Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 52

Donderdag 16 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 31:19–30.

Wie hou ons op die regte pad?

Ek weet julle sal na my dood julle ondergang soek deur te verontagsaam wat ek julle beveel het (Deut 31:29).

“Sedert Pa oorlede is, het ons hele familie sommer uitmekaargeval. Dit is asof sy gebede ons almal bymekaargehou en gedra het,” vertel ’n vriendin. Sommige van haar broers het geskei, en ander het openlik hulle ongeloof verklaar. Die een ding ná die ander het verkeerd geloop, en daar was groot ongelukkigheid. Miskien kan jy self ook van sulke ervarings getuig.

Moses het ook besef dat hy self die persoon was wat die volk op die pad van die Here gehou het. Noudat hulle die vryheid gaan hê om self te kies, gaan die meeste van hulle verkeerd kies. Hulle het nog nie ’n persoonlike verhouding met die lewende God gehad, soos Moses self, nie. Daarom sal hulle fondamente maklik wankel as die toetse kom. Moses het dus ’n lied gedig wat hulle gereeld moes sing. Dit sou hulle herinner aan die Here, sodat hulle sal weet dat hulle weer na Hom toe kan terugkom as hulle sien wat die gevolge van hulle dwaling is.

“Sondagoggende gaan ons as gesin almal saam kerk toe, maar Sondagaande kan julle self besluit of julle saam met ons wil gaan,” het ons aan ons kinders toegegee. Ons wou hulle die geleentheid gee om self reg te kies. En hulle het! (Met deesdae se Tekkiedienste is dit die kinders wat hulle ouers dwing om Sondagaande saam kerk toe te gaan!) Dit is nie maklik om ons kinders die vryheid te gee om foute te maak nie, maar dit is nodig dat hulle sal leer om self reg te kies. Ons moet hulle vir die lewe help voorberei.

GEBED: “Here, help ons om self elke dag reg te kies, en om ons kinders en kleinkinders ook daarmee te help.”

Lees vanaand in Deuteronomium 32:1–10 die eerste deel van die lied wat ons aan die Here se sorg moet herinner.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх