toe ons by ons gemeentelike Bybelskool die boek Handelinge behandel het. En as jy kyk watter groot opdrag die Here Jesus vir sy groepie eenvoudige dissipels gehad het, dan verstom jy jou daaraan. Sonder geld, sonder viertrekvoertuie, luidsprekerstelsels, radio- en TV-senders en stralers het hulle binne ’n paar jaar meer reggekry as die meeste gelowiges vandag. Wat is hulle geheim?

Die geheim was sekerlik die krag van die Heilige Gees. Hy het hulle toegerus, nie net met die regte woorde nie, maar met ’n bonatuurlike krag wat hulle in staat gestel het om met groot vrymoedigheid die evangelie met ander te deel, al het dit dikwels hulle lewe gekos. Ons lees dat mense elke dag by die gemeente gevoeg is. Hoekom sien ons dan so min bekerings in ons gemeentes?

Is dit nie dalk dat ons te veel op ons tegnologie en kennis staat maak en te min op die Heilige Gees nie? As elke gelowige deur die Heilige Gees vervul is, sal die kerk weer eens ’n verskil kan maak. Maar dit gaan iets kos, soos vir die eerste gelowiges. Ons moet God se hartklop verstaan, en weet dat selfs die uithoeke ook deel van ons opdrag is. En om daar te kom, sal vra dat baie van ons heeltemal buite ons gemaksone sal moet beweeg. En ander sal gewillig moet wees om net soveel op te offer om die getuies te ondersteun. Elkeen van ons is ’n ganer of ’n stuurder. Of ’n ongehoorsame. Wat is jy?

GEBED: “Here Jesus, U het u lewe gegee vir die hele wêreld. Ek is gewillig om deel van u span te wees. Wys my waar ek inpas.”

Lees vanaand in Handelinge 1:9–11 waarom ons seker kan wees dat Jesus weer gaan kom. Ons moet gereed wees vir daardie dag.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх