Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 62

Saterdag 25 Februarie

Оглавление

Lees Handelinge 2:1–4.

Toegerus vir getuienis

Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen (Hand 2:4).

“Ai, dit is darem jammer van daardie mense by Babel wat veroorsaak het dat ons vandag so baie verskillende tale op aarde praat. Dinge sou darem baie makliker gewees het as almal dieselfde taal gepraat het,” het ons vir mekaar gesê terwyl ons by die Taalskool met die ingewikkelde grammatika van Xhosa geworstel het. En hoekom gee die Here nie meer ander tale so maklik aan sy kinders soos op daardie eerste Pinksterdag nie?

Ek glo ons sal eendag in die ewigheid nog baie hieroor gesels, en dalk ook die antwoorde op hierdie vrae kry. Maar een ding is seker: Ons het vandag nog steeds die vrymoedigheid nodig wat net die Heilige Gees kan gee. Daardie eerste gemeente het geen geleerdheid gehad nie. Hulle was eenvoudige mense. Maar God kon hulle gebruik, want hulle was ten volle aan die Heilige Gees oorgegee. Kan dit wees dat die Here ook vandag vir jou en my wag om onsself ten volle en onvoorwaardelik aan die beheer van die Heilige Gees oor te gee, sodat Hy ons kan gebruik net waar en hoe Hy wil?

Die Bybel sê duidelik dat die Here ons nie net deur die bloed van Christus wil red nie, maar ons ook wil toerus met die krag van die Heilige Gees. Dit is nie net vir predikante en ander kerkleiers bedoel nie, maar vir elke gelowige. Slegs dít sal ons ’n gedugte span vir die Here kan maak. Kom ons bid daarvoor.

GEBED: “Here, gee ook aan ons die brandende begeerte om opnuut deur u Gees vervul te word. Rus ons toe vir ons taak.”

Lees vanaand in Handelinge 2:5–13 oor die hoor-wonder wat gebeur het, sodat almal tegelykertyd hulle moedertaal gehoor het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх